sr0905selfhoof11
Eie stories

Enkelma maar nie alleen

Die beste vir jou kind

Vryskut-joernalis Ilza Roggeband van Melkbosstrand buite Kaapstad was 39 toe sy onbepland swanger geraak het. nie sy of haar vriend, Skalk Steyn, het ooit oorweeg om te trou nie. hy is baie betrokke by hul seun, Zac (6), en woon naby hulle.

Uitdaging
“Baie mense het al vir my gesê hulle haal hul hoed vir my af.Maar ek het van niks beter geweet nie, ek ken nie die alternatief nie. Zac is Woensdag gebore, Saterdag is ons huis toe, my ma was ‘n week by ons en van toe af is ek op my eie. Ek het net van die begin af gecope – al was ek onkundig! Die Here was goed vir my, Zac is ‘n maklike, gemoedelike kind.”

Só het ons begin
“Ek en Skalk het besluit die belangrikste is om die beste moontlik vir ons kind te doen. Ons het reggekry wat baie mense graag sal wil. Dit was ‘n wilsbesluit: Ons wil goeie ouers wees, ongeag ons omstandighede. Ouers raak dikwels vir mekaar kwaad en die kind ly daaronder. Ons raak ook kwaad, natuurlik, maar ek sal nooit sleg praat van Skalk voor Zac nie, en ek weet Skalk sal ook nie van my nie.”

Struikelblokke
“Zac is ‘n regte seuntjie, hy hou van motorfietse en karre. Dan wonder ek soms: Sou dit nie vir hom lekker gewees het om ‘n pa te hê met wie hy heeltyd daaroor kon gesels nie?
Maar alle tekens dui daarop dat hy ‘n gebalanseerde kind is. Hy vra so nou en dan vrae wat my onkant betrap, soos of ons nie by Pappa se huis kan bly nie, maar ek hanteer die vrae soos hulle kom, en hy aanvaar dit. Ek is seker daar gaan nog moeiliker vrae kom, maar ek vat dit dag vir dag.”

Nuwe man
“Vandat Zac gebore is, was daar nog nie ‘n man in my lewe nie. Ek soek nie juis nie. As dit moet gebeur, moet dit gebeur – en hy sal by my seun moet verbykom. Ek is een van drie susters en ons is pal manloos, dalk omdat my pa ons so onafhanklik grootgemaak het. Ek het nie ‘n pa vir my kind nodig nie, want hy hét ‘n goeie pa, en ek het nie sekuriteit nodig nie.Die man wat in my lewe kom, sal dit moet beter maak as wat dit is – ek het ‘n baie bevoorregte lewe.”

Wat ek nou weet

  • As jy besluit om ‘n enkelma te word, doen dit om die regte redes. Ek het dadelik geweet ek wil Zac hê. Dis reeds moeilik om kinders te hê, wat nog te sê as jy nie regtig kans sien vir een nie.
  • ‘n Goeie ondersteuningsnetwerk help: my wonderlike kinderhulp, oumas en oupas en vriende wat altyd bereid is om te help en in te staan.
  • Moenie bang wees om raad en hulp te vra by ander enkelma’s nie.
  • Werk deur jou probleme met jou kind se pa – jou kind se welstand moet altyd die belangrikste wees.
  • Lewe binne jou vermoëns. Moenie probeer byhou by gesinne met twee salarisse nie. ‘n kind het liefde baie meer nodig as ‘n nuwe Playstation.
 

Lig jou kop en gaan aan


Wilma Roberts van Witbank is geskei van haar man, Llewellyn, toe hul dogtertjie, Donnalee, 2 jaar oud was. Llewellyn het ‘n paar jaar later na Amerika verhuis. Donnalee (24), wat Annelie speel in 7de Laan, beskryf Wilma as “die beste ma en sakevrou, iemand wat my geleer het geen droom is te groot nie”.

