Eie stories

Fanie Cronjé vertel: “Die dag toe ek blommemeisie moes wees”

Darem was akteur Patrick Dempsey ook ‘n blommemeisie in die onlangse fliek Made of Honor.

Ek het niks teen die titel blommemeisie nie (dis baie beter as die Afrikaanse “hofdame”, wat nie so lekker pas by ‘n groot, uitgevrete man soos ek nie!), maar waaragtig, om ‘n blommemeisie te wees is ‘n tough job.

Dis maar die soort ding wat jy vir jou beste pêl doen – dis nou Marlese Kapp van Shine 4. Ná 13 jaar van baie lag en sewe sakke sout opeet, het ek gedink: Hoekom nie?

So is ek op ‘n lieflike somersaand op die laaste vlug Kaap toe. My tassies gepak. Selfs met Kersgeskenke vir my broer se kinders (ek’s bankrot, want albei het ‘n Build-a-Bear gekry!), plus nog Muriël (van Dozi-faam) se sak hartsgoedjies en my eie blommemeisie-suit. Als in een trek af Kaap toe. Maar dis nog niks!

Het jy al vandag se trourokke gesien? Hulle is groot – dis net kant en net en onder- en bo-rokke. (Behalwe as jy Cindy Crawford is en in ‘n wit eina-mini op ‘n strand trou.)

Marlese is klein, maar toe ek by die vliegtuig kom, is die rok ‘n reus. Moet ook nie dink ‘n trourok wil vlieg tussen al die ander bagasie in die vliegtuig se ruim nie. Nee, ‘n trourok is handbagasie. Jy vou nie ‘n trourok nie, jy hang dit!

Die rok het ek eers in ‘n laag dik plastiek toegedraai. Toe in twee swartsakke om seker te maak niks skeur of hak nie. Toe in ‘n hangersak, wat van leer gemaak is. Sommer op die lughawe het ek gewéét vandag is die dag dat ek vir ‘n ekstra sitplek betaal. Want toe’t die trourok ‘n lewe van sy eie – of eerder, die vorm aangeneem van iets uit ‘n Hitchcock-riller. Die een waar die ongelukkige drommel met ‘n kandelaar oor die kop geslaan word en dan in ‘n groot Persiese tapyt opgerol word.

Gelukkig praat die vrou agter die toonbank my taal. Ek’s só in die knyp dat ek besluit om my bietjie celeb-status in te span.

“Hi, jy kyk seker MK. Ja, ek’s op daai show. Doen my ‘n guns – moet net nooit sê jy sal ‘n blommemeisie wees nie. Dis ‘n job wat die titel nie werd is nie. So, hierdie is my vriendin se rok, sy trou môre. Jy weet seker wie sy is – Marlese Kapp – sy sing in Shine 4.”

Die vliegtuigvrou gee my kaartjie terug, en ek klop myself op die skouer. Dit het gewerk!

Toe groet sy my en sê so ewe: “Nee, jammer Meneer, ek kyk nie DStv nie, en nee, ek luister ook nie Afrikaanse musiek nie. Geniet die troue!”

Ewe bekaf sit ek op die vliegtuig. Die rok is só groot dat dit lyk of iemand langs my sit. Maar ek kry hom veilig in die Kaap en Marlese het soos ‘n sprokie gelyk – julle het seker haar foto’s in die nuwejaars-Huisgenoot gesien …

Nou wil julle seker weet hoe dit met die blommemeisie gegaan het. Nee wat, ek dink ek reël volgende keer eerder ‘n kitchen tea.