sr1003survivor_7_
Eie stories

Erg, erger Survivor

 

Dis alles net vir die show op M-Net. Die sogenaamde honger wat aan hulle knaag as hulle die dag nie iets kon vang om te eet nie, die ongenaakbare son wat hul vel flenters brand en die onheilspellende nagte wat hulle sonder skuiling in die wildernis deurbring, met die wind wat loei en die reën wat neerslaan.

Daar’s mos nie ’n manier dat die deelnemers aan Survivor, almal van hulle boonop celebs, só kan ly nie?

Dink weer.

Op dag 16 (uit 27) van Survivor SA is SARIE op die Mosambiekse eiland Santa Carolina – ook bekend as Paradise Island – waar die deelnemers aan dié gewilde werklikheidsreeks reeds deur ’n hittegolf getref is, én ’n donderstorm só erg dat die TV-span gedink het dis ’n orkaan.

Die 12 bekendes wat tot nou op die eiland kon oorleef, kom in die verte op die strand aangestap. Hulle lyk uitgeput en sonverbrand. Dis weer tyd vir ’n beloning-uitdaging. Vandag se beloning is komberse, kussings en muskietnette.

Agter die kameras is dit ’n warboel. Sowat 120 mense, wat fotograwe, TV-tegnici en medici insluit, is betrokke by die produksie. Ná ’n ruk raak hierdie gegons vir die deelnemers so bekend dat hulle nie meer daarvan bewus is nie, vertel Lani Lombard, M-Net se publisiteitsbestuurder, terwyl ons skuiling soek teen die warm son, liters water afsluk en die sweet afvee.

Lani was van die begin af by al die Suid-Afrikaanse Survivor-reekse betrokke. Sy’s ook die een wat deelnemers debrief met die leiding van ’n sielkundige sodra hulle uit enige van M-Net se werklikheidsreekse – van Big Brother tot Idols en Survivor – gestem word.

Die “oorlewendes” wat nou 20 m voor ons regstaan om te begin het dae laas ordentlik geëet. Hul energievlakke is laag en hul lus vir kos oorweldigend. Trouens, niemand in die produksiespan mag tydens die uitdaging op die strand enigiets eet nie, want die deelnemers is teen dié tyd so honger dat hulle kos op ’n afstand kan ruik en ’n plan sal maak om kos te steel.

Louw VenterWeens die min slaap en kos sukkel party om hul emosies te beheer. Ek sien hoe die komediant Louw Venter (van Corné en Twakkie-faam) sy stem dik maak vóór die uitdaging omdat hy dink sy stam het ’n vorige beloning-uitdaging onregverdig verloor. Naderhand skreeu hy en weier om te aanvaar die besluit in die ander stam se guns gaan nie verander nie.

Lani vertel dis tipies wat in dié stadium van die reeks gebeur: Louw is sy stam se alfa-man. Hy voel bedreig en sal nou enigiets doen om sy stam se belange te beskerm en sy waarde te wys.

Dis mos nie nodig om so ernstig te wees nie, dink ek. Dis net ’n speletjie. Maar baie van die deelnemers het vergeet daar’s n wêreld daarbuite. Al wat vir hulle bestaan, is die grense van die eiland. Hulle voel hulle moet enigiets doen om te oorleef en daar te bly, vertel Lani. Hulle raak vasgevang in hul nuwe omgewing en sommige kan nie glo hoe daar tydens die reeks met hul kop gesmokkel word nie. Wanneer hulle uitgestem word, begin van die deelnemers huil. Baie voel hulle kan niemand vertrou nie en verstaan nie hoe iemand met wie hulle skynbaar goed oor die weg gekom het, hulle in die rug kon steek nie. Van die deelnemers moet selfs ná hul ervaring op die eiland vir sielkundige berading gaan.

