Eie stories

Laaste groet aan ‘n skoonma

Liewe Ma

Wie het nou ooit kon dink ’n vulkaanuitbarsting sou my weghou van Ma se begrafnis? Nou skryf ek maar hierdie brief, om sommer vir oulaas vir Ma dankie te sê.

Dankie vir die goeie voorbeeld wat Ma altyd vir my was.

Dankie vir al die bederfies wanneer ek daar gekuier het, soos die lekker smoorsnoek wat Ma spesiaal vir my gemaak het, en die vars katjiepierings wat spesiaal vir my gepluk is van die boom voor die huis.

Dankie vir die gebreide bedsokkies vir my koue voete wat altyd mooi op die bed gelê en wag het vir my.

Dankie vir al die baie lekker kuiers by ons in Swakopmund. Hoe lekker het ons nie saam gesit en brei nie. Dit was heerlik vir my om so saam met Ma te kuier. Ek het altyd na die besoeke uitgesien.

Dankie vir die lesse om regte blaardeeg te maak, én smoorsnoek. En dat Ma my geleer het aartappel kook nie gaar in tamatie nie.

Dankie vir al die pragtige handgebreide truie en die gehekelde tafeldoeke en lappies. Vir al die potjies  konfyt, so mooi ingepak – eers toegedraai in papier, dan in ’n plastiek broodsakkie en dan in ’n boksie!

Dankie dat Ma my hele familie altyd laat welkom voel het en dankie dat ek altyd so welkom was. Ma het my altyd so STYF gedruk wanneer ek daar gekom het, en dit was so lekker vir my.

Dankie dat Ma my man met sulke goeie waardes grootgemaak het. Dat Ma my so onvoorwaardelik aanvaar het as Ma se skoondogter. Ek weet die feit dat Ma soms stilgebly het, het nooit beteken Ma het niks gehad om te sê nie …

Dankie dat Ma nooit lelik of kwaai met my was nie.

Dankie vir al die mooi verjaarsdagkaartjies. Laasjaar se kaartjie het ek veilig gebere, want miskien het ek diep in my hart vermoed dat dit dalk die laaste een kon wees. Dit het altyd vir my gevoel of Ma die kaartjie spesiaal vir mý uitgesoek het.

Dankie dat Ma lief was vir my, en dit vir my gesê het. Ek het mos al hierdie dinge vir Ma gesê toe Ma gelewe het, maar ek wou dit net nog vir oulaas ’n keer sê.

Vrydagoggend toe ek die tyding kry dat Ma gesterf het, het ek net stil op die bank bly sit, en my heel eerste gedagte was aan hoe sag en mooi Ma se hare altyd was. Hoe mooi versorg Ma altyd was.

Ek het gewonder hoe Ma se ontmoeting ná al die baie jare met Pa en Annes was, en of die besem toe onder die boom vir Ma gewag het?

Toe het die hartseer gekom …

Rus sag in Jesus se arms, want Hy weet presies hoe nodig Ma hierdie ewige rus het ná so ’n vol lewe.

Ma bly altyd in my hart.

Met liefde,  Ma se Santie-kind