sr0903gevoel04
Eie stories

Hoe’t jy gevoel toe . . .

. . . die regter sê jou ma het Taliep Petersen vermoor
Sulaiman Effendi, Najwa se seun

Applous het losgebars in die Kaapse Hooggeregshof en die Moslemkreet Allahu al Akbar (God is groot) het hard opgeklink toe Najwa Petersen onlangs skuldig bevind is aan die moord op haar man, die bekende musikant Taliep Petersen. Maar een jong man se lewe sal nooit weer dieselfde wees nie . . . Die koerantfoto van die aantreklike Sulaiman Effendi (20), Najwa se jongste seun uit haar vorige huwelik, het mense bygebly. Pas ná die hofuitspraak was skok, ongeloof en trane duidelik op sy jong gesig te sien.

“Daardie vreeslike oomblik in die hof is een wat ek nog moet verwerk. Dis asof ek niks daarvan kan onthou nie. Wat ek wél onthou, is die oomblik net ná die uitspraak toe ek na my ma toe gestap het . . .

“Dwarsdeur die verhoor het almal gesê sy wys dan geen emosie nie, maar ék het haar tydens die hofsaak gevra om asseblief nie te huil nie. Want dit sou my doodgemaak het van binne om elke dag daar te sit en haar trane te sien. Ek onthou ek het ná die skuldigbevinding vir haar gesê sy mag nou maar huil. Sy het heeltemal ineengestort. Ons het saam gehuil.

“Die hele drama het my laat besef ek het tot dusver baie dinge as vanselfsprekend aanvaar. Soos toe my ma heeltyd by die huis was. Ek kyk nou anders na haar en waardeer haar veel meer. Alles wat ek is en het en nog sal kry, al sou sy ook in die tronk bly, het ek deur haar gekry. En nou gaan sy nie meer daar wees nie . . .

“In die Kersvakansie het ek en my sussie, Zainab (Najwa en Taliep se enigste kind, 9) in Namibië gaan vakansie hou om weg te kom van alles en te rus. My hart is absoluut gebroke, want ek glo die regsproses het ons in die steek gelaat. As dit nie vir die ongelooflike ondersteuning van my familie en vriende was nie, sou ek dit sowaar nie kon hanteer het nie. Wanneer ek oopmaak teenoor hulle, luister hulle en dis goed om te weet dat ek hulle honderd persent met my gevoelens kan vertrou. Húlle is my sielkundiges.

“Die krisis het my baie sterker gemaak. Intussen is ek daar vir my sussie, ek was van dag een af, en sal altyd wees. Dit gaan goed met haar.

“Ons gaan beslis teen die uitspraak appelleer. Ek sal my ma besoek tot haar verhoor vir vonnisoplegging (op 4 Februarie, wanneer SARIE al ter perse gegaan het) en elke oomblik saam waardeer.”

– Riette Rust

. . . jou naam uitgeroep word as een van die top-5-finaliste in die Mej.Wêreld-kompetisie?

Tansey Coetzee (Mej. SA 2007)

Mej. SA, Tansey Coetzee
Ons voormalige Mej. SA, Tansey Coetzee, het in Desember verlede jaar byna die Mej. Wêreld-kroon gedra. 

“Ek was baie trots om in die top-5 te wees. My eerste reaksie was: ‘Sjoe, ek het dit reggekry!’ Daarna het ek onmiddellik begin dink aan wát ek vir die beoordelaars gaan sê wanneer my vraag gevra word. Baie mense verwag ‘n Mej. Wêreld moet ‘n oplossing vir die wêreld se probleme hê, maar dis nie waaroor dit gaan nie. Jy is bloot ‘n ambassadeur vir jou land wat ‘n goeie voorbeeld moet stel en positiewe werk moet doen. Ek was nogal op my senuwees, maar ek het die adrenalien as dryfkrag ingespan.

