elsje_4_
Eie stories

Ryk se suster, Elsje Blair: “Almal het my dood voorspel’

“Dis die patroon van my lewe: Net wanneer ek begin gewoond raak aan die salige stilte, vrede, goeie gesondheid en geluk, daag vrees op, kom hy in sonder om te klop en vreet hy my yskas leeg . . .”

Elsje Blair praat van die kankergewas in haar laerug, wat vanjaar vir die  soveelste keer kop uitgesteek het. Elsje is ’n Volksblad-joernalis en die swemmer Ryk Neethling se suster.

Ná ’n groot operasie onlangs loop sy nou mank. Sy word ook gou moeg en het dikwels pyn. ’n MRI-skandering binnekort sal wys of die gewas weg is …

Hoewel joernalistiek Elsje se eerste passie is, kan sy nie nou voltyds op kantoor werk nie. Maar dis duidelik dat niks hierdie sprankelende vrou onderkry nie. Want al is sy siek, skryf sy ’n boek oor haar stryd en maak sy steeds pragtige krale. Haar onderneming, HIP*E (uitgespreek “hippie”), floreer.

Haar kliënte is gaande oor haar skeppings, en een het (anoniem) op haar webwerf geskryf: “Wanneer ek jou krale dra, voel dit asof ek ’n bietjie hoop en baie van jou krag saam met my dra.”

Elsje het op die naam HIP*E besluit omdat hip byderwets beteken. Die “E” verwys na haar voorletter. “Ek is mos ook ’n drama queen met ’n hippie-siel!” verduidelik sy. En voeg later by: “My krale wys juis watter prag daar uit die donkerste tye kom. ’n Mens moet net die silwer randjie soek.”

 

Elsje vertel

Ek is op 13 met ’n breingewas, choroid plexus carcinoma, gediagnoseer. Minnavorsing was hieroor gedoen en dokters wou nie opereer nie. Hulle het vir my ouers gesê ek het drie maande oor om te leef. Maar hier is ek nog op 29!

Die dag ná die diagnose is ons Johannesburg toe vir ’n tweede opinie van dr. Mauritz van der Heever, die neurochirurg wat my lewe al ses keer gered het. Hy het besluit om wél te opereer.

Ek het toe pas vir die Vrystaatse swemspan gekwalifiseer en was bitter teleurgesteld dat ek nie die toer Kaap toe sou kon meemaak nie. Dood of verlamming of blind word, was nie in my kindergedagtes nie. Ek wou net weer normaal wees en skool toe gaan.

 

Dood of verlamming of blind word, was nie in my kindergedagtes nie.”

 

Ek het geglo alles sal oukei wees. Al het my gesin probeer sterk wees voor my, het ek geweet hulle huil almal en loop met krom skouers. Rykie het ook gehuil en sy frustrasies in die swembad uitgehaal.

My eerste bestralingsessie was op my ma se verjaardag (24 November) daardie jaar. Dié sessies was uitmergelend. En tog het ek elke dag ná bestraling gaan swem. Ek was bang ek word vet!

Intussen het ek kunsklasse geneem en wanneer ek sterker gevoel het skool toe gegaan met ’n bandana om my kaal kop. Weens die tot 20 kortisoonpille per dag was ek opgeswel. ’n Outjie het my eendag ’n seerower genoem . . .

Uiteindelik het ek drie breinoperasies gehad, want die gewas het sy verskyningbly maak. Dokters het aanvanklik gesê ek gaan blind wees, wat toe nie gebeur het nie. Ek het wel tonnelvisie in my linkeroog oorgehou en ek loop nog gereeld in goed vas.

Ek kon natuurlik verdere operasies weier, maar dit sou nie regverdig teenoor my en God en almal wees om die een kans wat ek het, te laat gaan nie. In so ’nsituasie oorleef jy nie omdat jy sterk of dapper of verhewe is bo ander nie, maar omdat jy nie ’n keuse het nie.

My ouers het álles vir my gedoen.