Hulle kry net drie dinge terwyl hulle daar is: skoon water, sonbrandroom en hul chroniese medikasie (ook malariapille). Niks anders nie. ’n Span medici is wel byderhand as iemand dalk sou seerkry of siek voel.

Die mans verloor maklik meer as 10 kg op die eiland en die vroue tussen 5 en 10 kg. Hoewel hulle gewaarsku word om eers net vloeistof te drink en rys te eet as hulle uitgestem word, wil hulle onmiddellik soveel as moontlik eet, sê sy. Die gevolg is diarree en naarheid omdat hul maag nie meer gewoond is aan baie kos nie.

Ashley Hayden (voor)Ashley Hayden (ná)Izak Davel (voor)Izak Davel (ná)

Volgens ’n artikel in die Cape Argus (“The hunger for fame goes way beyond TV”, 3 Desember 2009) het baie deelnemers aan werklikheidsreekse oor die wêreld heen dit so emosioneel uitmergelend gevind dat hulle daarna terapie móés kry. ’n Paar het selfs selfmoord gepleeg.

Werklikheidsreekse soos Survivor is beslis nie vir sissies nie!

Lani vertel stap vir stap wat met die deelnemers se gemoed en lyf gebeur soos die reeks vorder, en Elmarie Claassens,’n kliniese sielkundige van Johannesburg wat die reeks volg, gee ’n sielkundige blik.

 

FASE 1

Geestelik – Die deelnemers is vasberade om te wen en elkeen glo hy kan Survivor oorleef. Hulle het ’n vae beeld van hoe dit regtig is – hulle romantiseer die ervaring en weet nie wat vir hulle voorlê nie. Die deelnemers wat nie gewoond is aan ’n kamera wat heeltyd op hulle fokus nie, soos die atlete en komediante, is angstig.

Sodra almal op die eiland kom, vloei die adrenalien. Hulle leer mekaar ken om te sien met wie hulle die beste oor die weg gaan kom en probeer bepaal wat hul rol in die stam gaan wees.

Ná twee dae van op die sand slaap, sink die werklikheid in. Nou ervaar die deelnemers ’n veg-of-vlug-instink. Van hulle begin moed opgee en is nie meer lus vir die speletjie nie. Ander beraam planne om te oorleef. Louw het byvoorbeeld van die begin af vir sy stam kos gevind en alliansies begin vorm.

Fisiek – Die deelnemers berei hulself op een van twee maniere voor: Die een groep vas voor die tyd om hul liggaam gewoond te maak aan die min kos wat hulle gaan kry. Die ander groep probeer gewig aansit sodat hul liggaam reserwes het om te gebruik as die kos min is. Garth Collins (Gladiator Granite en Dries in die kykNET-reeks Getroud met rugby) het byvoorbeeld drie hoenders verorber voordat hy eiland toe is!

Die deelnemers praat baie oor kos en oor alles wat hulle mis, soos ’n warm bed. Hulle mis ’n toilet die meeste. Die een stam het ’n long drop gebou met ’n skulpie wat jy gebruik om te wys wanneer jy dit gebruik. Almal is bekommerd oor higiëne en is geïrriteerd omdat hulle nie hul tande kan borsel nie. Ook weens die hitte, reën en die feit dat hulle nie weet wat in die donker om hulle rondkruip wanneer hulle probeer slaap nie.

Hulle begin honger raak en bedink planne om kos te kry. Die mans ly fisiek meer as die vroue, omdat hulle meer kos nodig het vir energie.

Elmarie: Ons het stres nodig om te kan funksioneer, maar te veel stres kan ’n negatiewe uitwerking hê. Elkeen se verdraagsaamheid vir stres verskil, maar die omstandighede op die eiland sal waarskynlik vir die meeste deelnemers tot te veel stres lei. Die gevolg is emosionele uitbarstings, negatiewe gedagtes, konsentrasieprobleme en voortdurende bekommernis. Wanneer die deelnemers nie uitdagings wen nie, voel hulle nie in beheer nie. Deelnemers reageer verskillend hierop en dit lei tot ’n vulkaan van verskeie emosies wat wag om uit te bars. Die deelnemers kan maklik gebeure uit verband ruk omdat hul oorlewing op die spel is.