Grootste struikelblok
“Finansies. Ek het ‘n boetiek gehad, maar ek het besef ‘n vaste pos sou beter wees en het by De Beers op Cullinan gaan werk. Intussen het die kopers vir my boetiek onttrek en my met ‘n klomp skuld gelaat. Dit het broekskeur gegaan. Dit was taai jare in ‘n oorwegend manswêreld en ek moes baie rondry om kursusse aan te bied. Maar ek stuit nie vir uitdagings nie. Later het ek my eie personeel-onderneming begin. Dit het eers gesukkel. Ek moes selfs een winter by die skool klere vra vir Donnalee. Ons spot nou nog sy eet nie margarien nie, want ons kon dit nie bekostig nie. Jy leer vasbyt. Dit het ons sterker mense gemaak.”

Só is ek daardeur
“Soms was ek bekommerd, maar al het ons geraap en geskraap, het ons altyd iets op die tafel gehad. Donnalee is ‘n baie positiewe kind. Sy sou sê: ‘Ma, Liewe Jesus sal nie iets oor ons pad laat kom sonder dat Hy ‘n doel daarmee het nie.’ Daardie woorde sal my altyd bybly. Dit gaan dalk sleg,maar dit sal weer goed gaan. Ek glo: Lig jou kop en gaan aan.”

Bonusse
“Ek en Donnalee is vriendinne, ons het ‘n wonderlike verhouding en ons deel baie. Sy was van dag een ‘n nuwe lig in my lewe. Haar boetie is op vyf en ‘n half maande oorlede – dis hoekom ek en Llewellyn geskei is. Dit het ons uitmekaar gedryf. Die seer oor ‘n kind gaan nooit weg nie, maar ons is op goeie voet uitmekaar. Hy bly deel van haar lewe, al woon hy oorsee. Sy vrou is ook baie goed vir Donnalee.”

Nadele
“Dit het my gepla dat ek soms weg was van die huis, en as broodwinner kon ek nie al haar skooldinge bywoon nie. Gelukkig kon my ma en skoonma help. En van graad tien af het ek reeds die leënes-sindroom gekry . . . oor dit wat voorlê! Ek was gewoond aan ‘n huis vol kinders, Donnalee is ‘n mense-mens.Toe sy gaan swot, sou ek sommer die uur van Witbank Pretoria toe ry om te gaan nag sê.Dit het my gevang om stoksielalleen te wees. Dis tóé dat ek my huis in ‘n gastehuis omskep het. Aanvanklik het ek vier kamers gehad, nou het ek al dertig. Ek het ook ‘n nuwe apie-dogtertjie, Pixie- dis pajamadril van voor af!”

Wat ek nou weet

  • Moet nooit dink die lewe is te swaar nie. Die son skyn weer, maak nie saak wat gebeur nie. Jy kan baie leer by jou kinders.
  • Donnalee het soveel liefde en deernis vir mense. ek dink nie daar’s nog ‘n kind wat kan bid soos sy nie! (ons moet haar ompraat om nie voor ete te bid nie, want dan raak die kos koud…)
  • Lag saam. Miskien het ek ‘n effense galge-humorsin, maar dit help in moeilike tye.
  • Fokus op die goeie, die vreugdes van enkelma-wees. Jy het meer gehaltetyd met jou kinders, daar’s geen verdeelde aandag nie.
  • Skei hoef nie die einde van die wêreld te beteken nie – dis ‘n heel nuwe lewe, jy moet net die regte benadering hê.
  • ‘n Goeie verhouding met jou eks is noodsaaklik vir jou kinders se geluk.
  • Ek is trots op hoe my kind ontwikkel het, maar dis nie omdat ek iets reg gedoen het nie. Sy was altyd besonders.

Ontdek jou eie krag en potensiaal

Ilette (middel) en haar 5 dogters, (van links) Juanita,
Annemie, Aletia, Wilma en Simoné.
Ilette en haar seun, Gideon

In Augustus 2006 is Gideon Lourens, ‘n boukontrakteur van George in die Suid-Kaap, op 48 uit die bloute met kanker gediagnoseer. Hy is binne ‘n maand oorlede. Met die uitstap by die hospitaal het die “harde, koue gedagte” sy vrou, Ilette Lourens, (toe 43) getref: “Ek is ‘n weduwee.” Sy het 6 kinders, Aletia (24), Wilma (23), annemie (21), Gideon (17), Juanita (13) en simoné (11) – destyds tussen 9 en 22.

