king_s_canyon_8_
Eie stories

Ingrid Cloete se wittebrood-blog: “Perspektief doen mense goed”

Om een of ander rede het ek nog altyd aan Australië gedink as ʼn baie groot woestyn. Alhoewel dit tegnies nie heeltemal verkeerd is nie (omtrent ʼn driekwart van Australië se oppervlak is semi-woestyn), is dit steeds vir my vreemd om so baie groenigheid te sien. Sover het ons omtrent nog net groen weivelde, groen heuwels, groen bome, groen tuine, en nog groen groen groen gesien.

Maar ons volgende bestemming behoort die prentjie te balanseer: Ons is op pad na Alice Springs, reg in die middel van die ‘Red Center’, alias ‘Outback’. Dis die een rede  waarom ek opgewonde is. Die ander is dat ons treinry soontoe! Ek sien nou al vir maande lank uit na hierdie treinrit, wat oor 24 uur sowat 1,5000km reis vanaf Adelaide na Alice Springs, en daarna oor nog 24 uur ʼn verdere 1,500 km strek na Darwin, ons uiteindelike en mees Noordelike bestemming.

Die treinrit is natuurlik groot pret totdat mens weer besef hoe kompak (eintlik bra klein) so ʼn kompartement is, maar die uniekheid van die rit oortref selfs belofte van ʼn moeilike nag se rus in die nou enkelbedjies wat vanuit ʼn geheime paneel oopvou asof iemand ʼn towerstaffie geswaai het.

Ons beskou die plase van die Adelaide Plains in die verbygaan, en stadig maar seker word die klein dorpies (en ek bedoel klein – swaai uit vir die hoender en mis die dorp-klein) wat langs die treinspoor verbysnel al hoe minder… totdat ons waarlik in die ‘Outback’ is, waar mens vir kilometers en kilometers net mooi niks mensgemaak sien nie, behalwe vir die treinspoor self. Hier en daar gewaar mens lukraak ʼn bees wat skoon verlore lyk in die wildernis, dan weet jy die treinspoor loop verby ʼn massiewe plaas waar beeste met perde, motorfietse of selfs helikopters bymekaargemaak word. Alles gebeur hier op ʼn ander skaal…

Na ʼn volle dag kom die trein tot stilstand in Alice Springs se treinstasie – en die warm lug tref jou soos ʼn muur. Al is dit maar vroeg Lente is die dae reeds baie warm – sommer maklik 30° C, terwyl die nagte steeds rondom vriespunt huiwer. Dalk nie die ideale kampklimaat nie.

Sien, ons gaan ʼn paar dae kamp terwyl ons moontlik die bekendste Australiese landmerk verken: Uluru, of Ayer’s Rock soos dit algemeen bekend staan. Ek is so opgewonde dat ek skaars sou kon slaap, as dit nie vir die vorige aand se trein-geluide was nie.

Lank voor sonop staan ons reg om by 19 ander gapende klipklimmers aan te sluit en die dag se 700+km reis na King’s Canyon af te skop. Dis weereens verbysterende afstande wat ʼn halwe dag neem en skaars ʼn pinkienael op die landkaart strek. Tot my teleurstelling is die rooi droogtes van die woestyn waarna ek so uitgesien het nêrens te vinde nie – die woestyn is groen! Geen rooi duine, geen dorre landskappe nie. Bossies en bome pryk so ver ons ry. Weereens is my voorafopgestelde idee verkeerd bewys.

Die naweek se stap word by King’s Canyon met ʼn moordende opdraande afgeskop – die steil klim staan selfs bekend as ‘Hartaanval heuwel’! Maar ons onfikse lywe pla min toe ons bo-op die kranse rondom die canyon staan en die asemrowende gesig inneem. Ek gaan nie eers probeer verduidelik nie – die foto’s doen dit baie beter.

Na ons ongelooflike King’s Canyon ervaring moet ons jaag om voor sononder by ons opelugkampeerterrein aan te kom, maar eers moet ons vuurmaakhout bymekaarmaak. Ja, dis ʼn ernstige gekampery hierdie! Na 5 minute gee ek alle hoop op dat enige een van ons weer behoorlik skoon gaan wees hierdie naweek. Maar dis deel van die lekker, is dit nie?

