Eie stories

Elzabé Nel van Rosebank, is ’n weduwee. Sy skryf:

My liefling Ribbekas

Nog ’n Valentynsdag vol harte, vreugde en geluk! Dankie vir die bosse magrietjies se geel sonlag-gesiggies wat liefde uitstraal voor my kamervenster. Die blink dou-traantjies op die fyn blaartjies herinner my aan die wonderlike jy. Jou liefde het my soos ’n warm donskombers omvou, en troos en beskerming teen die koud van die lewe gebied.

Ek onthou die vonkel in jou oë as jy my soggens wakker gesoen het. Die lagplooitjies, jou deurmekaar kuif. Die lekker om te weet ek is jou vrou.  Ek deel my menswees, vrouwees met jou.  Dankie vir al die onverwagse soentjies, die drukkies wat my vertel het hoe lief jy my het.

Ribbekas, jou stem is stil. Vir ses jaar huil my hart – dis stukkend en rou. Maar my lewe bly gevul met die wonderlikste herinneringe aan ’n ongelooflike mens, sielsmaat en my beste vriend. Agttien jaar van getroude lewe voel nou soos ‘n droom, maar dit was so vervullend dat dit nog steeds genoeg is.

Wat my staande hou, is jou liefde en die wonderlike herinneringe aan ons tyd saam. Slaap rustig, my lief, tot ons mekaar weer ontmoet en vir ewig saam sal wees. En al kan ek jou nie vanjaar bederf soos vroeër nie, sal ek spesiaal ’n roosknop vir jou pluk.  Ek sal dit langs jou foto plaas, jou brandweerhelm blink vryf en jou in my hart voel. Ek sal nie huil nie – ek sal jou jý-wees celebrate en met vreugde lag, want jy het my leer lééf.

Jou eie Sproetjies