Eie stories

Familiename!

Ek was dogter nommer 4 en natuurlik is my pa se geslag die wenner. Hy begin soek vir ’n naamgenoot, want daar is nie nog ’n suster aan sy kant na wie ek vernoem kan word nie. Hy onthou toe van die “grand” tante of niggie van hom – ene “auntie” Aggie. Sy stem in om my die eer aan te doen om haar naam te dra.

Pa sit af landdroskantoor toe en ek word as “Aggie” geregistreer. En net daar begin ’n lelike gogga kop uitsteek. My naam word sonder die Engelse aksent uitgespreek en ellende is my voorland!

Ek is skool toe en word “Eiertjie” gedoop, tot groot vermaak van al die kinders teenwoordig. My selfbeeld lê aan skerwe. Ek raak ’n stil en eenkant-kind. Te bang iemand wil met my praat en noem my “Eiertjie”.

Toe laat weet die “grand” tante per brief dat ek verkeerd geregistreer is, want haar name is Adriana Margaretha. (Ek wonder tot vandag nog waar het “Aggie” vandaan gekom.)

My pa gaan vir ’n tweede keer landdroskantoor toe en ek kry die nuwe name. Maar vir my help dit niks. Die koeël is deur die kerk. Ek bly “Eiertjie” in die skool en my minderwaardigheid neem toe. Ek raak nog stiller en in myself gekeer.

In st. 2 (nou gr. 4) sien my onderwyser (’n oujongkêrel) dat iets skort en vra dat ek ná skool moet bly. Ek skrik my yskoud en wonder wat het ek verkeerd gedoen.

Hy vra my waar “Eiertjie” vandaan kom. Ek sê die kinders het dit vir my gegee. Hy kyk in die klasregister en sê ek het pragtige name. Ek is toe daar weg.

Die volgende oggend vra hy my om voor by hom te kom staan. Ek doen dit, maar ek wens die aarde wil my insluk. Hy lig die klas in dat my naam “Adri” is en dat die een wat my ooit weer “Eiertjie” noem, deeglik gestraf gaan word. In daardie dae het ons geweet daardie straf word gevóél!

Dankie tog vir my wonderlike oujongkêrel-onderwyser. Ek is hom ewig dankbaar. Hy het my seer raakgesien en my selfbeeld aan my teruggegee.

Adri Viviers, Ladanna (Polokwane)