Eie stories

Elize Louw van Kimberley, skryf:

Liefste Kobus

Als het begin in die middel van die winter van 2008. Ek was seer, verniel en alleen as gevolg van ’n lang ,sieklike verhouding. Eendag kom jy in my kantoor en vra “wil jy jou pa besoek? Ek ry môre soontoe”.

En ek neem die kans. In een rit verander my lewe. Die volgende week nooi ek jou vir koffie om my jaar van vryheid te vier. En siedaar, koffie verander in ’n glas soet wyn en alles verander … my lewe, my menswees.

Dis ses maande later. Jy kom elke aand vir my kuier. Niks staan in jou pad nie. Ek was intussen saam met jou na jou plaas in die Bosveld met die rooi beeste en ’n bul wat ’n mens aankyk asof jy van ’n ander planeet af kom. Lampe en kerse word saans aangesteek. Iets waarvan ’n vrou van die stad net kan droom. En ons kyk na die duisende sterre wat wink. Jy het my geleer wat dit is om gesoen te word. Dis beter as om aan ’n veselperske te smul. Jy leer my wat die lewe werklik is … hoe om vrou te wees op elke gebied.

Jy’t Kersfees vir my parfuum gegee. Dis die eerste keer dat ’n man dit vir my koop. Jy’t my Kersoggend saam met jou kerk toe geneem en my hand vasgehou. Wat ’n voorreg.

En ja, byna vergeet ek. Daardie eerste aand toe jy vir my kom kuier het, het jy rooi rose saamgebring. Ek koester die gebaar. Ek het die roosblare laat droog word en teen my klerekas gehang. Maar nou die aand het ek dit per ongeluk sat geloop. So, nuwes sal waardeer word!

Dankie, my mooi man, dat jy my kind soos jou eie aanvaar het. Jy is haar “hero”; eintlik is jy óns “hero”. Ons ken mekaar al jare deur die werk, en toe vra jy my om te trou. Ek gaan vir seker jou vrou word. Ek weet God het ons bymekaar gebring. Ek het Hom gevra en Hy het jou vir my gegee. Ek wil nooit weer alleen wees nie. Jy is my lewe, al maak jy my soms kwaad dat ek jou met ’n aartappel kan gooi! Jy is myne deur dik en dun.

Al is jy ouer as ek, sal niemand dit ooit kon raai nie. My getroue liefdevolle man, ek gaan jou skaamteloos liefkoos en met jou flankeer, glo my maar gewis. Aardse goed is nie belangrik nie, maar armsvol liefde wel.

Jou sagte lippe en strelende hande sal my nog teen die mure dryf, so versot is ek op jou. Ek wou nooit weer ’n man naby my hê nie, maar jy het gewen. Ek het jou baie lief. Pas jouself vir my op en mag ons pad met rooi rose en rooi beeste besaai word! Ek hoop die hitte van die Bosveld en Noord-Kaap bring ons nog nader aan mekaar. Mag ons respek vir mekaar bly behou en mekaar ruimte gee om dinge te doen. En mag ons mekaar dag en nag bystaan, ook in siekte en gesondheid.

En by dit alles, mag ek jou asseblief leer groente eet? Nie meer net rys, vleis en aartappels nie!  

Baie dankie vir jou onbaatsugtige  liefde.