Eie stories

Hoe’t jy gevoel toe…

Daar’s oomblikke in ons lewe wat uitstaan en ons lank bybly. 4 nuusmakers vertel van gevoelens wat hulle tóé ervaar het

. . . Sharon Stone drie van jou lampe vir haar huis koop?

Justin van Breda (33) is ’n SA meubelontwerper wat in Londen bly. Op ’n dag het hy ’n versoek van Sharon Stone per e-pos gekry: Sy soek drie van sy glaslampe vir haar huis.

 
“Ek moet sê, ek was nie vreeslik verras deur die versoek nie. Die lampe wat sy wou gehad het, is só mooi en word deur baie internasionale mense begeer. Maar ek dink Sharon is stylvol en dit was ’n groot kompliment dat sy die lampe wou hê. Sy’t my gekontak nadat sy dit in ’n tydskrif gesien het. Die lampe was sfere van glas wat sowat 60 cm hoog is.
Ek wou nie die toebehore met silikon vassit vóór ons dit na haar toe gestuur het nie omdat ek bang was dit sou in die proses breek. Sy’t toe gesê sy sal dit self aanmekaar sit. Ons het die silikon in ’n klein geweertjie saamgestuur. Sy was baie vriendelik en het selfs laat weet sy het niks van die silikon op die lampe gemors nie en dit lyk fantasties. Ander bekendes het ook al van my ontwerpe bestel. Die eerste ding wat Madonna gekoop het, was ’n spieël. Sy het intussen ook van my tafels gekoop. Ek dink my ontwerpe is gewild omdat dit klassiek is en jy dit elke dag kan gebruik. Ek het nooit gedink ek sou ’n meubelontwerper word nie. Dit het net gebeur. Ek kom minstens een keer per maand Suid-Afrika toe. My volgende reeks is ’n platteland-sjiekversameling wat jou herinner aan familie-oomblikke. Dit eggo my wonderlike vakansies wat ek as kind gehad het, waar elke dag ’n viering was.
*Justin het ook twee winkels in SA. Kontak JVB Furniture
Collection by 011 467 3406 (Jhb) en 021 426 5321 (Kst).

. . . jy vir die eerste keer oorsee gaan om vir jou voormalige werkgewers te gaan kuier?

Elsie Louw (56) het verlede Kersfees vir ’n gesin vir wie sy in die 80’s in SA gewerk het, Marian en Marius van der Riet, in Amerika gaan kuier.

 Marian en Marius het lank na my gesoek. In 2008, toe vriende vir hulle in Amerika gaan kuier het, het hulle hul telefoonnommer gegee en gevra dat die vriende se huishulp my moet soek en die nommer vir my moet gee. Sy het my opgespoor, maar daar was ’n misverstand en ek het nie geweet wie se nommer dit is nie. Ek het dit maar in my handsak gesit. Op ’n dag het ek dit weer raakgesien en soontoe gebel.’n Man het die foon geantwoord en toe kom ek agter dis Marius! Hy het gesê hy’s so bly om my stem te hoor en ek moet vir hulle kom kuier. Hulle wou eintlik hê ek moet vir ’n jaar vir hulle gaan werk, maar dit het nie uitgewerk nie. Ons moes toe reël vir my paspoort en visum vir my kuier. Mevrou Miemie Lubbe, vir wie ek nou werk, het my rondgery en gehelp. Ek was siek van spanning die dag voor my vlug. Dit was die eerste keer dat ek gevlieg het. Al my familie is saam lughawe toe.Toe ek eers in die vliegtuig sit, was al die skrik sommer weg.
Dit was so mooi in Amerika. Dit het gesneeu. My oë kon nie alles glo wat ek sien nie. Ons het ook Orlando toe gegaan waar ons vir Marius se seun gaan kuier het, en hulle het my Disneyland toe gevat. Ek het vir hulle pap en sous gemaak. Marian en Marius se skoonseuns ken mos nie daarvan nie. Hulle het hul vingers afgelek! Ek het vir hulle gevra hoekom hulle al hierdie dinge vir my doen, toe sê hulle ek was elke dag vriendelik en ek het mooi na hul kinders gekyk terwyl hulle gewerk het. Nou doen hulle die mooi vir my terug. Dis hoe hul harte oor my voel.