Ons maak ʼn behoorlike kampvuur en na ʼn koningsmaal gaan soek ons slaapplek onder die sterre. Die temperatuur het reeds skerp geval, maar met ons ‘swags’ (ʼn ding wat soos ʼn slaapsak lyk met ʼn matrassie ingebou) gaan ons mos lekker slaap.

Gmf. Teen 4vm kan nie ek of my man eers meer probeer slaap nie, so koud kry ons. Ek het al 4 pare kouse bo-oor mekaar aan en niks kry my voete warm nie. Om nie eers van die res van my lyf te praat nie. Hierdie ‘swags’ is die belaglikste slaapsakke wat mens kan kry. Min dinge vat so lank soos die son om op te kom wanneer mens so koud kry.

Die toergids het natuurlik lekker vir ons gelag toe ons vertel van ons nabye verkluiming. Ons moes ʼn slaapsak binne-in die ‘swag’ gesit het, het ons nie geluister nie? Geen wonder ons het so koud gekry nie. As my ledemate nie nog half gevries was nie het ek myself teen die kop geklap, hard.

In elk geval; die volgende natuurwonder wat ons besoek is Kata Tjuta, ‘n minder bekende maar ewe treffende verskynsel. Dis waarlik asof ʼn klomp klein planete die aarde getref het en nog steeds net so halfpad die grond ingesak hier lê.

Daar is 36 van hierdie massiewe klippe bymekaar – sommige selfs bo-op mekaar. Wanneer mens die reuse klippe van naby beskou lyk dit soos ʼn massiewe chocolate chip koekie. Oor duisende jare is hierdie rotse gevorm deur erosie en wind, en sand, sediment en klippe is gedurende die laaste ys-era deur ys gekompakteer om hierdie rare klip te vorm. Ek sou selfs sê Kata Tjuta is op ʼn vreemde manier meer indrukwekkend as Uluru…

En dit is ons volgende stop. Uluru, of Ayer’s Rock, ʼn natuurwonder van bisarre proporsies. Die omtrek van die massiewe klip op gondvlak is 9.4km, maar selfs meer verbysterend is dat die klip eintlik vertikaal, soos ʼn wortel, in die aarde lê tot ʼn beraamde 6km diep. Dis gróót. Uluru is ook van enorme waarde vir die Anangu volk, die Aboriginies wat hier by Uluru gewoon het. Inteendeel, dit is die grondslag van hul geloof. Daar is ʼn Anangu storie oor elke inham, elke grot, elke oorhang wat noukeurig oorgedra word van een generasie tot die volgende. Uluru behoort steeds aan die volk, en tradisionele seremonies word gereeld hier gehou.

Ons het die wonderlike voorreg gehad om Uluru teen sononder, en weer teen sonop die volgende oggend te sien – dit is eenvoudig betowerend om te sien hoe die natuur so kan pronk met haar verstommende reeks kleure.

En voor ons kon sê ‘Uluru’ is die staptoer verby, en ons durf die lang pad terug na Alice Springs aan. Alhoewel ons maklik 25km altesaam gestap het, min (en koud!) geslaap het en baie ver gery het, voel ek vernuwe en van voor af eerbiedig teenoor ons planeet; waar wind en water vir honderde duisende jare stilweg slyp aan die hardste klip en iets so oorweldigend mooi, uniek en indrukwekkend kan vorm. In hierdie perspektief is ons as mens darem baie vlietend, onbelangrik en gering. Ja wat, ʼn aks perspektief doen mens nou en dan net goed om die wêreld te sien vir wat werklik saak maak.

  • chicsJalslipt

    [url=http://www.virtualcazinoz.com]casino online[/url] [url=http://cd-online-casino.co.uk]casino online[/url] [url=http://www.playatonlinecasinos.com]online casino[/url] [url=http://www.casinoonlinebrazil.com]jogos de cassino[/url] [url=http://www.onlinecasino3.nl]online casinos[/url] [url=http://www.playatonlinecasinos.com/casino-games.html]online pokies[/url]