des07mystorie1a
Eie stories

Hallo van die top van Kilimandjaro!

Dol op die antieke glas van Venesië, geïnspireer deur Gaudi se argitektuur in Barcelona en gestimuleer deur die naglewe in Londen, het Maria Muller begin 2006 teruggekeer van ’n Europese reis van sewe weke lank. Sy was 19, ’n student in handelswetenskap aan die Universiteit van Kaapstad, en reg vir die studentelewe. Maar iets was fout. Sy het moeg gebly en haar nek en lyf was altyd seer. Uiteindelik het die pyn só ondraaglik geraak dat sy nie haar duvet kon optel nie. Sy kon nie alleen stort toe loop, ’n melkbeker lig, of haar hande om ’n stuurwiel kry nie, want dit was soos kloue, vertrek van die pyn.

Ná vele doktersbesoeke en bloedtoetse het ’n nuwe reis in haar jong lewe begin. Sy moes ’n nuwe pad leer loop: as rumatoïede artritislyer . . .

“Ek het nóóit dié diagnose verwag nie. Dit was ’n groot skok. Rumatoïede artritis (RA) is tog iets wat net ouer mense kry, het ek gedink. Maar dis ’n immuunsiekte wat geen kuur het nie. Dokters reken Duitse masels (wat ek kort voor my reis opgedoen het) was moontlik die sneller. Ek was tog hoopvol, want my dokter was so positief. Maar die eerste ruk was swaar. Ek wou soggens nie opstaan nie. My ma moes my help aantrek. Dit het my twee keer langer as my vriende geneem om op kampus te beweeg. Gelukkig het hulle my baie gehelp. Ek het alles oor RA begin lees om my te bemagtig. Smiddae móés ek minstens drie ure slaap, en saans nege ure – ek was doodmoeg. My hande was altyd seer en styf soos ná te veel oefening. Maar alles het verander toe ek verlede Junie as deel van ’n groep proefkonyne in die Vincent Pallotti-hospitaal in Kaapstad met die medikasie Biologics begin het.

Ná drie maande het my lewe merkbaar verbeter. As dít langdurig werk, kan ek oor ’n paar jaar dalk in remissie wees. Om te dink danksy dít klim ek toe sowaar Kilimandjaro uit! Dit was nog altyd ’n droom. Juis omdat dit nie iets is wat jy oornag besluit nie. Dit verg toewyding en fokus. As ek nie siek geword het nie, sou dit waarskynlik steeds nog net ’n droom gewees het.

Ek glo alles gebeur met ’n rede. Tien artritislyers (vyf mans en vyf vroue) is gekies om te klim. Abbott Laboratories het ons geborg en geld aan die Rooikruis-Kinderhospitaal geskenk, want baie kinders ly aan artritis. Ons wou mense wys dat artritis nie die einde van jou lewe beteken nie.

 

Wanneer die oefening te erg geraak het, het ek myself gemotiveer deur die berg in my kop te visualiseer

In ons groep was onder andere die wêreldbekende biochemikus prof. Jannie Hofmeyr van Stellenbosch, wat psoriatiese artritis het. John Yeld, fotojoernalis, Renier Heine, hoof van immunologie van Abbott, suster Gill Hepburn-Brown, my verpleegsuster by Vincent Pallotti, en dr. Elsa van Duuren, rumatoloog van Pretoria, het ook saamgegaan. Ons groep (in die Kaap) het elke tweede naweek sewe uur lank 18 km ver gaan stap, en ek het drie keer per week in die gimnasium geoefen. Wanneer die oefening te erg geraak het, het ek myself gemotiveer deur die berg in my kop te visualiseer.

Gelukkig het Biologics geen newe-effekte nie – dit het dus nie my oefenprogram geaffekteer nie. Ek moes net oefening vermy wat onnodig druk op my gewrigte plaas. Uiteindelik, op 15 September, het ons van Johannesburg na die internasionale lughawe Kilimandjaro naby Arusha, Tanzanië, vertrek – maar nie sonder drama nie! Almal se rugsakke – met medikasie – het in Johannesburg agtergebly. Gelukkig was daar nog ’n bietjie voorraad in ons handbagasie. Nadat van die rugsakke ons twee dae later bereik het, het ons in Arusha gaan inkopies doen. Daarna kon ons tog na die berg begin.