Toe ek voor my breingewas-diagnose op 13 skeel en tydelik verlam was, het my pa, ook Ryk, my motor toe en weer tot by die hospitaal gedra. Hy is my hero, ’n gentle giant wat alles vir ons doen en nooit iets terugvra nie. Dit het gevoel asof my ouers my hoog bo al die drama en probleme uitlig. Hulle haal saam met my asem, hulle kry saam met my seer, net baie seerder …

Hierna was ek 11 jaar lank blakend gesond. Ná skool het ek in Maine, Amerika, as lewensredder en swemafrigter gaan werk en toe aan die Universiteit van Noordwes op Potchefstroom joernalistiek met kuns gaan studeer. Daar het ek die liefde van my lewe, Bruce Blair, ontmoet. Maar in 2007, drie maande voor ons troue, is ek met kanker van die laerug, cauda equina ependymoma, gediagnoseer.

My ma, San-Marie, het die aand ná die diagnose saam met my gedeurnag. Sy moes sterk wees. Sy het my rug gevryf, koffie aangedra en oor die lewe gesels. Dit het vir my ontsettend baie beteken en ek wil net sê: ‘Dankie, Mamma.’

Die neurochirurg het gesê verlamming is ’n moontlikheid omdat hy moes opereer waar daar baie senuweebane is. Waar die meeste verloofdes oor servetringe en troufoto’s stres, was ek bekommerd dat ek nooit weer sou kon loop nie. My ouers het vir Bruce gesê hulle sal hom nie kwalik neem as hy die troue wil uitstel nie. Imagine hy moet sy bruid oral in ’n rolstoel stoot, het ek gedink . . .

Maar hy wou trou, rolstoel of nie. My ma vertel dat Bruce tydens my operasie buitetoe geloop en gehuil het. Maar toe dokters sê die gewas lyk erger as wat hulle gedink het, het hy ewe moedig vir my gesê: ‘Elsje, it doesn’t look that great, but you’re in good hands and we’re going to try our best to fight this thing. It’s like running hurdles, baby.’ Geen ander man sal my so goed ondersteun nie.

Ek is toe nie verlam nie en ons is op 1 September 2007 getroud. ’n Jaar daarna was ek skielik weer baie moeg. Ek het rugpyn en blaasprobleme gehad en kon nie lekker loop nie. Die gewas was terug. Ná nog ’n operasie is my ruggraat ses weke lank bestraal.

In Januarie vanjaar was dit weer sulke tyd. Ek en Rykie het saam gehuil. Hy het gesê hy is baie lief vir my en dat ek meer kan hanteer as wat ek besef. Hy het ook ’n sterk veggees. Mense het destyds sy droom om ’n Olimpiese medalje te wen weggelag, maar hy het gefokus en dit in 2005 gekry. Sy lewensreis tot roem is simbolies van myne. Ek moes net fokus om te leef, al het almal my dood voorspel.

 

Ek en Rykie het saam gehuil.”

 

Rykie sê weer ek inspireer hom. Wanneer hy motivering kortkom, dink hy net aan my wat met ’n Checkerssak oor my kaal kop gaan swem het. (My kop mag nie nat geword het nie.)

Ons sussie, Jean-Marie, is nege jaar ná my gebore. (Sy het ons land op 15 by die Statebondspele in Melbourne, Australië, verteenwoordig en is steeds in die senior nasionale swemspan.)

Min wetend dat die feetjiekind my steunpilaar sou word. Sy is vandag my beste pêl en ’n treat. Ons doen alles saam en lag baie. Ek kry haar net jammer dat my siekte haar van jongs af aan die dood blootgestel het. Sy is nou baie volwasse.

Ek is met siekverlof tuis en kry geen behandeling nie. Bestraling sal my rug te veel skade doen. Die soort kanker is ook bestand teen chemoterapie. Gelukkig kan dié soort gewas glo nie na ander liggaamsdele versprei nie.

Al is joernalistiek my eerste liefde konsentreer ek nou eers op gesond word. Ek kry byna weekliks nierpypinfeksie oor my permanente kateter.

Bedags slaap ek baie en ek is nog maar swak. Ek het die gevoel in my sitvlak en agterkant van my bobene verloor en loop daarom mank. As ek sit, het ek baie pyn. Ek kan ook nie lank staan nie. Intussen floreer my onderneming*.

