151
Eie stories

Splinternuut: Ingrid Cloete se troublog

Doer daaronder

Pasgetroud, en ons verruil die wit strande van ʼn Indiese oseaan-eiland vir ʼn wittebrood van sy eie soort: 4 maande in Australië. Deel in ons wedervaringe, dit beloof om die tyd van ons lewens te wees!

Die groot dag

‘Onthou elke oomblik. Jou troudag gaan so vinnig verby – maak seker jy bêre elke liewe sekonde diep binne in jou hart, sodat jy vir altyd bietjie vir bietjie daaraan kan herkou.’ Elke liewe voornemende bruid hoor hierdie stukkie raad vanuit elke hoek en kant: jou vriendinne, jou ma se vriendinne, jou ma, jou ouma, die buurvrou, die verkoopsdame in ‘n skoenwinkel, jou getroude kollegas… Dit voel naderhand asof die muur dit ook vir jou sê.

Natuurlik was ek die laaste persoon wat diè raad nodig gehad het; al my dinge was reeds in orde toe ek en my aanstaande vertrek na die trou-venue – 3 dae voor die groot dag. Alles was gedoen, alles reeds ingepak, niks vergete en niks aan iemand anders oorgelaat nie; ek het mos al die tyd in die wêreld om van nou af elke oomblik in te neem.

En met goeie rede. Sien, ons planne was ietwat buitengewoon.

Ons het besluit om ʼn verrassings-troue te hou. Effens soos ʼn verrassingspartytjie, maar die verrassing is vir die gaste, en die partytjie is bietjie groter. Die verrassing was dat ons gaste nie ʼn idee gehad het waar die troue sou wees nie. Hul het die datums gehad, en ook wat hul moes inpak vir die naweek se affêre, niks meer nie. Verder moes al 46 gaste op ʼn sekere plek bymekaarkom om na die venue geneem te word – maar meer as dit het niemand geweet behalwe ek en my aanstaande nie; selfs nie eers my ma nie. (Tot my eie spyt: meer as ʼn paar van my vriendinne het menigmaal my wynglas oormatig goed versorg met die hoop dat ek al ons planne sal uitlap op ʼn onbewaakte oomblik. Hul ywer en my gevolglike hoofpyn was elke keer tevergeefs.)

En waarlik, as ek elke rand kon hê wat in wedyweringe rondgegooi is rondom waar hierdie troue sou plaasvind, sou ek tans heel gemaklik op my eie persoonlike eiland in ʼn hangmat gelê het met ʼn massiewe skemerkelkie in elke hand.

Wag, ek dwaal van my storie af. Die belangrikste ding waarop ek en my man sommer dadelik besluit het, is dat die troue ʼn naweek lank moet wees. G’n wonder die arme bruide kla so dat die dag te vinnig verbygaan nie – die paar ou uurtjies van ʼn Saterdagmiddag gee g’n mens tog genoeg tyd om so baie dinge in te neem nie! Lekker trots op myself dat ons nou so slim kon wees, sit ek nog so en dink hoe lekker die naweek gaan wees en skaars ʼn oogwink later is alles verby…

Die naweek waarna ons al heel jaar uitsien, het heeltemal te vinnig opgedaag en te vinnig verbygegaan. Vanaf die oomblik wat ons gaste die Vrydagmiddag verbaas, oopmond op ons geheimsinnige trou-eiland opgedaag het, het tyd sy eie moedswillige gang gegaan. Ek het elke moontlike verskoning gekry om die uur van voorbereiding uit te stel, en sowaar, die tyd het steeds te gou verby gevlieg met ons spesiale dag in sy vlerk.

Ek het steeds baie herinneringe wat die dag onvergeetlik maak: My ma se ‘vir-ou-laas-jou-enigste-mamma’ drukkie net nadat sy my rok se ritssluiter opgetrek het; die trotse, ferm arm waarmee my pa my begelei het; die uitdrukking op my bruidegom se gesig toe hy my die eerste keer in my wit gewaad sien; die ongekende blydskap wat tydens die seremonie toe maar projektiel by my oë uitgekom het… en ek het waaragtig vergeet om waterbestande maskara te gebruik.

Soos Hilary Cooper gesê het: ‘Life is not measured by the number of breaths we take but by the moments that take our breath away’. Kom ons beskou elke dag met soveel afwagting en kosbare vertroue soos wat ons daardie spesiale dag ingewag het, of steeds inwag. ʼn Mens weet nooit wat ʼn nuwe dag kan bring nie…

En siende dat ek ook nou trou-raad mag gee, hier is ʼn paar dinge wat ek graag sal voorstel aan voornemende bruide:

  • Reël ʼn ‘pre-wedding’ fotosessie met jou fotograaf. Meeste van ons is nie modelle nie, so die idee van ʼn kamera maak mens redelik skugter en laat mens onnatuurlik optree. Hierdie fotosessie sal julle gewoond maak aan die fotograaf en sy fotografiestyl, en sal die fotograaf ook help om julle te leer ken om sodoende die beste moontlike foto’s te neem op jul spesiale dag.
  • Maak seker dat jy gemaklik is op jou groot dag. As jou skoene knyp, of jou rok is te groot of te klein, gaan jy die aand om wens. En maak seker jy dra die regte onderklere (veral bra) wanneer jy vir die eerste meting van jou rok gaan!
  • Delegeer! Maak seker jou strooimeisies, suster of ma weet presies wat wanneer moet gebeur sodat jy werklik elke oomblik kan geniet.
  • Maak seker dat jy die absolute minimum los vir die laaste 2 dae voor die troue. Besluit dan op ʼn ‘bekommernis-afsnypunt’. Sê vir jouself: ‘As iets teen 3nm Vrydagmiddag nie gedoen is nie, gaan dit nie gedoen word nie.’ En maak vrede daarmee!
  • Maak seker jou maskara vir die groot dag is waterbestand.
  • Magdel van Zyl

    Ek het net van hierdie wonder like dag gehoor en die terugvoer was dat dit ‘n onvergeetlike naweek was! Baie geluk ek hoop julle is oneindig gelukkig!

  • Trudi en Jurgens du Plessis

    Baie dankie vir die geleentheid dat ons saam met Frederé en Ingrid kan toer. Dit is vir ons wonderlik en lekker om alles te kan lees. Dit word so goed geskryf dat dit werklik voel of ek myself daar is.