flowers_2
Eie stories

Helma Smit van Durbanville, skryf:

My dierbare man,

Hoe verklaar ek my diepste liefde vir jou? Al wat jy heeldag hoor is: Slaap jy alweer? Het jy nog nie dit gedoen wat ek jou gevra het nie? Moet ek dan altyd alles self doen in hierdie huis? Wat sou julle sonder my gedoen het? Kla, kla, kla!

Wat het geword van daardie absolute oorgawe van my, my verliefdheid – nee – versotheid op jou? Waar my oë geblink het en my hart soos dié van ’n resiesperd op loop gegaan het net as ek aan jou gedink het? My lyf wat soos bubble wrap geklap het as ek jou stem oor die telefoon hoor, as ek jou hoor aankom met jou ou blou Renault wat soos ’n ladybird gelyk het, as ek jou voor my sien staan het met jou ongelooflike aantreklikheid en magnetisme?Soos ’n jellievis het rilling op rilling deur my getrek. Jy kon my tone laat omkrul, koue rillings teen my ruggraat laat afrol, en my voet laat oplig met net een soen …

Min het ek geweet wat dit is om lief te hê – onvoorwaardelik – en om jouself nie meer eerste te stel nie.

Nou is jy my man, my seksgod, my sielsgenoot, my vertroueling, my beskermling, my steunpilaar, my grootste fan al vir byna 15 jaar.

Ons is die ouers van twee pragtige dogters – engele uit die Hemelse Vader se hand – aan ons geleen hier op aarde. My liefde vir jou is onbeskryflik groot as ek sien watter wonderlike pa jy is, hoe ons dogters oor jou voel. Dit maak die verskil tussen verliefdheid en ware liefde … 

Nooit hoef ek meer te wonder of jy omgee, of jy lief is vir my nie, of jy my as jou gelyke ag of as jou sielsgenoot beskou nie – nie as ek sien hoe jy voel oor ons dogters nie – hoe onvoorwaardelik jy hulle liefhet nie. Daar is geen té vir jou as dit kom by ons dogters nie. Jy sal die duiwel trotseer solank jy net weet dat ons versorg en veilig is.   

Dit maak jou myne.

Dit maak jou my engel, my hart se punt, my held …

Dít is ware liefde.

“Dankie” is ’n baie klein woordjie met ’n ongelooflike, omvangryke begrip vir dit wat jy vir my beteken. Maar dit is wat ek vandag vir jou wil sê – dankie, dankie, my lief, dat jy my toelaat om voluit te kan wees wat ek is … jou vrou.