Eie stories

Geluk en tevredenheid: ’n Wenkombinasie

Goeie kombinasies moet neergeskryf en onthou word. Ouers moet dit aan hulle kinders oordra. Hulle moet met ’n goue pen in sierskrif neergeskryf word op die spierwit bladsye van ’n statige boek met ’n egte leer omslag. Die resep moet gereeld gemeng en die resultate geniet word soos met die bereiding van ’n geliefde gereg. Een so ’n goeie kombinasie is geluk en tevredenheid. Sonder die een, is die ander een onmoontlik.

So in die loop van my werk kry ek dikwels kans om heerlik met bejaarde mense te gesels. Mag ek deel in die ryk skatte van wysheid wat duur verwerf is aan die universiteit van die lewe. Kry ek ’n kykie na die tye voordat ons aangejaag was deur selfone en tolpaaie. Toe gesels nog alledaags was. Toe briewe geskryf was op pragtige papier – kunstig met sierlike letters. Die woorde voluit, korrek gespel en met sorg gekies om die boodskap effektief oor te dra.

Een van die bejaardes is diep in die tagtig. Haar lewensmaat van sestig goue jare is onverwags oorlede. In haar pragtige oë sien ek nog die verwondering van ’n kosbare klein dogtertjie. Ek sien die drome van ’n pragtige jong meisie. Die sorgsame rustigheid van ’n bekwame moeder. ’n Op en wakker musiekjuffrou wat soveel talent help ontwikkel en slyp het. Hoe kan een hart soveel smart dra? Die alleenheid vou om die weerlose skouers. Sy neem verslae my hand. “Hy is weg,” is al wat sy kan uiter.

Sy waardeer al die liefde wat sy van ons ontvang. Die kinders se daadwerklike hulp. Die sorg van die gelowige dame wat haar elke dag kom versorg. Tog moet sy alleen deur die diep kloof stap. Op haar eie uitkom by die dag van genesing. Net haar Skepper kan naby genoeg wees om die pyn te help dra. Die smart van verlies.

Later kom gesels sy so ’n bietjie met my. ’n Kosbare kort kuiertjie so deur die telefoon en tikmasjien. Sy vertel my van die mooi droom wat sy oor hom gehad het. Dat hy haar in die hemel onthou. Sy sluit af met die mooiste woorde. Eerlik, opreg en sonder uitdink sê sy spontaan: “Maar ek is tevrede. Dit is God se wil en God is goed. Al verstaan ek nie, is ek tevrede want ek vertrou God.” En dan vra sy met kommer of my man die Here dien. “Want dit is die enigste manier om die lewe werklik te kan hanteer.” Sy glimlag en druk my hand teen haar vas.

Hoe wonderlik wanneer ons tevrede en gelukkig kan wees te midde van pyn. Om te weet dat God goed is en ons Hom kan vertrou. Sy stap uit na haar huis en laat my verwonderd agter. Selfs in die pynlike stryd wat sy besig is om te stry, gee sy nog steeds van haarself. Laat sy ’n pêrel van wysheid vir my agter.

Freda Marais, Hermanus