inge_30_
Eie stories

Esta Kobilewsky van Deben, skryf:

Ek skryf vandag vir jou ’n brief, want so kan ek jou langer in my gedagtes hou. Woorde is te min om te beskryf hoe ek oor jou voel. Geen versie of gediggie kan my gevoel vir jou regverdig nie.

Toe ek jou die eerste keer sien, het ek vir jou gesê, sonder dat jy my nog leer ken het, dat jy eendag myne gaan word. Jy het gelag en weggeloop. Tog, dit het waar geword. Ons is bymekaar en niks sal ooit tussen ons kom nie. Jou mooi blou oë en ewige glimlag sal my vir altyd betower. Jy is altyd gewillig om te luister as ek wil praat. Wanneer ek wil luister, praat jy. Ons kan ure sit en niks sê nie, maar ons weet wat die ander een dink en voel. As ek vasgehou wil word, sal jy my vashou. As ek troos nodig het, is jy altyd daar om my te troos. Jy vervul my hele wese, my hele liggaam en my siel met jou ewigdurende liefde.

Die kort tydjie wat ons saam is, die liefde wat ons deel, is meer as wat sommige mense in ’n leeftyd deel. Moet nooit verander nie. Bly soos jy is. Jy is enig in jou soort. Onthou jy nog ons wegbreektye saam – so sonder sorge en vol heerlike lekkerte? Sonsopkoms by die see, voete in die sand – vol liefde was ons harte terwyl die somerson op ons skouers dans. Dikwels wonder ek hoe ek so gelukkig kan wees om iemand soos jy te hê. Saam met jou kan ek myself wees en hoef ek nooit voor te gee oor hoe ek voel en wat ek wil doen nie. Geen taak is vir jou te groot of te klein nie, jy maak altyd ’n plan … en ai, daardie verrassinkies! Altyd wanneer my gemoed swaar is of ek hartseer is, kikker jy my op met jou mooi gebare.

Met ons swaarkry-dae, neem jy my altyd op ’n bootjie na Kammaland. Ons stap deur blomryke velde en is dankbaar vir wat ons wel het. Nooit is daar verwyte en lelike woorde nie. Ons bid saam vir krag en sterkte, en vind dit deur God se genade.

Toe ek afgedwaal het, het jy my met jou liefde en toenadering weer op die regte pad gebring. My gewys hoe kosbaar en heerlik die lewe en liefde is. Deur jou oë het ek al die mooi en goeie dinge gesien en besef hoe wonderlik die lewe kan wees.

Ons seun is gebore – ons lewe is volmaak. Hy’s so pragtig – net so liefdevol soos jy. Al jou wonderlike eienskappe weerspieël in hom. Hoe geseënd is ek nie om twee van julle te hê nie. Ek doen my bes om vir jou die vrou te wees wat jy wil hê. Sê my as iets pla, vra my as jy iets wil weet, praat as jy iets wil hê. Vir jou sal ek enigiets doen, want jou geluk is vir my belangrik. Saam met jou sal ek die wêreld aanpak. Geen struikelblok is te groot nie. Ons sal dit saam oorwin.

Jy is die rede vir my bestaan. Elke dag is vir my ’n nuwe begin. Wees net lief vir my – dis al wat ek vra. My hart is joune vir altyd.

Hulle sê liefde is ’n wonderlike ding. Ek hoop, glo en vertrou dat hierdie wonderlike ding vir altyd tussen ons sal wees.