die_eiland_se_naamgenoot
Eie stories

Ingrid Cloete blog: “Feestelike Adelaide”

Ons harte was nog steeds op die kronkelpaadjies van Margaret River toe ons die Wes Australiese sand van ons skoene afskop om verder oos te toer. Een ding omtrent Australië vang my deurentyd onkant: die land is gróót. Ons vlieg 2700km van Perth na Adelaide – sowat halfpad deur die land – en land sommer in ʼn ander tydsone. Om te vergelyk, Suid-Afrika se kuslyn is net oor die 2700km lank… Ja, Australië is groot, en ek begin so klein bietjie bekommerd raak dat ons heeltemal te min tyd het om alles te doen en sien wat ons beplan het.

Sommer vanuit die klein vliegtuigvenstertjie kan ek al sien Adelaide, die hoofstad van Suid Australië, is mooi: ʼn oudtyds-uitgelegde stad met breë strate, op datum gehou met moderne wolkekrabbers, en mooigemaak met baie parke. Dis juis die parke wat Adelaide so uniek maak: die stad, wat ʼn perfekte vierkante-myl bestrek, is omring met welversorgde, groen parke wat die ‘Parklands’ genoem word. Dis dalk danksy die parke dat Adelaide so rustig en ontspanne voel .

Adelaide het veel om te sien, en nog meer om te doen: vele gedenktekens, museums, historiese geboue en standbeelde is oral deur die stad te sien. Die Botaniese tuine, en dieretuin (waar die enigste reuse pandas in die suidelike halfrond gesien kan word) is besienswaardighede wat oud en jonk sal geniet. Soos enige stad wat sy sout werd is, het Adelaide ook oorgenoeg te bied vir die kranige koper: van die stalletjies van Adelaide Mark, tot klerewinkels waar winkelpoppe met die jongste modes uitgedos is.  ʼn Ontspannende bootrit op die Torrensrivier is nie te versmaai nie.

Buite die grense van die stad is vele juwele om te verken. Heel bo-op ‘Mount Lofty’ is definitief die beste plek vir uitstekende uitsigte oor die stad, en terwyl mens met die kronkelpaadjie tussen hoë bloekombome daarheen ry kan jy selfs ʼn koalabeer raaksien as jy baie mooi kyk. In die koel heuwels net buite die stad pryk piepklein ou dorpies tussen hoë bome, onder andere Hahndorf, die oudste Duitse nedersetting in Australië. Ons tydberekening was net reg om die dorpie in ʼn feestelike luim te vang: 300 mense het hulself, en hul karre, in prettige uitrustings uitgevat vir ʼn weeklange fondsinsamelingsreis wat in Hahndorf tot ʼn einde gekom het.  Terwyl kinders vermaak is deur narre en straatkuns, het die ouer garde Duitse bier in groot bekers geniet op maat van die plaaslike orkes. Dis duidelik waarom Suid-Australië die Feesstaat genoem word!

Australiese wyn is wêreldwyd bekend, en net buite Adelaide lê die Barossa Vallei, veral bekend vir die Shiraz wat hier geproduseer word. Weereens was ons tydsberekening perfek, en ons kon die laaste dag van ʼn naweeklange kos- en wynfees ervaar. Was dit nou goed vir die siel! Daar is geen beter plek om ʼn wyn te proe as net daar waar dit gemaak word nie, en boonop is die Barossa Vallei idillies mooi met rye op rye perfek gespasieerde wingerde, afgewissel met groen heuwels gespikkel met spierwit skape. Terwyl elke landgoed besoekers verwelkom het met watertandgeure wat uit hul restaurant ontsnap en vriendelike personeel wat regstaan om te skink, het die son, potblou lug en feestelike atmosfeer die res gedoen. Oud en jonk kon vir ʼn dag lank saamkuier sonder ʼn oomblik se bekommernis – en danksy busse wat mens rondkarwei was dit werklik nie eers nodig om ʼn vinger te lig nie, tensy jou glas leeg geraak het. Die Barossa Vallei het ons sintuie terdeë bederf!

Seker een van Adelaide se vernaamste aantrekkingskragte is Kangaroe Eiland. Nou kyk, vandat ons in Australië geland het, kan ek net nie wag om ʼn kangeroe te sien nie, so ek is sommer ekstra opgewonde oor ons toer – al is dit net oor die naam van die eiland. ʼn Natuurskone pad let ons na Kaap Jarvis (sowat 150km vanaf Adelaide), vanwaar ons met ʼn veerboot na Australië se derde grootste eiland vaar. Die eiland beslaan ʼn oppervlak van 4500km² waarvan omtrent 2 derdes Nasionale Parke is, terwyl die populasie ook naastenby 4,500 beloop. Lafentelplase, heuningboerderye, olyfplantasies en selfs wynprodusente maak nuus op Kangaroo Eiland deesdae, maar ons is hier om die natuur te waardeer, en ons is nie teleurgestel nie!

Die robbe op Seal Bay lê en slaap nadat hul vir dae die rowwe oseaan trotseer het vir kos, net hier en daar lig ʼn nuuskierige een sy kop halfgeïnteresseerd op, maar dit lyk nie asof veel die reuse seedier kan steur nie. By Raptor Domain onthaal ʼn ervare wildbewaarder ons met ʼn unieke ervaring: roofvoëls in aksie. ʼn Klein, flinke rooivalkie wat sy happies moeiteloos vang in sy vlug, twee kekkelende kookaburras, ʼn geruislose nonnetjiesuil en ʼn koninklike ‘Wedge-tailed’ arend wat vanuit verbysterende hoogtes sy prooi kan sien en dan daarop neerpyl nes ʼn missiel.

Soos ons verder ry om die eiland te verken, rek ek my nek opsoek na koalas in die bome, maar tevergeefs. Die eiland bied ontsagwekkende klipformasies, soos die Remarkable Rocks en Admiral’s Arch, waar die planeet op sy geduldige manier perspektief bring; dit voel werklik asof die mitologiese gode, of outydse reuse dalk die Remarkable Rocks as albasters gebruik en eendag net daar gelos het. Die eiland se geharde kuslyn bly deurentyd ongerep en asemrowend, en mens kan amper sien hoe die eerste mense wat hier geland het in 1802 geswoeg en gesweet het om die grond te probeer tem.

Net voor ons die pad terug na Penneshaw aandurf, stop ons darem eers om ʼn koala en kangaroe te sien, tot my verligting! Die lui, teddiebeeragtige koala klouter stadig in ʼn bloekomboom rond, terwyl hy glad nie genoeë lyk met die feit dat ons sy middagslapie versteur het nie, maar die kangaroes hop nuuskierig rond op stert of agterpote en ek is tevrede: hul is net so komieklik soos wat ek verwag het.

Op pad terug na Penneshaw sing ons toergids trots en luidkeels saam op die maat van ‘Waltzing Mathilda’, en ek kon nie help om te giggel nie.

  • Tania

    Julle neem regtig baie mooi foto’s!!!