Eie stories

Ester Pretorius van Witpoortjie, skryf:

My liewe ou man,

Ek is nie ’n digter of ’n skrywer van formaat nie. Sommige mense kan woorde gebruik wat so mooi klink, maar ná 39 jaar van getroude lewe is al die ou soet woordjies mos nie meer nodig nie. Soms kyk ek vir jou en jy verstaan. Soms kýk ek vir jou en jy wéét!

Ons was nooit op wittebrood nie, want daar was nie geld nie. Ons het altyd gespot en gesê ons gaan as die kinders uit die huis is. Almal is al uit en ons het 6 kleinkinders. Dis nie ’n verwyt nie, want ons het al swaar tye beleef. Jy het jou werk verloor, toe die huis en die voertuig. Soms het jy mý getrek en soms het ek jóú opgehelp, maar ons het al die paaie saamgeloop. Dankie vir die ondersteuning toe ek kanker gekry het.  Ek weet jy wou weghardloop, maar jy ken die KYK!

Jy het weer vir my die mooiste klein houthuisie gebou. Dit is ons nessie en my paleis. Ek is so trots daarop, want ek glo dat jy enige plek in ’n tuiste kan omskep. Die kleinkinders is mal oor die houthuisie. Dankie vir my paleis. Dankie vir die saamwees, die rustye langs die pad en die lekker lag. Jy het nie jou sin vir humor verloor nie, en dit is so pragtig!

Dankie vir die tye wat ons een appel in drie deel. Fanus, die African Grey, moet ook sy deel kry! 

Nou is ek grys en jy bles! Snags as ek nie kan slaap nie en ek hoor jou rustig langs my asemhaal, dank ek vir Liewe Jesus dat my maat nog by my is.

Lovies

Jou Vetplantjie