My skoonma, Magdalene, het my in 2008 in die hospitaal leer krale maak. Die verpleegsters en hul vriende het my skeppings begin koop en só het HIP*E ontstaan. Die geld wat ek maak, help betaal my mediese rekeninge.

Ek skryf ook ’n boek oor my stryd, ek verf, lees en is mal oor reis. In September wil ek weer swem. [Elsje het deur dit alles agt jaar agtereenvolgens Vrystaat-kleure vir swem gekry en ook provinsiale kleure in waterpolo.]

 

 Ek skryf ook ’n boek oor my stryd, ek verf, lees en is mal oor reis.”

 

Dis belangrik om nederig te bly. Die wêreld skuld my niks. As jy met ’n houding rondloop van ‘ek het kanker, kry my jammer’, sal jy nie ver kom nie.

’n Mens word nie met kanker gestraf nie. Ek kla ook nie oor pyn nie, want ek glo as jy iets hardop sê, maak jy dit erger. Die beste ding van pyn is dat jy weet jy’s nie dood nie!

Ek hét al baie aan die dood gedink. Soos voor operasies. Dan sien ek my donker kant en dis scary. ’n Mens kom van aangesig tot aangesig met jou demone en vrese. Ek besef ook ek moet dit face, want die tyd is dalk min. Ek is bang vir die dood, ja, maar dis ongelooflik hoe rustig ek raak as ek vol pyn en kanker in die hospital lê. Dan is God die naaste aan my en ek aan Hom. Ek het al ná operasies bygekom met net vae gesigte en sagte stemme om my. Dan voel dit asof ek klaar dood is. Ek is dan sonder pyn en glad nie bang nie. Sulke tye het ek al  hardop gesê: ‘Liewe Jesus, ek is oukei daarmee as U my nou wil vat. Laat U wil geskied.’

Kanker het my geleer om ander se pyn makliker aan te voel en om hul lewe aan te raak. Ek pak ook uitdagings met soveel meer passie aan, want ek weet hoe dit voel om te hoor daar sal nooit meer geleenthede wees nie.

Ek raak opgewonde oor klein dingetjies. Soos my eerste koppie oggendkoffie, om met ons St. Bernardhondjie, Sussie, te speel, om dié mense wat ek liefhet met geskenkies te bederf.

Ek sien ook uit na my broer se kuiers in Bloemfontein en die biltong wat my pa saans bring. Ek geniet dit om elke dag my mooiste krale en skoene en klere te dra, al lyk ek dikwels soos ’n Krismisboom! Ek bêre niks, want elke dag is vir my spesiaal.

Aan ander kankerlyers wil ek net sê:

“Daar is altyd hoop. Ek het drie maande gehad om te leef, maar hier is ek op 29! Vir ewig geskend, maar met ’n spirit wat sweef.”

 
Jean-Marie,Ryk en Elsje (regs)

Jean-Marie,

Ryk en Elsje (regs)

  • Suzanne Matthews

    Elsje

    Nadat ek jou verhaal hierbo gelees het moet ek bieg: "hoe durf ek weer kla". Jy het my nou soveel inspirasie gegee dat ek skaam is oor my soms moedeloosheid.

    Soms is ek ook maar "down" met ‘n blankende gesonde liggaam. My ouderdom is hoog maar ek dank ons Hemelse Vader dat ek vandag nog kan werk en ‘n bydrae kan lewer.

    Ek glo Elsje jy is ‘n inspirasie vir almal van ons ongeag ons ouderdom.

    Ek kan ook nie wag om jou outobiografie te lees nie. Ongelukkig gebeur die bekendstelling van jou boek eers in Oktober. Intussen wil ons jou net vrede en vreugde toewens. Mag jou getuie van krag tot krag gaan.

    Liefde vir jou

    Tannie Suzanne Matthews

  • Monica vd Merwe

    Elsje, ek het gisteraand jou boek klaar gelees. Jy is merkwaardig en beslis ‘n inspirasie vir my. Ek bid jou krag en genade toe vir die pad vorentoe. Liefde Monica