sr0905gevoel
Eie stories

Elzabé Zietsman: “Ek het op 47 probeer om ‘n surrogaat-ma te wees”

Elzabé Zietsman, kabaretster, aktrise, gastehuis-eienaar en sjef van Zietsies in Aucklandpark, Johannesburg, was bereid om verlede Julie, op 47, surrogaatma te wees vir haar niggie en dié se man van Pretoria.

Ongelukkig was die probeerslag onsuksesvol.

Dit was die grootste teleurstelling van my lewe. Ek het só geglo in my eie vermoëns en was só voorbereid daarop dat ek dit gaan regkry. Die les wat ek moes leer, is dat ek moontlik moet begin besef ek kan nie alles vermag waarop ek my kop sit nie. Maar ek sal nie twee keer dink om dit weer te doen nie.

In my hart glo ek as twee mense kinders móét hê, is dit daardie twee. Hulle is ongelooflike individue met ’n heerlike sin vir humor, en albei gek na kinders. Ek wou in my jeug verskriklik graag kinders gehad het, maar het in my laat dertigs om selfsugtige redes besluit dit sal nie vir my werk nie. Ek het altyd my huishulpe se kinders in my huis grootgemaak. Toe my niggie in Februarie verlede jaar vra of ek hul surrogaatma sal wees, het ek dadelik ingestem.

Dit was duur – sowat R60 000 – en in daardie stadium het hulle reeds twee onsuksesvolle in vitro-bevrugtings agter die rug gehad. Dit was vir hulle biologies onmoontlik om kinders van hul eie te hê.

Ek het myself emosioneel voorberei deur daaraan te dink as hul kind wat ek vir nege maande gaan oppas. Maar dit was nie ’n piekniek nie. Groot hoeveelhede hormone word in jou lyf ingespuit. Sedert ek ophou drink het, het ek baie koffie gedrink en gerook. Ek moes dit in die vier maande lange voorbereidingstydperk baie verminder. My liggaam is al ouer en ek moes dikwels teen middagete ’n bietjie gaan rus.

Die oggend voor die prosedure, in Julie 2008, was my suster, Retha Schoeman, en my niggie-hulle almal by my en ek was ontsettend opgewonde. Dit was ongemaklik, maar nie juis pynlik nie. Drie bevrugte eierselletjies is ingeplant.

 

Toe ons

twee weke later

die uitslag kry,

was ek woedend

vir my liggaam.

 

Later is vasgestel dit was waarskynlik die skenker-eierselletjies se ‘skuld’ dat alles nie uitgewerk het nie. My niggie-hulle was gebroke en het dadelik vir my gevra of ek weer daarvoor sou kans sien.

Maar omdat dit so duur is, het hulle sowat vier maande later besluit om liewer voort te gaan met aanneming.”

Besoek ook www.elzabezietsman.co.za