sr0905gevoel_4_
Eie stories

Hoe’t jy gevoel toe…

Stephen Hunt, ’n 25-jarige vuurwerk-tegnoloog van Durban, se keuse vir die Idols-oudisies was “Hero”,
’n treffer van popster Enrique Iglesias. Hy’t sy hart uitgesing. Toe kom die beoordelaars se kommentaar.

Vuurwerk? As jy Stephen se optrede moes vergelyk met die geluid van ’n klapper,
hoe sou dit klink? wou Gareth Cliff by Randall Abrahams (’n Iglesias-aanhanger) weet. Waarop Randall toe ’n klein plofgeluidjie maak. Eina!

Dit was beslis nie my beste optrede nie. Ek het goed begin, maar al die stres en my eerste keer op TV het sy tol geëis.
Ek was ’n bietjie van die noot af. Maar as ’n mens aan Idols deelneem, moet jy sterk wees en verwerping kan hanteer.

Ek dink nie die beoordelaars is gemene mense nie. Randall ís nogal ongeskik. Maar sy optrede en ‘opmerking’
was eintlik tong-in-die-kies. Die beoordelaars moet tog sorg vir vermaak.  Ek is nou net méér begeesterd om
volgende keer beter te vaar.

Ek het reeds verlof geneem om later vanjaar aan die Supersterre-talentkompetisie deel te neem en
ek gaan in die toekoms wéér vir Idols inskryf. My selfbeeld is gesond.
Ek het ten minste die moed gehad om deel te neem, so ek is beslis nie verpletter deur Randall se plofgeluid nie.”

En hoe voel Randall sulke tye? “Ek voel glad nie sleg oor dié spesifieke of
enige ander negatiewe opmerking nie. Ek neem musiek baie ernstig op.
Ek’s so eerlik soos wat ek kan wees. Drome is wonderlike goed, maar dit kan
mense vernietig. Ons het al ’n Idols-deelnemer gehad wat ’n matriek
A-kandidaat was, maar sy wou tot elke prys ’n Idol wees. Hoe belaglik is dít?
Ek wil vir hulle sê, beweeg vorentoe. Wees realisties oor jou tekortkominge.”