Eie stories

Estie Wentzel van Bellville, skryf:

Liewe liefste Liefie,

Ek skryf vir jou ’n brief sonder fancy woorde. Jy wat verby my siel kan kyk, jy sal verstaan. Vandag wil ek jou weer liefhê, jou weer bemin, ek wil my hart vir jou in woorde boei, al is dit net in ’n enkele sin.

My Lief, onthou jy ons eerste dag saam en die kronkelpadjie teen die berg? Die bome was dig geblaar ná al die reën, die nuwe lower half deurskynend teen die son en die sering in purper glorie. Daar het jy met jou menswees my hart gesteel. ’n Skoenlapper het sy goudgeel vlerke in die somerson vir ons gewapper, vreugdevol oor ons liefde, dankbaar oor ons tye saam.

Daardie dag het jy in my hart ingestap en my hand gevat om dit nooit weer te los. Weet jy dat jy altyd in my gedagtes is? My maag wemel steeds met vlinders as ek net aan jou dink. Ek verdwaal steeds in die seegroen poele van jou oë, jou oë wat my siel so skaamteloos ontleed. Verlang jy na my soos ek na jou?Mis jy my en ons tye saam? Ek onthou soos gister ’n ontmoeting … suikersoet. En ’n bitter, bitter seer afskeid toe ek jou by die lughawe moes groet.

Ek het my hart by jou gelos en my siel oornag vir jou gepos. As jy hierdie brief dalk môre kry, maak tog tyd en dink aan my, want ek het jou lief sonder woorde, sonder eise en sonder geld. Ek het nie baie om jou te bied nie, maar ek gee jou my hart. Afstand is geen versperring, liefde kan baie berge klim. En ek en jy kan verlange oorwin.

Onthou jy die lang somervakansie, my Lief, en ons dae saam op die strand? Jou oë was die kleur van die see, die woorde wat gespoel het oor jou lippe het aan my hart nuwe lewe gegee. Jou liefde is die asem binne my, die rede waarom ek jou elke dag wil sien, al is ons so ver van mekaar.

My Lief, ek wag angstig vir jou oproep wanneer jy my saans skuins oor agt bel. My hart bons met verwagting en begeerte om weer en weer in die teerheid van jou stem te hoor hoe jy woordeloos sê jy sal my altyd liefhê.

My Lief, onthou jy ons laataand-kuiers met koeldrank en popcorn by jou huis? Jy het altyd die laaste slukkie Coke met my gedeel. Jy moes my altyd met jou pa se motor huis toe neem, want jou ou wit kar het te veel probleme gegee. Jy het altyd gehoop iemand sou dit steel.

Al het jy nie ’n kar nie, is jy steeds my hart se punt. Selfs sonder woorde sal ons mekaar altyd vind. Jou liefde omvou my soos ’n lappieskombers, dit koester en beskerm my. Jy’s my rots. Dankie dat ek altyd op jou kan staatmaak. Jy is die liefde van my lewe en my beste vriend. 

My Lief, ek skryf vir jou ’n kaalvoet-brief, ’n brief sonder fancy woorde, want net jy sal verstaan as ek woordeloos sê ek sal jou altyd liefhê.