Eie stories

Hoe’t jy gevoel toe . . .

Erika Théron, ’n SA onderwyseres wat in Engeland werk, kyk al van laerskooldae af na Oprah. Toe dié kletskoningin onlangs aankondig haar laaste program gaan ná 25 jaar op 9 September 2011 uitgesaai word, het Erika gemengde gevoelens gehad. Ek het twee dinge gedink: ‘Ag nee!’ en ‘Good for her’. Ek glo jy moet halt roep terwyl jy nog in mense se goeie boekies is. Oprah is ’n slim vrou en mense respekteer haar. Dis dalk hoe sy onthou wil word. Ek dink dis die regte besluit, maar ek gaan haar mis. Ek ken Oprah vandat ek kan onthou. Ek het al emmers vol in haar geselskap gehuil. Sy gaan haar blykbaar nou toespits op haar eie nuwe TV-kanaal, die Oprah Winfrey Network. Ek haat die meeste geselsprogramme. Dis gewoonlik so soetsappig dat my tone omkrul van pure gril. Oprah vertel ware stories met egte emosies en daar’s ’n wonderlike balans tussen ‘regte’ mense en bekendes op haar program. Ek het nog nooit ’n episode gekyk wat ek nie geniet het nie – of dit nou ’n onderhoud met Stephenie Meyer (skrywer van die Twilight-reeks) is, of ’n episode waarin sy probeer uitvind hoekom’n pedofiel kinders aanrand. Ek’s saam met Oprah deur haar krulhare, reguit hare, dun heupe en ronde heupe. Ek kan met haar identifiseer, wat snaaks is, aangesien sy een van die magtigste en rykste mense ter wêreld is. Ek kry die idee sy’s opreg. Sy deel drukkies uit op haar program, sy huil, sing kliphard saam met Tina Turner en lek ’n lepel af wanneer Nigella Lawson kook. Sy’s ook inspirerend. Sy’s iewers op ’n plaas deur haar oor-streng pa grootgemaak nadat haar enkelma nie dinge kon hanteer nie. Sy’s op 9 seksueel aangerand en het op 14 swanger geword. Tog het sy dit oorkom.Wie geniet nie ’n aspoestertjie-storie nie? Oprah gee my hoop.”