love_letter_pers_orgidee
Eie stories

Elizna Erwee van Kimberley, skryf:

Liefste Kabouter

Jaco, my Lief, ek skryf hierdie brief omdat ek besef ons lewens het so vol en besig geraak met die koms van De Wet tien maande gelede. En met ons albei wat werk, kry ons maar min tyd om briewe te skryf. Wat nog te sê van briewe aan mekaar skryf!

Daarom het ek nou vir De Wet in die wiegie gesit, my fineliner gaan uithaal (jy weet mos ek skryf mooi fyn en netjies met die fineliner), terwyl jy by die rugby-oefening is. Ek het besluit dis nou of nooit …

Kan jy glo ons is vanjaar al tien jaar beste vriende, waarvan ons ses jaar getroud is? Die tyd het gevlieg! Ek onthou nog goed daardie diep intense kyke, waarmee ons albei geweet het ons wil ons lewe met mekaar deel, kinders kry, saam swaarkry en saam oud word.

Dis juis hieroor dat ek hierdie intense behoefte het om ’n slag vir jou ’n brief uit my hart te skryf. Dalk kom dit lomp en onlogies uit, dalk is dit omslagtig en onsamehangend, maar ten minste sal jy weet dit kom opreg uit my hart.

Ek wil ’n slag dankie sê vir die mens wat jy is, die Jaco wat soms vergeet nadat ek hom letterlik honderd keer aan iets moet herinner, die Jaco wat met vuil klere en hande by die huis instap, sy seuntjie optel en soen, en mý dan ’n soen op die mond gee en vra “liefie, hallo, hoe was jou dag”?

Ek wil dankie sê sommer net omdat jy jý is. Ek is so trots op wat jy die afgelope drie jaar met jou eie besigheid bereik het. Jy werk so ontsettend hard. Jaco, ek is so bevoorreg om jou as my man te hê. Ek raak sommer van voor af op jou verlief as jou blou oë straal wanneer jy met jou seun speel.

Dankie dat jy my liefhet, met al my “issues” en “hang-ups”. Dankie dat jy my mooi en spesiaal laat voel. Maar bowenal dankie dat ons ons hartsgeheime, vrese en ook toekomsdrome kan deel. Dis so ’n tipese sêding, maar jy is my beste vriend.

Dankie dat jy áltyd dáár is wanneer ek jou die nodigste het. Soms gaan dit maar raap en skraap met die finansies, en ons vroulike spesie stres tog so gou. Dan is jy daar om my te kalmeer en te laat glo alles sal ten goede uitwerk.

Dankie, Kabouter, dat ons ook saam kan groei met God in ons verhouding. Sonder mekaar is ons nie veel nie, maar sonder God is ons absoluut verlore.

Kabouter, jy is my álles. Jy vul my drome wanneer ons slaap.

Sterkte met die res van jou week, hoop jy kry genoeg werk in sodat jy nie te veel hoef te “worry” nie.

Jou Pikkewyntjie