Mense kan baie irrasioneel optree oor iets kleins. Dié wat hulself nie te ernstig opneem nie, ’n sin vir humor het, deursettingsvermoë, ’n positiewe ingesteldheid en goeie menseverhoudings sal goed vaar in al die verskillende fases. Dit help ook as jy ’n buigsame persoonlikheid het en kan aanpas by jou omstandighede.

FASE 2

Geestelik – Teen dag agt op die eiland neem die deelnemers se oorlewingsinstink oor en hulle begin vergeet dis ’n speletjie. Hulle besef dis belangrik om as span saam te werk en sal enigiets doen om te sorg dat hul stam die uitdagings wen. Omdat hulle net mekaar het, put hulle al hul emosionele ondersteuning uit die span. Hulle wil graag “behoort” en probeer dinge doen om die ander spanlede te beïndruk. Die deelnemers reik uit en is op die uitkyk vir mekaar omdat die span nou soos hul familie geword het.

Hoewel hulle graag gewild by hul spanlede wil wees, laat die min kos en slaap die vonke spat. Die deelnemers sukkel om hul emosies te beheer. Hul ware persoonlikhede (soos as hulle lui, neulerig of aggressief is) kom na vore, omdat hulle nie meer energie het om ’n front voor te hou nie.

Wanneer iemand in hierdie fase uitgestem word, is hy kwaad. Hy voel verwerp, asof sy “familie”nie van hom hou nie. Hy kan ook nie dié emosies verwerk nie, omdat hy nie die kans kry om met die ander deelnemers te praat nie.

Fisiek – Die deelnemers is minder bewus van hulself en persoonlike ruimte en higiëne is nie meer so belangrik nie. Hulle begin hulself op snaakse plekke krap en druk hul vuil hande in die kos. Dis nou oorlewing van die sterkste. Die stam raak van die mense ontslae wat nie hul kant bring nie. Die deelnemers begin gewig verloor en kry maagaandoenings as hulle skielik te veel kos eet wat hulle met ’n uitdaging wen.

Elmarie: Omdat die deelnemers op mekaar aangewese is, gebeur groepsvorming vinniger as in die werklike lewe – sommer binne ’n paar dae. Hulle reik uit na mekaar omdat hulle besef hulle kan nie alleen oorleef nie. Hul angs is minder omdat hul basiese behoeftes effens vervul is, maar hul drang na meer kos en veiligheid sal heeltyd daar wees. Dis baie emosioneel as iemand die groep moet verlaat omdat hulle so afhanklik van mekaar is. Aan die ander kant vertrou hulle mekaar nie omdat almal weet dis ’n speletjie en mense sal enigiets doen om te wen.

 

FASE 3

Geestelik – Teen dag 17 is die “samevoeging” naby – wanneer die oorblywende deelnemers almal in een span gegooi word. Van dan af is dit elkeen vir homself. Hulle voel hulle is al so lank op die eiland, hulle wíl wen. Hulle word vinnig moeg en huil maklik, selfs die mans. Omdat daar nou minder mense op die eiland is, is elkeen se ondersteuningsnetwerk kleiner.

Mense begin ook magteloos voel omdat hulle aan ander se besluite uitgelewer is en nie meer op ’n span kan staatmaak nie. Die deelnemers sit nou met ’n dilemma: Hulle het vriende geword en bande gesmee met van die ander, maar besef ook hulle sal moet doen wat nodig is om verder te oorleef (al moet hulle iemand in die rug steek).

Fisiek – Hoewel die deelnemers klaar ’n skuiling gebou het en met minder kos oor die weg kan kom, het die omstandighede steeds ’n groot invloed op hul gemoed. Hulle verloor gewig en bou spiere. Van die deelnemers het al twee kleregroottes gekrimp.

