Eie stories

Elize Carstens van Kenridge, skryf:

 

My liefste Hollie

Dít waarin ons saam glo, saam op die Here vertrou, elke dag van ons lewens afhanklik is van Sy genade en liefde en trou, die respek en vertroue vir mekaar deurweef in ons lewens en harte … dít is vir my ons huweliksbelofte voor die Here.

Al die vele verrassings waarmee jy my bederf en oorlaai, die baie sms’e, soms ’n CD, of ’n briefie of ’n kaartjie met jou naam op. Wat ek die meeste in jou waardeer is die mooi in jou, jou geduld, jou glimlag wanneer by my sien en die “hallo” daarby is altyd dieselfde. As jy mondfluitjie speel en ek sien iets van jou siel op jou gelaat, dan speel jy ook met my siel. Al ons baie mooi oomblikke saam wat ons nader aan mekaar laat groei het … dít alles tesame is vir my, my bruidsruiker.

Die krag van jou liefde en teerheid in jou hart teenoor my, neem ek daagliks saam met my. Jou sterk arms van liefde en die krag van jou wese voer my heen op my lewensbaan, in elke tree moedig jy my aan en in elke tree sien ek jou liefde en sien ek jou hart. En jy word deel van my bestaan. So stap ek elke dag die pad. Jou aanmoediging om suksesvol te wees in wat ek ook al moet doen en jou onbeskryflike geduld, onderskraging en bemoediging as ek gefaal het … dít is my bruidskoene.

Toe ons ontmoet het, het jy dadelik geweet ek is vir jou. Ons liefde vir mekaar het daar begin en soos ’n troupand loop dit om en om … Mens se lewe is ook eendag bo en eendag onder, maar ons liefde gaan vir ewig om en om, sonder om te stop … ek en jy en jy en ek … Nou is dit jy en ek en ons kleinkinders. Ook in hulle gaan ons liefde om en om, vir ewig. Dít is my troupand.

Ons dierbare kinders elkeen uniek en besonders, en ook ons skoonkinders en ons viervoetige kinders. Almal spel vir ons plesier en liefde en kosbaarheid. Ons almal is net deur genade bymekaar. Dít is die blomme in my haretooisel.

Omdat ons saam deur die lewe geslyp is en ons al die spreekwoordelike sak sout opgeëet het en mekaar se lewens so goed ken, en noudat die kinders elkeen op sy eie lewenspad is met sy eie maat en lewe, voel ek soos ’n regte bruid omdat ons dinge wat vroeër verlore gegaan het, weer herontdek en waardeer met harte innig en vol liefde en teerheid en insig … inmekaar saamgesnoer as een. Dít is vir my meer as ’n wittebrood.

Die erkenning teenoor mekaar en die vertroue en respek wat ons koester, is in ons harte deurgeweef, en die drome om die pad saam te loop ongeag wat gebeur en net te fokus op die Here en Sy goedheid en seën, is vir my meer as genoeg. Dis die antwoord op gebed.

Dankie dat ons die lewenspad, gemeng met soet en suur en soms hemels, met mekaar kan deel. Op hierdie dag besef ek weer eens dié dinge is al die drome en wense wat ek as jong vrou in my hart gekoester het. Alles het waar geword. Ek vra niks meer nie. My beker loop oor. Ons het so baie om voor dankbaar te wees. Mag ons dit altyd onthou en dit as die grootste skatte in ons lewe koester. Die lewe saam met jou is soos my bruidskleed.

Jy is waarlik my geskenk, my trougeskenk. Alles soos híér neergeskryf … my juweliersware.

My dierbaarste liefste Hollie, jy is my beminde. Jy is die een wie ek liefhet en altyd sal liefhê. Jy is my bruidegom, alles in my lewe. Ek het jou waarlik lief. Hier kom ek nou weer na jou toe, getooi is my bruilofsklere. Ontvang my nou soos ek jou sal ontvang, in die naam van ons liewe Heer.

Vir ewig en altyd

Jou vrou

Hollie