Eie stories

Ilse Swart van Ventersdorp, skryf:

Vir jou!

Daar is miljoene mense op die aarde en ek het vasberade en vasbeslote my soektog begin na die perfekte persoon wat my voete onder my sou uitslaan. Dae het weke geword en weke het maande geword, maar jy was nêrens te vinde nie.

Later het ek die aftog geblaas en was so half op moedverloor se vlakte.

Een warm somersdag het jy skielik net voor my gestaan. Ek het droomverlore na jou gestaar en skaamteloos gewonder of jy jou ongebore kinders in my oë kon sien.

Ons was eers net pelle en stadig maar seker het ons liefde vir mekaar al groter en sterker begin groei.

Elke keer wanneer ek na jou kyk, begin vlinders in my maag dans en elke keer wanneer ons oë ontmoet, slaan my hart bolmakiesie. Dit voel dan vir my of ek uit my nate gaan bars.

Ons liefde het baie klein begin, byna so klein soos miertjiespore, maar vandag staan dit so vas soos ’n stewige rots.

Jy het my voete onder my uitgeslaan. Ná ons inkopies gedoen het, was ons voete seer geloop. Die draairoomys het begin smelt, maar in die motor het jy my gevra of ek jou vrou sal word. Seker vir die eerste keer was ek sonder woorde. Ek het met my kop ’n “ja” geknik, en jy het die grootste, mooiste, asemrowendste ring aan my vinger gesit.Jy het nie eens omgegee of die roomys op die matjie drup nie, jy sou dit later skoonmaak.

’n Parkeergarage is seker een van die wonderlikste plekke wat daar is. Ons het trou aan mekaar gesweer en so ook beloof om getuies van mekaar se lewens te wees met dit wat ons elke dag doen. Ek het beloof dat niks ongesiens verby sal gaan nie … die skaterlagtye, die hartseer-tye, probleem-tye wat opgeduik het en later weer soos mis voor die son gewyk het.

Ek probeer elke dag deur my optrede wys dat wat jy doen, vir my saak maak. Vergewe my as ek soms nie daarin slaag nie. Ek is net mens en smoorverlief op jou.

Dankie dat jy ná al die jare my steeds elke oggend wakker maak met ’n koppie koffie in die bed. Dankie dat jy douvoordag soggens werk toe ry. Jy raak seker keelvol vir die verkeer, maar jy lag dit af omdat jy dit vir óns doen.

Jy maak dit vir my moontlik om my eie ding van die huis af te doen. Of ek nou varkies vang wat gebore word, kalwers inspuit, lammers doseer, seep maak, koek bak of kook jy. Jy staan altyd bankvas agter my.

En wanneer ek nie aan nuwe idees kan dink nie, hou ons twee ’n dinkskrum en saam ontpop wonderlike nuwe skeppings. Dankie dat jy so trots is op my!

Soms wonder jy seker of ek trots is op jou. Ja, geweldig, al is ’n projek nie altyd suksesvol nie. Teen dié tyd weet ek jou siel sal nie rus voordat jy dit nie reggekry het nie, want jy het wonderlike deursettingsvermoë.

Ek bewonder jou vir al die kennis wat jy saam met jou dra. Nog nooit het ek nodig gehad om my te skaam vir jou nie, want jy kan oor enigiets gesels. Soms is ek so verstom dat my mond oophang. Heimlik het ek al gewens dat ek net ’n kwart van jou kennis kan hê, want volgens my is jy superslim!

Wanneer jy van die huis af weg is, voel als leeg sonder jou. Dan staar ek droomverlore na die lucky packet-ring wat jy vir my gekoop het by die winkeltjie op die hoek. Saans, as ek gaan slaap, is daar geen warm lyf om teen te lê nie. Dan mis ek jou arm wat altyd beskermend om my vou. Ek raak dan so weerloos en my gedagtes loop verlangpaadjies reguit na jou toe. Maar wanneer jy terugkom, kan ek lag saam met die wind en dans saam met die reen.

As ek ongelukkig was by tye en jou nie daarvan vertel het nie, is ek so jammer, maar ek kon nie die risiko loop om die een mens wat ek die liefste het, dalk onnodig seer te maak nie.

Vir altyd joune