Elmarie: Die deelnemers wantrou mekaar in hierdie fase. Hulle is verward oor die emosies wat hulle ervaar. Teen hierdie tyd speel die min kos en min slaap ook ’n rol in hul gedrag. Min slaap kan selfs tot psigose lei.

 

FASE 4

Geestelik – Die laaste vyf deelnemers het ’n oorweldigende begeerte om te wen. Van nou af is dit ’n geestelike speletjie. Iets soos kos is van min belang. Hulle put krag uit hul spiritualiteit en weet die einde is in sig. Dít is hul enigste motivering om uit te hou.

Elkeen wat nou uitgestem word, is baie ontsteld en regverdig alles wat hulle op die eiland gedoen het om te oorleef. Die meeste mense het lysies van dinge wat hulle oor hulself en die lewe op die eiland geleer het. Hulle het empatie met mense wat swaarkry en nie altyd kos het om te eet of ’n dak oor hul kop het nie.

Fisiek – Die deelnemers is liggaamlik swak en party lyk soos konsentrasiekamp-slagoffers. Wanneer hulle nie meer op die eiland is nie en dinge na normaal begin terugkeer, sak ’n doodse moegheid oor hulle neer.

Elmarie: Natuurlik gaan elkeen wat uitgestem word, ontsteld wees. Hulle het so baie dinge oorwin dat elkeen voel dis sy reg om te wen. Aan die ander kant is hulle verlig alles is verby en trots op hulself oor wat hulle bereik het.

 

‘n Maand ná die opname van Survivor SA

Die deelnemers is terug by die huis en hul liggaam het herstel. Hul swaarkry op die eiland is ’n vae herinnering. Wat nou? ’n Nuwe fase begin: Die land sien nou elke week hoe die celebs dinge doen wat niemand ooit gedink het hulle sal doen nie. Dis nogal ’n penarie, veral omdat hulle ’n openbare profiel het.

Die meeste van hulle is bekommerd oor wat hul vriende en familie van hulle gaan dink, vertel Lani. Hulle is nie soseer bekommerd oor die publiek se reaksie nie. Hulle bevraagteken die dinge wat hulle gedoen het, maar regverdig dit deur te sê Survivor was net ’n speletjie.

Van die bekendes is bly kykers gaan hulle op ’n ander vlak leer ken, wat wys hulle is ook net menslik.

Elmarie: Om deel van Survivor te wees, is ’n traumatiese ondervinding. Simptome van post-traumatiese stres soos woede, skuldgevoelens, selfverwyt, depressie, selfmoordgedagtes, gevoelens van verwerping, eensaamheid en wantroue kan algemeen voorkom. Die deelnemers kan ook nagmerries of fisieke reaksies soos hartkloppings kry as hulle aan die trauma herinner word.

Hul uitkyk op die lewe kan verander. Positiewe dinge wat kan gebeur, is meer selfvertroue omdat hulle die ervaring kon oorleef. Hulle kan gevolglik meer geloof in hulself hê om toekomstige take te verrig. Dalk sal hulle hulle nie meer bekommer oor klein goedjies nie, maar op belangriker dinge in die lewe fokus en besef wat regtig saak maak.

Hulle gaan na alle waarskynlikheid alledaagse dinge soos ’n warm bad, kos en veiligheid én hul vriende en familie meer waardeer.

* Lees in SARIE GESOND wat maak van jou ’n survivor, in die TV-reeks maar ook in die werklike lewe. En is dit iets wat jy kan aanleer?

  • http://fcgmggjjsach.com/ fxoumojbu

    cAF22N yhqbhkzwkgpw, [url=http://fqplzttipfkk.com/]fqplzttipfkk[/url], [link=http://eqwszlxnywud.com/]eqwszlxnywud[/link], http://ggabnjaueopn.com/