e_brief_verloof_pauls
Eie stories

‘n Gesweet om die jawoord te kry!

My pa, Willy Pauls, het al die drama geniet en die volgende brief daaroor geskryf. – Jenny-Lee Pauls, Vredenburg

“Ons was laas naweek bietjie weg Hartenbos toe. Ons was jare gelede in daai rigting. Vroeg verlede week het Patrick Brown, Jenny-Lee se vriend, ons twee oues van dae eenkant gekry en die Groot Vraag gevra!

Natuurlik was ons maar versigtig met ons antwoord omdat albei voorheen aan iemand anders verloof was en dit nie uitgewerk het nie. Hy wou weet of dit in orde sou wees as hy op Hartenbos haar kon vra om te trou. Sy het niks van sy planne geweet nie.

Die weer oor die naweek was nie juis swemweer nie, maar ons het dit lekker gemaak en daar was baie te sien op Mosselbaai.

Ons was by die Punt, in die grot, by die Museum-kompleks, het die groot ou Posboom vir ons kleinseun O’Niell (Jenny-Lee se seuntjie) gaan wys, en ons aan die visse, seekatte en krewe in die glastenks verstom.

Die Saterdag laatmiddag is ons strand toe. Ek met die koelsak, vonkelwyn op ys en vier versteekte glase, en Netta (my vrou) met die kamera … vir sommer! 

Patrick moes sy planne in plek kry, want hy het hierdie blink idee gehad om Jenny-Lee te verras met ’n message in a bottle. Maar om die bottel – dit was ’n kleintjie met ’n kurkprop op – so bietjie karakter te gee, het hy vroeër die dag sand en klein skulpies saam met die briefie daar ingegooi.

Ek en hy stap so luilekker ‘n ent voor die vrouens uit. Hy gooi toe die bottel ’n entjie verder voor hom uit in die vlakwater sodat die see dit nou kamma heel galant moes uitspoel …

Fout 1!

Die flippen botteltjie sink, die brander trek dit terug see toe en daar is die boodskap missing in action!
Nee wat, Patrick laat nie op hom wag nie. Tekkies uit, rol die jeans se pype hoog op en bestorm daai see asof hy Wolraad Woltemade wil na-aap!

My en Netta se harte klop in ons kele, want ons was nie seker of hy dalk die ring ook aan die botteltjie vasgemaak het nie! Maar ook wil ons nie die surprise net daar en dan uitblaker nie.

Intussen wou Jenny-Lee weet watse swemmery dit skielik met Patrick is, en O’Niell dink as Patrick so maklik die see kan instorm, hoekom dan nie hy ook nie!

Die botteltjie was weg, teen dié tyd al seker een of ander grot-seekat se pride. Ek en my vrou hoor darem so onderlangs die botteltjie het net die boodskap ingehad. Die ring was nog ongeskonde.

Ek stel toe voor Patrick moet oorgaan na plan B, maar die man is desperaat en skryf sommer ’n boodskap in die sand. Hy’s so besig met die vraag, gebukkend, met die rug na die see.

Fout 2! 

Nee wat, die eerste groot brander kom spoel netjies tussen sy voete deur en vee sy vars boodskappie in ’n oogwink uit. Toe die brander terugtrek is hy naarstigtelik met ’n tweede poging besig, hoër teen die strand op.

Fout 3!

Maar met die see weet jy nooit nie, en ’n groter brander doen toe presies dieselfde! Hy vlieg om en skop magteloos na die brander. Moet ’n man dan nou so gestraf word, en dit met goeie bedoelings?

Ek en Netta wys hom met die oë om nog verder hoër op die graffiti te probeer, maar boontoe is daar hordes voetspore soos die mense vroeër daar geloop het. Hy kry darem eindelik ’n mooi gedeelte en vra toe in groot letters of sy met hom sal trou.

Jenny-Lee het ons intussen ingehaal en in ongeloof die man se finale poging heel aandagtig gelees, drie dotjies in die sand gedruk en ’n groot “JA!” agterna geskryf!

Onbewus daarvan dat hy die ring net agter haar op die sand neergesit het, skop sy boonop die sand met die terugstapslag eenkant toe! Maar uiteindelik verras Patrick haar met die groot geskenk.

Die vonkelwyn se prop kom af en ons vier die groot oomblik net daar.

Nou ja, Hartenbos se strand is sekerlik vir altyd in hul geheue verewig!”

 

SARIE-liefdesbriewe

** Lees ook op sarie.com al ons liefdesbriewe, wat ons in 2009 in ‘n Liefdesbriefkompetisie  

     ontvang het, onder My wêreld > Briewe > Wedstrydbriewe