Eie stories

In my kind se wêreld …

Soms dink ek ons leef in ‘n wêreld van “ek wonder hoekom …” Ons is die ouers van ‘n intellektueel gestremde kind. Vir ons was daar geen tekens, geen waarskuwing nie. Net eensklaps was ons in ‘n wêreld van ‘n grootmens met die verstand van ‘n kind geplaas.

Vir byna 25 jaar al lewe ons in dié wêreld. Sommige dae gaan dit goed en ander dae nie. Vakansies is moeilik omdat ons kind 24/7 aandag nodig het.

Ná sy boetie se afsterwe op 16 het ons ook agtergekom juis hoe sy wêreld een is van geen hartseer, geen verlange en  niks wat seermaak of saak maak nie. Soms is die wêreld om ons ongevoelig en word ons dikwels seergemaak. Ander kere weer is dit so wonderlik om te sien hoe mense jou kind uitsonder en hom net as “gewoon” sien.

Ons besef ons kind het ook drome, wat seker nooit bewaarheid sal word nie. En dit maak seer. Tog is dit vir ons ‘n troos dat God altyd daar is om te ondersteun, veral wanneer ons moeg en hartseer is.

Ek weet baie min van my kind se toestand af, en ek moes leer om dit te aanvaar. Ek weet nie of daar ouers is wat, soos ons, ook ‘n intellektueel gestremde kind het nie. Dalk kom daar ‘n boodskap van hoop en geloof uit dié “ek-wonder-hoekom”-wêreld.

Johan Bouwer
079 773 4980
021 918-7417
Johan.bouwer@capertown.gov.za

  • Karin Sinclair

    Johan, wät n alleen, maar ook wonderlike pad van liefde, om te stap. Ek het n gestremde (beter woord "geremde") dogtertjie gehad.

    God weet beter, Hy gee hulle net vir sekere ouers, omdat öns hul onvoorwaardelike liefde nodig het.

  • Anna-Marie van der Berg

    Johan, ek is die mamma van ‘n Down sindroom seuntjie, ons engel kind. Hy is al 5 jaar oud en kan net enkele woordjies sê. Lewe baie in sy eie wêreld en ek wil baie graag weet wat daar aangaan, maar hy kan nie vertel nie. Hy verstaan ons en is saam met sy boetie baie besig. Hy deel graag drukkies en soentjies uit en ons geniet elke oomblik daarvan. Hierdie kinders word net gegee aan spesiale, uitgesoekte ouers.