“Dit was ook die eerste keer in 10 jaar dat ‘n Mej. SA onder die top-5 was. So, ek het baie goed gevoel dat ék die een is wat dit kon bereik. Dis op sigself ‘n wonderlike prestasie. Ek het regtig in ‘n stadium gedink ek gaan wen, veral omdat die kompetisie in SA gehou is. Ek het reeds vermoed wie die ander vier meisies sou wees, want jy is 4 weke saam met al die meisies – jy maak maar vir jouself ‘n lysie oor wie jy dink in die top-5 gaan wees en wie gaan wen. Ek het geweet Mej. Rusland sal een van hulle wees, maar jy staan steeds op die verhoog en hoop dis jý wat die kroon gaan dra.”

. . .  jy nié as Mej.Wêreld gekroon word nie?
Ná die eerste en tweede prinsesse gekroon is, was dit tussen Tansey, Mej. Rusland en Mej. Angola om die Mej. Wêreld-kroon te dra.

“Ek was vol vertroue totdat die naam van die wenner aangekondig is. Ek het geweet as ek nie wen nie, sal dit Mej. Rusland, Ksenya Sukhinova, wees. So, dit was nie vir my só ‘n groot skok nie. Toe haar naam uitgeroep word, het ek vir haar ‘n soentjie en ‘n drukkie gegee en gesê: ‘Jy verdien dit.’

“Ek het vir myself gesê God beplan iets anders vir my. Ek het nie gevoel asof my wêreld in duie stort nie, want ek het geweet daar lê nog baie dinge vir my voor. Daar ís al ‘n paar groot planne vir 2009 – maar meer daaroor later!”

– Cherice Smith

. . . jy vrygelaat word ná jy skuldig bevind is aan moord op jou seun?

Ellen Pakkies

Ellen Pakkies

Ellen Pakkies (48), ‘n voormalige verpleegkundige en ma van drie van Lavender Hill op die Kaapse Vlakte, het op 12 September 2007 haar tikverslaafde seun, Abie, in sy slaap verwurg, nadat hy haar jare lank mishandel het. Sy is onlangs skuldig bevind aan moord en gevonnis tot 3 jaar tronkstraf, wat vir 3 jaar opgeskort is, en 280 uur gemeenskapsdiens.

“Ek het gevoel God se wil geskied toe ek as ‘n vry mens uit die hof stap. Ek probeer nou net deur elke dag kom. My man en ander twee kinders probeer ook nog alles verwerk. Ons het die ander aand baie teruggedink aan die tyd toe Abie klein was. Maar my gesin het gesien hoe Abie met my aangegaan het. Dié ding gaan altyd saam met my wees, waar ek gaan …

“Ek wéét dis ‘n onnatuurlike ding vir ‘n ma om aan haar kind te doen. Ek het nou nog nie regtig daaroor gekom nie. Dis net God se genade wat my deur elke dag trek. Ek wou net mooi dinge vir al my kinders gehad het en ek het almal ewe veel liefgehad.

“As klein seuntjie was Abie altyd naby aan my. Hy het stil met sy karretjies gespeel. Hy het omgegee vir my. As ek siek gevoel het, het hy by die huis gebly en vir my gesorg. ‘Mammie, kan ek vir jou tee maak?’ sou hy dikwels vra. Of hy sou vir ons pap en broodjies maak.

“Later, in sy grootwordjare, het hy baie vriende gehad. Hy was ‘n liefdevolle kind. Toe ontdek hy tik op 14.

“Ek weet wat ek gedoen het, is ‘n groot misdaad, maar tik het my seun se persoonlikheid verander. Dis nie ‘n mooi prentjie nie. Tik het hom in ‘n monster verander. Dit was nie meer die mens wat ek gebaar of grootgemaak het nie.

 

Tog glo ek God het ‘n plan

“Hy het ons soms met ‘n mes aangeval, en die gordyne aan die brand gesteek as ons nie vir hom geld gegee het vir tik nie. Hy het selfs my onderklere gesteel. Soms was ek te bang om na die badkamer buite die huis te gaan as hy naby was, omdat hy so aggressief was. Ek wil dit nie eens onthou nie. Dis te seer.

“Toe ek onlangs by Abie se graf in Plumstead was, het ek gehuil. Dit was verwaarloos. Daar was nie eens ‘n kruis op nie.

