Eie stories

Hoe’t jy gevoel toe . . .

Karin Eloff, voormalige ontkleedanseres, gewese redakteur van die tydskrif Loslyf en deesdae ’n joernalis by die koerant Sondag, se opspraakwekkende boek Stiletto (saam met medeskrywer Carel F. Cronjé) vlieg van die winkelrakke en is nou in sy sewende druk.

Dis lekker om te weet daar is mense wie se oë oopgaan oor die oppervlakkigheid van die seksbedryf. Ek het vermoed dit sal goed verkoop, omdat die onderwerp van ontkleedanseresse en die volwasse vermaakbedryf iets is waaroor baie mense wonder. Dis ’n wêreld wat baie nooit betree nie. Terselfdertyd besoek vele mans ontkleeklubs en bordele, maar weet nooit werklik wat in die ‘werkers’ se kop of hart aangaan nie. Ek dink die boek doen goed omdat die bedryf nie verglans word soos dikwels in flieks of toneelstukke nie. As jy eerlik is met jouself, is daar niks glam daaraan om jou lyf te verkoop nie. Ek het juis dié boek saam met Carel geskryf om aan te beweeg en dié deel van my lewe af te sluit. En ook sodat my dogtertjie,Wanya (5), my eendag ten volle sal kan ken. Dit was aaklig om sekere dinge te onthou en ander goed was snaaks. Ek het geleer my enigste doel op aarde is om myself te wees en myself te ken. Die ligte én donker dele. Ek het ook geleer dat ek baie skade gely het in die bedryf. Ek vertrou nie sommer mans nie, maar het goeie mansvriende wat my oortuig het alle mans is nie onbetroubare leuenaars nie. Die reaksie op die boek was ongelooflik. ’n Vrou van sewentig het gesê dit was openbarend. Baie vroue was ook verlig om te hoor ’n ontkleedanseres is ook maar net ’n mens.”