Eie stories

Goeters wat seermaak

Op skool was ek nie hoofmeisie, leerlingraadslid of prefek nie, nie eens klaskaptein nie. Met L.O. was ek te bang hulle gooi die bal my kant toe, want my vingers was lomp en wit soos aspersies, natgesweet van senuwees. Kon ook nie hardloop nie, ek het gevoel soos ‘n hamster op sy wiel. In my kop was ek vinnig, maar helaas, altyd laaste. Dan het die seuns ook nog vir my gelag!

Ek het L.O. gehaat, oor die spanne kies vir ligte oefening. Jy weet mos, die swakste word altyd laaste gekies. Dit was ek … aspersievingers en hamsterbeentjies.

Maar van een ding was ek seker. Ek kon swem. Goed ook. Nie die beste nie, let wel, maar darem ook nie laaste nie. Ek is seker as my ouers swemafrigting kon bekostig, sou ek WP-kleure gekry het. I like to think that, you know!

Dan sou ek ook ‘n blou Speedo met swart strepe gekry het, soos die goue meisie wat elke jaar die swemgalas gewen het. Haar ouers het spesiaal ‘n swembad laat bou en ‘n personal trainer gekry. Ek het elke Saterdag by die munisipale swembad gaan swem. Dit was so te sê my training, maar dit was meer pret en plesier as enigiets anders.

By ons skool was ‘n kunsklas, ‘n asemrowende wêreld van groot kreatiewe verwagtinge. Hier het ek my liefde vir kuns ontdek. Vergete was aspersievingers en hammie-bene, hier was ek happy. Massiewe grys tafels in rye met kaste vol geheime. Groot helder vertkryte geprop in koffieblikkies, dik potlode wat ruik na lood, nog splinternuut in hul boksies.

Blikke poeierverf soos soldaatjies in ‘n ry, gevul met basic primary colours. ‘n Blou so perfek soos Gansbaai se see en ‘n rooi soos die bloed in ‘n Western. Wow!

Maar my kunsklas het ‘n nare herinnering, een wat ek diep gebêre het in ‘n swart boks in my kop, saam met aspersievingers, hammie-bene en klaskaptein. Klein goedjies, maar groot goed vir ‘n 10-jarige.

Ek en twee klasmaats staan by een van die grys tafels, my aspersievingers bewe in afwagting. Juffrou gee ons elkeen ‘n groot wit sheet. Myne is beautiful, ‘n ongeskonde wit sneeulaag, my aspersievingers gly oor die stuk papier. Ek sien al my Irma Stern-meesterstuk, met Gansbaai-blou en Western-rooi. My een klasmaat se sheet lyk nie lekker nie, gebuig met ‘n lelike potloodstreep langs die kant. Sy is klaskaptein. Haar pa het die apteek op die dorp. Bevoorregte mense. My ander klasmaat se sheet is perfek soos myne. Sy’s die goue meisie met die blou Speedo met swart strepe.

Juffrou roep vir my en die goue meisie om ons verf te gaan haal. Klaskaptein bly agter. Terug by ons kunstafel sien ek klaskaptein het haar geskonde sheet geruil die goue meisie s’n. Haai sies, dink ek, maar sê ook niks. Shock horror wys op goue meisie se gesig.

“Jy” gil sy en gluur my aan.

“Aspersievingers! Jy het my sheet gesteel!”

“Ek … ek … het nie …” bewe my stemmetjie.

“Jy het!” gil sy weer. “Die klaskaptein sal dit mos nooit doen nie!” skreeu sy.

Sy kyk vir klaskaptein en sê saggies. “Ek weet jy sal mos nooit so iets doen nie …”

Klaskaptein bly doodstil, kyk nie eens my kant toe nie.

Ek staan daar, mond vol tande. Die gebuigde sheet met die lelike potloodstreep langs die kant lê voor my, die enigste meesterstuk daarop is ‘n enkele nat traan.

Daar het ek my eerste groot lewensles geleer. Met Power en Privilege kan jy met baie wegkom.

Jeanne Flynn, Durbanville