Eie stories

Huldeblyk aan Izak de Villiers

Goeie ou gees
Op my 21ste verjaardag skryf Pa aan my: Solank ek leef, sal ek daar wees vir jou, soos ‘n goeie ou gees wat saam met jou beweeg.

Op 27 September 2009 word ek wakker en die goeie ou gees wat altyd saam met my beweeg het, is na Bo.

My rots, my vashouplek, my vrede, my gróót liefde is nie meer nie. My sonskyn, my somerreën, my lentebloeisels het verwinter. Ek verlang, ek is hartseer, ek voel alleen. Ek dink aan sý woorde: Uit stelling en teenstelling, uit die botsing van goed en kwaad, uit reg en onreg kom daar altyd met die hulp van God ‘n besef van: Dit het tog reg uitgewerk. Geen seer hou nie ook iewers ‘n glimlag in nie.

Ek glimlag, met ‘n traan. Ek wéét die goeie ou gees sal altyd saam met my beweeg en ook met dié wat hom liefgehad het, van naby én van ver.

Chérie de Villiers-Golding, dogter

Vir alles
Vier weke voor Ds. Izak se dood het ons die laaste keer gesels; hy het gebel ná ons geliefde kind se dood. Ek het op my seun se bed gaan sit. Ds. Izak het vertel van sy eerste depressie-hellevaart, ouderdom 17. Hy het my, ontroosbaar, probeer troos, al het sy siekte hom moeilik laat praat.

Onthou, my kind, hoe vies ek was toe ek wou hê jy moet my opvolg, en jy’t jou kinders gekies? Ja, Ds. Izak. Maar, Ds. Izak, ek het nogtans een van hulle verloor! Nee, my kind, nee, hy bly by jou . . .

Nou is ook Ds. Izak nie meer daar nie. Ons het ‘n unieke stem en woord-erflating in Afrikaans verloor. Maar ons het ook ‘n skakel in ons SARIE-familie verloor, ‘n hegte kring uit ‘n tyd wat hy so graag ons Camelot-dae genoem het. Wat geëindig het in ons laaste gesprek, waarin hy, reeds so siek, my en my huis geseën het.

Dankie, Ds. Izak, vir alles.

Lizette Rabe, vorige SARIE-redakteur

Onvergeetlik mens
Ja, Izak, nou is jy ook weg. Jy wat jou lewe lank op weg was, altyd bewus van jou eintlike bestemming. Maar ‘n aweregse pelgrim was jy. Joodse kalotjie op die kop, bedevaartstaf in die een hand, en ‘n vlymskerp herneuter in die ander. Hier op aarde was jy geen slaafse eerbiediger van grense en denkrigtings nie.

Daar in die Hiernamaals, kan ek my verbeel, sal jy antwoorde bly soek, die groot misterie van goddelikheid en van menslikheid probeer peil, met heilige erns in jou stem en aardse plesierigheid in jou lag. Dit wat jou so onvergeetlik mens gemaak het.

Joan Kruger, uitgewer

Gedigte

Ja,Broer,

ons weet tog die lewe

is net ‘n tongklik lank,’n voetswik ver.

Maar jy sal regop loop, op jóú tong

‘n mondvol woorde,’n druiwekorrel

uit die Pêrel vir die pad.

– André le Roux


Bekendeling

Vanoggend sien ek ‘n foto

van jou, jy stap

hande agter die rug gevou:

bome verloor hul bloeisels

waar jy, één van hulle nou

in die laning staan,

jou oë half toe. Jy dig

oor die vervreemding

van bloeisels: die vál.

