sr0911hjg_7
Eie stories

Hoe’t jy gevoel toe . . . (Emmy-benoemde Emelia Weavind)


Emelia Weavind is saam met ‘n span vir vanjaar se Emmy-toekennings in die afdeling beste kunsdireksie vir die internasionale mini-reeks Generation Kill benoem. Dit handel oor die eerste Amerikaanse soldate wat Irak toe is. Emelia woon in Kaapstad en werk die afgelope 24 jaar in SA én oorsee as kunsdirekteur en produksieontwerper vir TV en flieks. Sy was ook kunsdirekteur van die hoogs suksesvolle SA fliek District 9.

“Ek’t nie in ‘n miljoen jaar gedink ek sou benoem word nie. Werksbevrediging is vir my belangrik, maar dis spesiaal as jy met ‘n internasionale toekenning erkenning kry op grond van jou persoonlike prestasie. Ek was op my senuwees voor die toekenningsgeleentheid op 20 September. Hoewel ons nie met die Emmy weggestap het nie, was ek bevoorreg om net saam met die span benoem te wees. Wen is nie alles nie. Dit beteken baie vir SA. Vier plaaslike film-tegnici is vanjaar vir Emmys benoem. Dít laat die res van die wêreld met ander oë na ons kyk.

Ek was al op baie rolprentstelle waar buitelandse filmmakers Suid-Afrikaners geprys het omdat ons so professioneel en talentvol is, maar die Emmys sit ons in die kollig! Ek dink my werk vir Generation Kill is uitsonderlik, omdat ek meestal met rommel, wrakke en Amerikaanse marinetoerusting gewerk het. Om dít in kuns te omskep is nie maklik nie. Ek het op ‘n plaas op Stellenbosch grootgeword. Ek het vir drie jaar kuns studeer en uiteindelik Johannesburg toe getrek om daar as stelontwerper vir die SAUK te werk. Ek’t myself by my eerste fliek, My African Adventure, ingewurm. Ek moes vir twee weke as sierskrywer (signwriter) werk. Daarna het ek geweier om te loop. Sedertdien werk ek aan flieks.”

Klik hier om die Emmys se webtuiste te besoek.