“Die oomblik nadat ek hom verwurg het, het ek God om vergifnis gevra. Ek het myself dieselfde dag aan die polisie oorgegee. Ek was baie alleen in dié stryd, maar ma’s moet weet hulle kan hulp kry by maatskaplike werkers, by die howe, by ander ma’s . . .

“Dis jammer dat só iets eers moes gebeur voor ek ander kon help. Dit het vir mý gevoel die wêreld sak onder my in. Tik is nie net ‘n ma se seer nie, maar skeur die hele gesin uitmekaar. Tog glo ek God het ‘n plan. Kyk net na Sy hand: My prokureur het gratis vir my opgetree, die psigiater het gratis berading gedoen. Vriende en onbekendes het vir my gebid. Miskien is dit Sy plan dat ek nou ander moet help.”

– Marguerite van Wyk

. . . jou 13-jarige groeigestremde seun die eerste keer op die verhoog saam met jou dans?

Ian von Memerty en sy gesin

Ian von Memerty

“Vermaaklikheidsterre Ian von Memerty (ook bekend as aanbieder van Strictly Come Dancing op SABC2) en sy vrou,Vivienne, se dogtertjie Valeska is op 18 maande met die genetiese metaboliese siekte MPS 6 gediagnoseer. Toe Vivienne met Oscar swanger was, het sy uitgevind dat hy dit ook het. Dit kan dwergisme, doofheid, blindheid en verlamming veroorsaak, en lyers word dikwels nie ouer as hul tienerjare nie. Valeska is in Augustus 1998 oorlede. Onlangs het Oscar op 13 saam met sy ouers en sussie, Kasvia (8),’n hip-hop-vertoning in die produksie A Celebration gelewer – sonder dat hy een dansles in sy lewe gehad het! Ian vertel.

“Dit was ‘n heuglike, senutergende oomblik. Oscar is ‘n daaglikse ‘wonderwerk’ wat almal inspireer. En dit was lekker om iets wat vir hom spontaan kom te sien. Hy het homself leer dans. As hy op sy nek tol, kan dit breek. Maar ek was nie bekommerd nie – dis nie gevaarlik nie, solank hy nie op sy kop tol nie.

“Ondanks twee beenmurgoorplantings voor sy sesde lewensjaar en die uitdagings van sy lyf, is Oscar een van die sjarmantste, mees emosioneel gebalanseerde mense wat ek ken, en trots op homself. Van sy geboorte af was hy ‘n sonskynkind met ‘n kalm, stralende selfvertroue. Ons het hom nog altyd aangemoedig om onafhanklik, liefdevol en dankbaar te wees.

“Dié vertoning, waaraan ons hele gesin deelneem, is ‘n viering van die lewe waarin ek alle verhoudinge eer – my 28 jaar met die klavier, 25 jaar in die vermaaklikheidsbedryf, 20 jaar met my vrou, 16 jaar van ouerskap, en die belangrikste, ‘n gelukkige gesinslewe. Kasvia sing en dans, Vivienne dans ook elegant, Oscar se hip-hop is ongelooflik, en ek sing, dans, speel die klavier, vertel die storie en vertel grappe. En swéét!

“Maar hoewel dit maklik klink, beteken dit nie als is altyd eenvoudig nie. Ons streef deurentyd na ‘n balans tussen die paradokse in die lewe. Die eerste sin in M. Scott Peck se The Road Less Travelled – ‘Life is difficult’ – som dit eintlik goed op. Die oomblik as jy dít verstaan, is dit eintlik eenvoudig. Want dan verstáán jy die lewe ís moeilik. Oscar en Valeska se siekte het ons geleer die dood is onafwendbaar.Wat eintlik saak maak, is hoe jy lewe vóór die dood, gegewe jou omstandighede.

“Hoe bly ons gesin so gelukkig en positief? Dis grootliks ‘n keuse. Harvard het ‘n studie gedoen oor wie die gelukkigste mense op aarde is. Ryk, arm, manlik, vroulik – die gemene deler was meestal dankbaarheid. Ek glo nie aan ‘n spesifieke godsdiens nie, maar ek glo sterk aan beginsels soos respek, aanvaarding, energie, dissipline, liefde en dankbaarheid.”

– Marguerite van Wyk