Eie stories

Groter borste – doen eers navorsing

Ek het jul artikel Te koop – ontwerperborste (SARIE, Januarie 2009) baie geniet. Die navorsing was ook baie goed. Ek het sowat 3 jaar gelede op die ouderdom van 29 borsinplantings gekry. Ek is baie gelukkig met die resultate, en was nog nooit spyt oor my besluit nie.

Ek kon voorheen nie eens ’n A-keël bra vul nie. Nou is ek ’n volle B of klein C. Ek is lank, weeg 63 kg en oefen graag. En ek dink my borste pas nou mooi by my liggaam.  Ek het my dokter gevra vir die grootste inplanting wat by my liggaam se struktuur sal pas.

My borste lyk mooi, wel opvallend, maar nie onnatuurlik groot  nie. Mense kan agterkom ek het my borste laat vergroot; ek sien dit aan hul gedrag, al vra hulle my nie reguit daaroor uit nie.

My selfvertroue het baie toegeneem, en ek kan dit regtig aanbeveel vir vroue wat lank en ernstig daaroor dink. Ek het gelukkig voor die tyd ’n vrou ontmoet wat dié operasie laat doen het. Haar borste was mooi en ferm. En daarna was ek gereed vir die operasie. Haar dokter het ook mý inplantings gedoen.

Ek stel voor dat vroue eers baie goed navorsing doen en na TV-programme soos Dr 90210 op E-Entertainment kyk waar hulle presies kan sien hoe die pasiënte ná die tyd lyk. Die tegniek in dié program is beter as ons s’n. En dis jammer. ’n Insnyding word aan die onderkant van die tepel gemaak; dus bly daar feitlik geen letsel oor nie.

Ek sou ook dié tegniek verkies het, want wanneer ek nou ’n bikini-bostuk aantrek, kan mens die letsels aan die onderkant van die bors opmerk. In my geval is dit meer opvallend. Ek lê gereeld op die sonbed, maar die letsel bly altyd wit. Daar is ook twee kolletjies aan kant, waar die dreineringspypies was. Maar tog is ek baie tevrede met my nuwe borsmaat.

Goeie raad is ook om die operasie in die winter te laat doen sodat jy genoeg hersteltyd voor die somer het om met daardie nuwe voorkoms te spog! My operasie was in Mei, en het baie goed uitgewerk. Jou liggaam het tyd nodig om gesond te word, en jou borste het ’n paar maande nodig om mooi te “set” en sag te word. 

Jou borste kan aanvanklik baie seer wees. Dis dus belangrik dat jy ná die operasie so min as moontlik dinge doen en nie motor bestuur nie. Kry iemand om jou te help sit, om te draai en aan te trek, ten minste vir ’n week.  

Baie gelukkig, Germiston


                          

  • Yvonne Bauermeister

    Ek soek dringend ‘n dr se naam en kostes om my borste te laat vergroot.

  • Madeleen

    Ek is ook op soek na name van goeie dr. en tariewe vir bors vergrotings.

  • Baie gelukkig van Germiston

    My operasie is by Medicross op Germiston gedoen. Julle kan 011 824 1418 bel.

  • Cecelia Jacobs

    Hi, ek is op soek na n goeie dr en tariewe.

  • Isabel de Klerk

    Ek is op soek na ‘n goeie betroubare dokter in die RoodepoortKrugersdorp area.

    Isabel de Klerk

  • Corrie Coetzer

    Ek is op soek na ‘n dr wat bors vergrotings doen in Bloemfontein, en wat is die kostes verbonde aan die vergroting. Kan julle dalk help. Ek wil bitter graag my borste vergroot, ek is 42 jaar oud en my borste is maar ‘n kleine 32B. Ek kry skaam om voor my vriend te staan, want ek het absoluut niks borste nie.