Ons het van die Kilimandjaro Nasionale Park met die Machame-roete vertrek. Een van die grootste eise wat aan die groep gestel was, was dat ons mekaar nie geken het nie. Maar die bagasie-drama het ’n band tussen ons gesmee, en dié wat kon, het enigiets van medikasie tot sokkies gedeel. In die eerste paar dae is ons deur reën, pikdonkerte, bitter koue, vroegoggendstyfheid . . . maar ons gees was positief. Ons einddoel was dieselfde. Wat ’n spesiale oomblik toe die mis die eerste keer voor die berg wegtrek: grys, groot en intimiderend. Nóú kon ons ons mikpunt sien. Die Melkweg, helder sterre, en die pers, pienk en oranje sonsondergang het ons laat vergeet van tydelike probleme soos temperature van -5°C – en ons steeds ontwykende bagasie!

In Tanzanië word na Kili verwys as ’n ou vrou – wys en groot. Die eerste vier dae voel sy ver weg. Amper onbereikbaar. Jy voel dikwels jy loop en loop, maar jy vorder so stadig. Elke tree wat jy gee, bring nog ’n paar emosies . . . ongeloof, dankbaarheid, opwinding. Dit maak al die pyn van vroeër die moeite werd. Skielik val als in plek. Ek het klein gevoel voor die grootse natuur en ongelooflike respek vir my liggaam se uithouvermoë gekry. Ons het geleer dat die berg ’n groot krag is. Ons moes besluit of ons vir háár kans sien. Maar ons sou leer daar is ook groter kragte as óns . . .

Ons het saans staaltjies uitgeruil oor seer bene, heupe, rûe. Ons skoene was top-gehalte en niemand kon oor blase of brandvoete kla nie. Elsa moes wel gereed staan met kortisoon-inspuitings vir die seer heupe voor ons die volgende dag die steil paadjie kon aandurf. Dis ongelooflik hoe belangrik klein dingetjies raak op só ’n tog. Soos die goeie nuus op dag drie: Ons rugsakke met ons energiestafies en medikasie het aangekom! Nog ’n hoogtepunt dié dag (al was dit snerpend koud en al moes ons baie stadig stap weens die hoogte bo seespieël) was die pragtige maanlandskap van onherbergsame swartgrys rotse – met plek-plek ’n geel blommetjie. Later daal jy af deur ’n soort wetenskapfiksie-woud – ’n ander wêreld.

Ek het nooit gedink aan moed opgee nie, want ons wou die berg oorwin. Ons het mekaar gemotiveer met grappe en liedjies soos ‘Sarie Marais’, treffers van die Beatles en ‘Suikerbossie’. Soms was dit moeilik, want jy kon skaars asemhaal. Maar almal het deurgedruk. Elk met hul eie pakkie seer. Ben Broens se seun is ’n paar weke tevore oorlede. Een vroulike klimmer is ’n paar maande tevore in ’n rooftog in Pretoria in haar been geskiet.

 

Ek het gedink aan my ouers se SMS: “Wees sterk! Jy kan dit doen.”

Uiteindelik het die groot oomblik aangebreek. Op dag vier, ná sewe ure se stap, het ons by die Barafu-kamp aangekom. Doodmoeg. Ons het geëet en gaan slaap, want middernag sou ons begin met die ‘aktiewe’ klim tot bo. Ek het gehuil – moeg en bang dat ek dit nie gaan maak nie. Ek het moeilik asemgehaal. Gill, my tentmaat, het op los klippe gegly en haar enkel gebreek. Ek het haar só jammer gekry – dít het my emosioneel van stryk gebring toe sy moes omdraai. Ek kon nie slaap nie. Teen elfuur het ons pap en sjokolade geëet en tee gedrink. Teen middernag het ons met kopliggies aan begin stap. Dit was pikdonker. Ek kon net ’n ry liggies voor my sien. Ek het gedink aan my ouers se SMS: ‘Wees sterk! Jy kan dit doen.’ En my vriende: ‘You go, girl!’
Ek wou net slaap. Die gids het laat hoor: ‘Hakuna Matata’ (moenie jou bekommer nie).

