sr0103mystoriemargit1
Eie stories

Hoe’t jy gevoel toe…? (Margit Meyer-Rödenbeck)

Die aktrise Margit Meyer-Rödenbeck (Dowwe Dolla) het onlangs gehoor sy verwag op 39 haar eersteling.

Ek kon op dag tien ná die in vitro-bevrugting (my en my man, Jurg, se tweede probeerslag) ‘n bloedtoets doen, maar toe is ek op die Rhapsody-skip waar Dowwe Dolla ‘n show moes doen op pad na Lüderitz. Ek het ‘n tuisswangerskaptoets ingepak (oukei, eintlik drie!) en dit was positief, maar ek wou nie té opgewonde raak voor ek die ‘amptelike’ uitslag van die dokter kry nie. Die wag het soos ‘n ewigheid gevoel en toe, uiteindelik: dankbaarheid, opgewondenheid, en ‘n effense bang-benoudheid. Ek en Jurg het ‘n jaar lank probeer swanger raak. Hy is 51 en ek het besef ons raak nie jonger nie en moes ‘n prioriteit hiervan maak. Ek het nog nooit so baie geslaap soos die eerste drie maande van die swangerskap nie.

Om ‘n babatjie te ‘bou’ is harde werk! Nou kom ek darem weer in die gim en ek eet báie vrugte. Ek staan sommer vieruur in die nag op vir ‘n perske. Ek wou nog altyd kinders hê, maar dis nou die regte tyd. Ek is bietjie uitgekuier met myself en wéét Jurg is die regte pa vir my kind. Dis ongelooflik hoe alle ander dinge nou tweede kom. Maar ek gaan nie nou terugsit nie – julle gaan my nog baie sien! Daarvoor is ek te vol miere en idees. Ons praat nog van Ertjiepit. Jurg sê as dit ‘n dogtertjie is, is dit seker Tertjiepit. Ons gee glad nie om watter geslag in Augustus in ons arms beland nie, maar ek sal graag wil weet sodat ek solank kan begin babbel met die kleinding. Intussen skryf ek ‘n show oor my ervaring van in vitro-bevrugting.”