sr0105inhoud
Eie stories

Elsa van Wyk van Kathu, skryf:

My Lief

Dit is die sewende van die sewende maand 1979. Dit was ons troudag, en op ons troukaartjie het die volgende woorde verskyn:

“Wat is die huwelik?

Dit is omgee en meedeel

Vergewe en gee

Liefde skenk en ontvang

Wandel hand aan hand

Sienswyse respekteer.

Dis saam lag

En saam ween

En bid

In wedersydse vertroue –

En gelowig.

Goddank vir ’n maat.”

Ek was maar 20 jaar oud. Het my universiteitsloopbaan kortgeknip om met jou te trou. Het jy dan nie vir my – met die bravade wat net aan die jeug behoort – vertel jy was van plan om in Julie met my trou nie? Maar as ek nie daar is nie, dan sal jy wraggies iemand anders kry om met jou te trou!  En ek? O, tog só vreeslik verlief, só doodseker dat jy die een is vir wie ek altyd gebid het. Ek los my studies net daar, kom huis toe om te kom trou. 

Dit is nou 30 jaar later – en vir 30 jaar is jy my beste maat. Dankie daarvoor. Dankie dat jy al vir 30 jaar my hand vashou, letterlik en figuurlik. Die mense het my altyd gespot by die werk; het gesê ek is die ”blinde” meisie,  want jy moet my altyd aan my hand lei. Dankie dat ek steeds “blind” kan wees, dat jy steeds my hand houvas.  Dankie dat jy my nog nooit alleen gelos het nie. Ek is sterk omdat jy my so onvoorwaardelik liefhet.

Dankie vir jou wonderlike verhouding met ons twee pragtige kinders. Sussa is al 21 jaar oud – en nog altyd jou “doggertjie”. Philley, ons eersgeborene, vandag al 24 jaar oud – nog steeds jou skaduwee. Hulle is ook sterk – omdat jy so lief is vir hulle.  Dankie dat jou voetspore hulle nooit op verkeerde paaie gelei het nie. Baie dankie dat jy elke liewe dag so goed is vir hulle (en vir my).  Ek onthou toe Philley klein was, en hy een keer by my in die kombuis kom vertel het:  “Mamma, ek weet Pappa is baie lief vir my.” En op my vraag oor hoe hy dit weet,  het hy geantwoord: “Ek het daar by Pappa in sy garage gekom waar hy werk.  En toe Pappa my sien,  het hy niks gesê nie. Hy het my net styf teen hom vasgedruk.” Ek onthou ook hoe hy jou altyd buitekant gehelp het, hoe jy die skroefies feitlik heeltemal uitgedraai het,  en dan moet hy kamstig verder losdraai,  en hoe hy dan vir jou sê:  “Pappa, ek help jou darem baie,  né Pappa?  Ek is darem sterk, né Pappa?” Hy dink vandag nog hy is so sterk en so slim, want jy het hom dit altyd laat glo. 

Ek onthou jou groot, sterk hande as jy ons babadogtertjie opgetel en vertroetel het. Ek onthou die knop wat ek altyd in my keel gekry het:  my groot sterk man, wat so saggies met ons “doggertjie” kon werk. Jy was altyd haar held, en jy is dit steeds. Ek onthou jou trane met haar matriek-uitslae. Ek weet hoe lief jy vir haar is, hoe trots jy op haar is. Ek herinner my aan haar eerste universiteitsbal. Ons het vir haar geld gestuur vir ’n nuwe rokkie. Ek vra ’n foto van haar; wou so graag sien hoe sy gelyk het. Sy stuur vir my ’n foto van haar en haar vriend.  Ek stuur die foto vir jou aan,  met die woorde: “Skat,  kyk onse mooie meisiekind.”  Jy e-pos my dadelik terug: “Wie is die vroueslaner wat daar langs haar sit?!”  Ai,  ’n Pappa en sy meisiekind – daar is net een van daai soort!
Baie dankie dat jy my al vir 30 jaar laat lag – uit my maag uit laat lag – elke dag! Ek is so lief vir jou. Dankie dat jy van elke gewone gebeurtenis ’n feesgeleentheid maak. Voorwaar, die lewe is ’n lied saam met jou!

Ek hoop ons word saam baie oud. Ek hoop daar is vir ons ten minste nog 30 jaar oor.   Vir die wêreld is jy my man. Vir my is jy die wêreld.

Ek het jou baie lief.

Snip