Dit was van die moeilikste oomblikke in my lewe. ‘Pole, pole’ (stadig, stadig). Ek kon nie almal in die steek laat nie. Tree vir tree. Rus. Asem in en uit. ’n Mens kon nie te lank rus nie, want jy word koud. Ná drie ure in dié nag van hel wou ek omdraai. Dit sou my ewe lank neem terug na die kamp as op teen Kili. Druk deur, druk deur . . . Toe die son ná sesuur opkom, was alles vars en mooi. Ek het in my hart geweet ek kán bo kom. Ek het ’n pil teen naarheid gedrink. Ben en ek was heel agter. Ons het saam die rant van die krater gesien. Amper bo! Ons het prof. Jannie net ná Stellar Point op die krater gekry. Van daar is ons saam na die bopunt van die krater. Ons gids het sowaar vir ons tee saamgeneem!

Dit was -14°C. Woorde kan nie beskryf hoe dit bo voel nie. Ek het ’n SMS aan vriende en familie gestuur: ‘Hallo van die top van Kilimandjaro! Kan nie glo ek het dit gemaak nie.’ Dit het gevoel of ek in ’n fliek speel. Skielik was ek weer bruisend van energie, die moegheid vergete. Dit het ons drie ure geneem tot by ons kamp, en die volgende dag nóg drie ure om af te stap. Die aand het ons gestort en feesgevier met ’n bokbraai. Die mens se brein is ’n wonderlike ding. Dis waar alles begin. Jy dink jy kan iets nie doen nie en dan volg nóg iets en nóg . . .
Ek is baie positief oor my toekoms, want die mediese wetenskap is ongelooflik. Ek wil trou, kinders hê, myself uitleef in die kreatiewe kookkuns. Ek wil vriende en familie bederf en omring myself met mense wat die lewe geniet. Ek fliek, lees biografieë van inspirerende mense soos entrepreneur Richard Branson en fietsryer Lance Armstrong.

My siekte het my gedwing om baie vinnig volwasse te word. Ons moet verantwoordelikheid aanvaar vir ons gesondheid. Dis ’n geskenk. My onafhanklikheid is heerlik, noudat ek weer die lewe kan geniet. En Kilimandjaro is hopelik maar net die begin van my avonture . . .

 

Het jy geweet?

 

  • Daar is 150 verskillende tipes artritis. Die naam beteken gewrigsontsteking.
  • Die oorsake van rumatoïede artritis (RA) is onbekend. Party mense is dalk

geneties meer vatbaar.

  • Dieet het geen merkbare uitwerking op RA nie.
  • Selfs babas kan artritis hê.
  • Rumatiek (chroniese gewrigsontsteking) kom gewoonlik by vroue voor en

tas die vel, hart, longe en oë aan. Dit begin gewoonlik ná ’n krisis. Dit lyk asof
depressie dit kan vererger en beterskap kan vertraag.

  • Met die regte medikasie kan jy ’n normale lewe lei, maar artritis is

ongeneeslik.

  • Hitte help om die spiere te ontspan en verlig pyn. Oefening in ’n warm

swembad kan gewrigsbeweging verbeter. Ysbehandeling help soms.

  • Biologics word beskou as een van die nuutste “revolusionêre artritisbehandelings”.

Dit kos sowat R7 000 tot R10 000 per maand.

  • Met dié behandeling kan pasiënte hul ander artritis-medikasie verminder.
  • Dit voorkom ontsteking, maar kan tuberkulose reaktiveer. Dit kan eers

voorgeskryf word ná tuberkulose-toetse.

Inligting: Artritisvereniging van Suid-Afrika, 021 425 2344