– Lou-Ann Stone

Lykdig
Vir Izak

Het jy ooit kon dink, ou knorpot,
dat jy vir Roman Polanski
na Bladsy 3 sou uitskuif
as groter, relevanter nuus?
As koerantman sou jy waarskynlik
grinnik oor só ‘n skuif.
“Wag, sit neer, ek bel jou weer!”
Wat sou jy maak van dié wandelende Jood
se onverwagse inhegtenisname in Zürich?
Dit was jý wat te vertelle had
hoe sy moeder in Auschwitz die lewe laat,
daarna die jongeling altyd op vlug;
op skool ‘n voorvelletjie gevorm uit kerswas
om Nazi-parades te fnuik; Sharon Tate se dood,
en uiteindelik die media-sirkus:
verkragting van ‘n dertienjarige.
‘n Regter wat sy woord nie hou.
Op ‘n aand kyk ek na Knife in the water,
die klank afgeskakel, toe jy bel.
Boots lewe die kuns hier na
of gebeur dit dalk als ándersom?
Nóż w wodzie.
Raak ons moeg gesluk aan lewenswalging
sodat ons begin stik aan blote verontwaardiging?
Die koerantman sou ánders as die digter beslis
omdat hy vervreemdeling én verskoppeling is.

– Joan Hambidge

 

Kiekies uit ‘n laai

Ek begin,”My ouma.” Izak val my in die rede, “Nee, MY ouma . . .” Die plek? Sy kantoor by SARIE. Die tyd? Laatmiddag oor ‘n koppie tee. En dan verloor tyd tydsduur. Dit word ‘n ewige kiekie van Bolandse bloed, so rooi soos sy gunsteling-rooi-rooi dasse.

Ek het Izak nog altyd bewonder, toe en nou. Sy vlymskerp verstaan. Sy liefde vir mense. Sy geduld en oorredingsvermoë. Hy vra my om oor skottelvleis in Januarie te skryf. Ek wil met slaai rebelleer. Dan dink ek na oor sy voorstel en besef hoe goed hy (en moenie vir Rina, sy vrou, weglaat nie) sy lesers, sy mense ken. Hulle het tyd nodig om te besin en te herkou.

Wysheer, wysgeer. Ná SARIE werk ek en hy weer saam by Rapport. Ek besoek die koerant en Izak stel my met trots voor as deel van sy SARIE-wenresep. ‘n Simboliese kiekie oor inspirasie, besieling. Vir sy sewentigste verjaardag het ek vir hom ‘n pragtige ontwerpersdas gekoop. ‘n Rooie, maar met blou in. ‘n

Das vir ‘n bloubloed Afrikaner, ‘n das vir ‘n vriend. In jou woorde uit “Dit is volbring”, groet ek jou met skaaprib, bruin gebraai.

Peter Veldsman,

gewese SARIE-kosredakteur

Waardige ikon

Ek het Izak eers ‘n jaar of wat gelede, jare nadat ek begin het om sy rubriek te illustreer, vir die eerste keer ontmoet. Ons het baie goed aanklank gevind, dalk omdat ons albei eers dominees was en albei ‘n liefde vir boeke, tydskrifte en koerante gehad het.

Sy rubrieke het ‘n perfekte balans gehandhaaf tussen humor en erns, en daar was altyd ‘n gedagte wat ‘n mens daaruit kon oorhou. ‘n Ikon in Afrikaanse huise se stem het nou stil geraak. Maar soos met alle waardige ikone, sal hy vir jare nog teenwoordig wees in mense se herinnerings.

Piet Grobler, kunstenaar

Soos ‘n pa

Izak, jy was soos ‘n pa vir my. Die dae sonder jou sal moeilik wees. Destyds het ek ‘n heildronk op jou ingestel; nou salueer ek jou met liefde.

Lerine van der Spuy, oud-SARIE-kollega

Brood en sardiens

Van die eerste oomblik dat ek Izak de Villiers in 1974 ontmoet het, het ek geweet dat ons vriende sou word. Dit was nie oor die feit dat hy vir die destydse BY ‘n godsdiensrubriek met ‘n heeltemal nuwe

aanslag as sy voorgangers sou skryf nie (en later ook vir my by SARIE).

Dit was oor sy innemendheid, menslikheid en humorsin. Toe hy in ‘n stadium erg gekla het oor die karige geldjie wat ons hom betaal het, het ek eendag na sy pastorie in Constantia gery om ‘n halwe bruinbrood en ‘n blikkie sardientjies aan hom te skenk. Sy lag daardie dag weerklink steeds in my ore.

Oor hom kan ek net die woorde van die digter Jan F.E. Celliers oor genl. Christiaan de Wet herhaal: “Stil broers, daar gaan ‘n man verby.”

Fritz Joubert, eertydse SARIE-redakteur