Aanpassings
“Ek moes my smart eers diep bêre. Die finansiële implikasies was geweldig, en al die praktiese goed . . . Ek moes summier sy kantore ontruim (die swaarste swaar) om huurgeld te vermy, en sy twee besighede sluit. Ek het nooit vantevore gewerk nie. Ek het dadelik begin werk soek – eers vir drie maande by ‘n deli en later by ‘n begrafnisonderneming, waar ek nou heeltyds is.”

Emosionele pad
“Sowat elf maande ná Gideon se dood het ek op ‘n dag net begin huil. Die rouproses het begin. Die alleenheid was ‘n groot struikelblok. Hy was my groot liefde, ons was 27 jaar saam. Ons het elke dag se dinge deurgesels en bespreek, maar hy het altyd die finale besluite geneem. Nou moes ek leer om alleen te besluit – met die risiko’s en die verantwoordelikheid daarmee saam. Ek het emosioneel baie gegroei, en ek besef ál meer hy is nie meer daar nie.”

Kinders
“My kinders is my alles, hulle hou my aan die gang.My oudste drie dogters werk al en kom help baie met die jongeres. Al my kinders is spesiaal en dra elkeen op hul besondere manier by.My pragtige kleindogter,Nicole, verryk ook my lewe. Ek maak saans en naweke tyd vir almal, ook een-een. “My man het my skoonsussie gevra of sy en haar man ‘n ogie sal hou oor Gideon, want hy het ‘n man in sy lewe nodig.Hy het eers by hulle gaan kuier, en verlede jaar by hulle gaan woon.Dit was vir my ‘n groot aanpassing,maar dis werklik beter vir hom. Hy is in Hoërskool Overberg en presteer in sport en akademie.

“Begin vanjaar kon ek vir die eerste keer vakansie neem, en toe tref dit my: Ons eerste vakansie en ons is nie ‘n volledige gesin nie. Annemie het verlof geneem en toe maak ons die pad na Gideon ‘n hele road trip met Juanita en Simoné.”

Ligpunte
“Soms rus al die verantwoordelikhede swaar op my as broodwinner ,maar dan besef ek: Sonder my kinders het ek dalk nie die motivering gehad om aan te gaan nie.Daar is in elkeen van hulle iets van hul pa. Dis kosbaar. Vriende en familie speel ‘n groot rol in ons lewens. Ek het ook al baie oorwinnings behaal. Ek was altyd bang vir vlieg,maar verlede jaar moes ek dit vir my werk doen, en dit  was wonderlik. Die alleenheid raak minder, soos die naweek toe ek heel op my eie DVD’s gekyk het en besef het dit was eintlik lekker.”

Wat ek nou weet

  • Wat ook al gebeur, die Here is daar. Hy dra my deur.
  • As jy jou man verloor: Gee tyd. Jy kan nie verwag om ná twee of drie maande reg te voel nie. Elkeen verwerk dinge op sy manier. Ontgin dít wat jou motiveer. Musiek en die natuur is balsem vir my siel. Ek ruim tyd in om soms alleen te wees.
  • ‘n Ondersteuningsnetwerk is onvervangbaar. Jy weet gou wie is opregte vriende. Party verdwyn mettertyd, ander bly.
  • Dis sleg om te dink jy gaan alleen oud word. Daar is niemand in my lewe nie, maar miskien sal ek tog eendag weer – versigtig – iemand toelaat.
  • Ek het myself verras met my eie krag en potensiaal in my ontdek waarvan ek onbewus was. Ek was maar afhanklik van Gideon – nou doen ek dinge wat ek gedink het nooit moontlik sou wees nie.
  • Alles gebeur met ‘n doel, maar hierdie een verstaan ek nie. Ek het geleer om nie te vra hoekom nie. Ek gaan eerder vorentoe. Nou beplan ek vir die toekoms.