Eie stories

Elsje Prinsloo van Newcastle, skryf:

My Geliefde

EK ONTHOU die dag toe ons ontmoet het soos gister!  Jy was te uitsonderlik om te vergeet!  ’n Ware, opregte en lojale vriend teenoor almal wat jou pad gekruis het!

EK ONTHOU hoe jy daar was vir my in een van die hartseerste tye van my lewe.  Hoe jy my gehelp het om weer te lag, en die son weer te sien skyn ná my geliefde maat my ontval het. 

EK ONTHOU hoe ons vriendskap gegroei het, hoe ons onlosmaaklik aan mekaar verbind geraak het, ons vriendskap geblom het tot die mooiste verbintenis ooit!

EK ONTHOU Valentynsdag, omdat dit ons spesiale dag is! Vandag, 27 jaar gelede, het ons op ’n Sondagaand tydens die erediens, trou aan mekaar beloof. Louisa, my geliefde vriendin, sing “Die Onse Vader” en jy hou my hande so styf vas dat ons nie vir die gemeente nie, maar vir mekaar kyk! Die gevolg  … jy bring trane in my oë én in al die vroue s’n!

EK ONTHOU die eerste geskenk wat jy vir my gegee het. Ek koester na al die jare nog steeds die botteljie “Madame R”  waarin nog net ‘n paar druppeltjies parfuum oor is.  Ek ruik slegs af en toe daaraan en beleef dié spesiale dag asof dit gister was!

EK ONTHOU al die heerlike vakansies. Ons was nooit oorsee nie, maar ons het ons eie geliefde land deurkruis! Onthou jy toe ons op pad was na die Augrabies-watervalle. Die heerlikste Latyns-Amerikaanse musiek oor die radio het ons daar en dan laat stop. Ons het gedans dat die stof so staan in die middel van nêrens tot groot vermaak van die verbygaande motoriste! Onthou jy toe ons in Bredasdorp oornag het en die kamermeisie, net voor ons vertrek die volgende oggend, met “mevrou se dingetjie” wat in die kamer agtergebly het, aangehardloop gekom het! Ek hoor nog jou lekker lag toe ek die pakkie oopmaak en baie verleë my stukkie onderklere daar uithaal!

EK BELEEF soveel mooi drome wat saam met jou waar geword het!

EK WEET daar is een ding in my lewe wat konstant bly en dis JY!

DANKIE vir jou ondersteuning. Dit het my hoogtes laat bereik wat ek nie gedink het moontlik is nie!

DANKIE dat jy ook vir my twee seuns ’n wonderlike pa is! Vir my kleinkinders is jy die enigste oupa wat hulle ooit sal ken!

DANKIE dat jy, jou kinders en later die kleinkinders ook deel van my lewe geword het!  ’n Wonderlike, verrykende ervaring! Hulle is elkeen baie spesiaal vir my! 

As ek dink hoeveel ons saam geniet, as ek dink hoe gelukkig ek is, as ek ooit weer my hart verloor… dan kies ek jou van vooraf oor!

Mag jy vorentoe steeds die onbegryplike groot liefde van ons Hemelse Vader ondervind en sy vrede deel van jou lewe bly.

Vir die viering van ons liefde stuur ek vir jou: “ ’n Kleipot vol klippies om jou voete op die Rots te hou, ’n stukkie spieël sodat jy  kan sien hoe uniek jy is, ’n sakkie met woorde wat vir jou sê hoe spesiaal jy is, skulpies om jou te laat dink aan die aand op die strand toe jy my gevra het om joune te wees, en ’n botteltjie seewater om jou te herinner dat die siel hoog- en laaggety moet ervaar om vervuld te wees!”

Om dankie te sê vir die jaar wat verby is, plant ek vandag vir jou ’n Acacia xanthophloea!  Dit word ook koorsboom genoem en is baie gewild vir sy lemmetjiegroen stam, wat my altyd laat dink aan die lente, net soos ons liefde!

Mag ons met die gloed van elke sonsondergang en elke krieke- en paddakoor mekaar steeds bly bekoor!

Jou geliefde E