Eie stories

Elizma Harmse van Port Elizabeth, skryf:

My Lief

Vir jou stuur ek nie vanaand ’n rooiborsduif met hierdie brief nie … Ook nie geel madeliefies, die maan of die sterre nie. Nie omdat ek nie al hierdie goed vir jou wíl gee nie, maar ander het dit reeds gedoen en vir jou moet ek iets unieks gee. Ek het lank gedink oor wat ek vir jou kan stuur met dié brief. Iets wat regtig vir jou sou kon sê hoe groot en diep en ewig my gevoel vir jou is.

Eers het ek gedink aan ’n klein akkedissie wat jou kan warm hou met sy songebakte lyfie in die dae as jy alleen sou voel, maar ’n akkedissie is te klein vir jou, my Gerhardus. Toe het ek gedink aan ’n wonderlike kat, maar katte kan so afsydig wees en ek wil hê dit wat ek vir jou stuur moet die storie van ons liefde vertel. Dit moenie net mooi en oulik wees nie. Ek het later gedink ek moet vir jou ’n visbak vol vissies gee. Toe’t ek onthou dat jy nie van ingehoktheid hou nie en dat jy ook aan ander altyd hul ruimte en eie ritme gun. Toe het ek geweet dit sal ook nie werk nie. Ek wil hê dat dit wat die brief vir jou saamvat, regtig ‘n teken van ons twee se unieke liefde is. Hoe dit stadig en statig en mooi gegroei het tot waar dit nou is – soos ’n branderplankryer wat baie kere geval het en oor moes begin voordat hy die volmaakte brander tot aan die kus kon ry.

Ek wil vir jou iets stuur wat vertel van die rustigheid waarmee jy in ons lewe gekom het en hoe jy ons tyd gegee het om heel te word ná al die baie seer wat in ons lewe was. Hoe jy ongevraag help dokter het aan seer tone, en planete en sonnestelsels vir skooltake gebou het. En dan ook weggegaan het as ek eers weer my voete moes vind omdat my balans so deurmekaar gegooi is deur die lewe.

My Liefste, vir jou wil ek iets gee wat kan getuig van die koersvastheid wat jy saam met jou gebring het, die kalmte en vrede wat jou omring.  Jy wat kan vredig bly, al het ek die onstuimigheid van die oseaan in my. Jy wat die stewige anker geword het vir my en die kinders. 

Watter diertjie kan die storie vertel van jou helderblou oë wat my ou hart weer aan die gang kon kry en my laat droom het oor jou lyf? Wat kan simbool wees van die besef dat daar iets soos getroue liefde is? Watter een het genoeg dimensie, maar kan ook wys hoe jy my weer geleer het om vreugde in die lewe te vind, te lag saam met die wind, te dans in die reën en met seestrome te ry.

Ek soek iets wat jou onversteurdheid het en as bewys kan dien van aanhou liefhê en bemin al is daar nou al rolletjies, dimpels en ander kontoere. Iets wat teken kan wees van hoe veilig en geborge ek in jou liefde is omdat ek net kan wéés en my nooit hoef te bekommer of ek goed genoeg vir jou is nie.

My allerliefste Gerrie, daarom stuur ek vir jou ’n reuse-seeskilpad met sy oerwysheid, sy koersvastheid, sy onversteurdheid. ’n Seeskilpad wat kan pret hê in die seestrome, kan duik en dryf en vrolike dinge doen, maar tog altyd dieselfde bly. Spesifiek ’n bedreigde spesie soos die groen seeskilpad omdat mans van jou kaliber regtig ’n bedreigde spesie geword het. 

Dankie ook dat jy soos hierdie groen seeskilpad nie jou kop intrek as jy bang word nie, maar moedig voortbeur sodat ons veilig in jou stroom kan volg wanneer dinge om ons moeilik raak.

My liefste, ek stuur dus vir jou ’n seeskilpad met ’n swetterjoel vrolike vissies om hom, met sy dop en al, omdat jy net die wonderlikste en beste verdien. En as die mense ons seeskilpad sien, sal hulle weet: moenie lol nie – hierdie twee gaan nog ’n baie lang pad saam swem.

Ek sê dankie vir die dop wat jy vir my aangetrek het – sodat ek weer kon lewe.

Met al my liefde

Elizma