Eie stories

Hoe’t jy gevoel toe jou dogter naak poseer vir ‘n tydskrif? – Christina Storm se pa praat

Die land het gegons oor die naakfoto’s van bekendes wat in die Februarie-uitgawe van die tydskrif Marie Claire verskyn het, glo om mense bewus te maak van geweld teen vroue. Die model en Egoli-aktrise Christina Storm het ook saam met haar destydse kêrel, sanger Munro du Toit, geposeer, maar agterna beweer die tydskrif het haar uitgebuit omdat hulle glo sonder haar toestemming ‘n vollengte naakfoto gepubliseer het. (Marie Claire ontken dit.) Hoe voel n pa oor sulke foto’s van sy dogter? Chris Storm, deesdae afgetree op Kleinmond, vertel.

“Dikwels word iets wat goed bedoel is, teruggeklap in jou gesig, en dís wat nou met Christina gebeur het. Natuurlik het die hele voorval spanning by haar veroorsaak, maar nie tussen ons twee nie. Ons het ‘n besonderse vertrouensband.

Soveel dat sy my handtekening op haar arm laat tatoeëer het. Ek is baie trots op haar omdat sy die durf gehad het om grense te oorskry. Sy wou ‘n sterk boodskap uitdra oor geweld teen vroue. Dié wat fout vind met die foto’s, ken nie die verskil tussen estetiese en perverse naaktheid nie. Dis waarskynlik mense wat nie eens in staat is om in ‘n spieël na hul eie onooglike lywe te kyk nie.Nêrens in die Tien Gebooie staan jy mag nie naak wees nie. Baie mense wat klippe na Christina gooi, is skuldig daaraan dat hulle gewetenloos roofkopieë maak van CD’s en DVD’s waaruit Christina en andere hul daaglikse brood moet verdien.

Christina is nie naïef nie. Sy’t besef wat sy doen. Sy het bloot gesê sy is nie geraadpleeg oor wátter foto geplaas word nie, nie dat die foto’s sónder haar toestemming genéém is nie. Sy’t ‘n sterk persoonlikheid en is al deur baie krisisse. Ek ondersteun haar ten volle.”