. . . jy, ’n laerskool-leerder, ’n fossiel ontdek – en dis ’n wêreld-deurbraak?

Matthew Berger (11) het onlangs roem verwerf omdat hy saam met sy pa, Lee, twee fossiele in die Wieg van die Mensdom naby Krugersdorp ontdek het. Dié fossiele verteenwoordig ’n nuwe hominied-spesie (mens-spesie) en is die eerste nuwe hominied wat ontdek is sedert Mev. Ples – in 1947.

 

Ek het saam met my hond,Tau, by die Wieg van die Mensdom gestap toe ek ’n stukkie been in die son sien blink. Ek het gedink dis ’n soort bok en het my pa geroep om te kom kyk.Toe hy so vyf meter weg is, het hy begin vloek. Ek het vir hom gevra of ek iets verkeerds gedoen het, toe sê hy nee – ek het ’n hominied gekry! Ek was baie opgewonde, maar ek het nie geweet hoe belangrik die ontdekking is nie. Ek kon nie glo wat ons gekry het toe ek hoor hoe uitsonderlik die fossiel is nie. Ek was baie opgewonde! Ons het sowat ’n jaar en ’n half gelede daarop afgekom, maar ek mag vir niemand behalwe my beste vriend gesê het nie. En hy mag dit vir niemand vertel het nie. Dit was baie moeilik om so ’n groot geheim te hou. My vriende by die skool het gedink ek is so ’n bietjie van ’n celebrity toe ons uiteindelik oor die fossiel kon praat. Hulle het vir my gesê: ‘Jy is beroemd!’

Ek gaan al vandat ek ses jaar oud is saam my pa na die Wieg van die Mensdom toe om fossiele te soek. Hy is baie trots op my omdat ek op een afgekom het. My suster, Megan, is nogal jaloers. Sy gaan soms saam met ons, maar hierdie keer het sy by die huis gebly. Sy’s spyt daaroor. Ek wil ook eendag ’n paleo-antropoloog word, nes my pa. Definitief! Veral nou.


. . jy die Wêreldbeker-sokkertoernooi se embleem, wat jy ontwerp het, oral om jou sien?

Gaby de Abreu (44) se ontwerp is vyf jaar gelede as die amptelike embleem van 2010 se Wêreldbekersokkertoernooi gekies.

As seuntjie het ek oor twee dinge gedroom: sokker en ontwerp.Vir my pa was sokker iets wat jy gespeel het en ontwerp iets wat jy as stokperdjie gedoen het. Jy maak nie ’n lewe uit een van die twee nie. En toe maak ek ’n lewe uit albei! Ons maatskappy, Switch Design, was een van vyf maatskappye in die land wat elkeen ’n paar proef-embleme vir die Wêreldbeker-toernooi moes ontwerp. Dit moes SA en sokker verteenwoordig en wys die toernooi is die grootste sportgebeurtenis ter wêreld. Ek het die Afrika-kontinent as agtergrond gebruik omdat dit die eerste keer is dat die Wêreldbeker hier gehou word. Toe het ek lyne in die kleure van die SA vlag gebruik wat na die suidpunt van Afrika wys – ’n uitnodiging aan die wêreld om hierheen te kom. Op die voorgrond is ’n figuur wat soos ’n rotstekening lyk. Dis ’n verwysing na die Wieg van die Mensdom. Dié figuur doen die fietsskop. Dis een van die moeilikste maniere om ’n doel in sokker aan te teken en simboliseer die flair waarmee Afrikane sokker speel. Ons doen dié skop so goed. Ek glo ek het vyf jaar gelede ’n embleem ontwerp wat nie verouder nie en vanjaar nog vars lyk. Ek voel trots, maar ook nederig. Ek kan dit nou nog nie glo as ek die emblem in ander lande sien wanneer ek oorsee reis nie.Toe ek een keer in Buenos Aires was, het ’n taxi-bestuurder na ’n advertensiebord met die embleem gewys. Ek wou vir hom sê ek het dit ontwerp, maar ek het geweet hy sou my nie glo nie. My pa is ’n week vóór die embleem bekend gestel is, oorlede, maar hy het geweet my ontwerp is gekies. Hy was só trots. Ek dink dit het sy siening oor kinderdrome verander.