sr0905gevoel_7_
Eie stories

Hoe’t jy gevoel toe…

Die Wes-Kaap het onlangs onder die ergste veldbrande in nege jaar deurgeloop. In die Helderberg-gebied het die vlamme langer as drie weke gewoed. Dapper brandweermanne het dag en nag gewerk om dit te blus. Ettienne van Bergen, divisiebevelvoerder van die Strand, vertel wat hy ervaar het in die hitte (letterlik) van die stryd.

“Ek is al 22 jaar ’n brandweerman. In sulke tye durf ’n mens nie emosioneel raak nie, want dinge gebeur so vinnig. Jy moet duisende besluite neem en feite analiseer vir die beste resultate. Die adrenalien hou jou aan die gang.

Die spogplaas Lourensford op Somerset-Wes was die eerste eiendom wat deur die brand bedreig is. In ’n stadium was sowat 150 brandbestryders in ’n ‘brandlyn’ in ’n denneplantasie toe die wind draai en die vlamme reguit op ons afkom. Ons moes vinnig ontruim en alle beskikbare helikopters gebruik om die brande te blus en te keer dat personeel verder bedreig word.

Op die Knorrhoek-plaas naby Somerset-Wes het die brand vinnig in die kloof tussen twee luukse grasdak-lodges af beweeg. Die wind het dit weggewaai van ons af, maar toe die brand regoor die lodges kom, het dit 180 grade gedraai en bo-oor ons en ons voertuie gespring. Ons moes ons span vinnig bymekaarmaak en vir ons ’n pad oopspuit van onderin die kloof sodat ons weer veilig bo kon uitkom.

Ek het ’n vrou, Judy, en ’n seun, Dian, maar ek vrees nooit vir my eie lewe nie. Ek dink aan die veiligheid van die manne wat saam met my werk. Jy weet nooit wat om te verwag nie. Daar is ouens wat rook ingeasem en enkels verstuit het. Daar was tot 200 mense, ook vrywilligers, wat 36 uur aaneen gewerk het.

Dié soort brand tap elke greintjie energie uit ’n brandbestryder. Jy werk in moeilike weersomstandighede soos stormsterk winde en hoë temperature, en dikwels op plekke waar nie eens viertrekvoertuie kan ry nie! Ons dank net ons Hemelse Vader wat ons beskerm.”