Eie stories

Ingrid se troublog: ‘Die begin van ‘n droom’

Met minder as ʼn week om al die uitstaande troutake af te handel en die laaste rëelings te finaliseer rondom die volgende vier maande, weet nie ek of my nuwe man wat ons getref het nie. My beplanningslysies raak langer as my voorarm en meer as wat ek bymekaar kan hou. As ons weer sien, sit ons met skootrekenaar-ogies teen middernag die ligte af en paas uit soos klein kindertjies na Kersdag, net om weer vroeër die volgende oggend uit die vere te spring en die dag se take aan te pak.

Dit voel alreeds vir my asof ons troue ʼn droom was. Was ons werklikwaar slegs 2 dae gelede op ‘n tropiese eiland in Mosambiek, besig om reg te maak vir ons trouseremonie? Dit voel asof ek dit so terloops êrens in ʼn fliek gesien het, of dit dalk gedroom het. Al wat my wel die versekering gee dat ons by die see was is my kuite en voete – hul kla nog steeds, goed geoefen deur strandloop en seergedans. Maar daar is nie tyd om nostalgies te raak nie, nie nou nie. Daai lysies gaan nie hulself gedoen kry nie, en die tyd raak min!

6 Dae later staan ek en manlief op OR Tambo Internasionale Lughawe met die 38kg wat ons deur die res van die jaar gaan vat, ons paspoorte en groot oë. Ek weet nie wat dit met lughawens is nie, maar hul gee my altyd die gevoel dat ek iets vergeet het. Die stoof is af, die vensters is toe, ons tandeborsels is ingepak, die honde is versorg – wag ʼn bietjie, ons het nie eers honde nie! Ek gaan sit sommer plat op die koue vloer, hande in my hare. ‘Skattie, alles is OK. Ontspan nou. Wat ook al nou nie gedoen is nie, is nie gedoen nie. Ons twee is mos saam, ons het alles wat ons nodig het. Ons vat dit soos dit kom, wat dink jy?’ Ek dink ek het die beste man in die hele wêreld…

Tussen die tyd dat my senuwees bedaar het en die slaappilletjie begin inskop het, het ek vir die eerste keer stil gaan staan in my gedagtes en teruggekyk oor die jaar: al die ure wat ons saam sit en beplan het aan die troue en hierdie reis, al die dae wat ons aan rëelings, onderhandelinge en navorsing spandeer het en dit alles terwyl ons onderskeidelike werke hul eie tol geëis het. Die vreemde onwerklikheid, opwindende opbou en onvermydelike laaste-minuut krisisse soos wat die datum nadergesluip het… En die oomblik is uiteindelik hier. Die groot oomblik waaraan ons nog heel jaar werk. Dis ʼn ongelooflike gevoel, en ek raak aan die slaap met ‘n sielsgelukkige glimlag.

Ons land net na 7vm in Perth, Wes Australië. Sommer dadelik is enige voorafopgestelde idees wat ek dalk van die plek mag gehad het, heeltemal daarmee heen. Die dorre woestyndorpie wat ek verwag het is toe ʼn pragtige groen, moderne stad. Die Swaanriver kronkel verfrissend deur die stad, hier en daar spikkel ʼn spoggerige seilboot die water. Die menige munisipale tuine is noukeurig versorg, en ou staatsgeboue is so goed instandgehou dat slegs die boustyl hul ouderdom weggee.
Maar ons is moeg. G’n mens kan lekker slaap op ʼn vliegtuig nie, en boonop is ons lywe nog in ʼn ander tydsone – een waar die maan nog helder skyn.

Sommer met die intrapslag word ons bederf: ʼn vriend neem ons uit vir ete in Fremantle. Hierdie prentjiemooi dorpie (dit voel soos ʼn voorstad van Perth) sit teen die kus, waar die Swaanriver in die see loop, en was jare gelede die hawedorp. Die sterk Britse invloed is oral te sien in die argitektuur maar die atmosfeer is ontspanne en kommervry. ʼn Hele paar spierwit seiljagte lê in die water en pryk terwyl ons by ʼn brouery aansit vir aandete. Oud en jonk is vanmiddag hier, en gesellig kuier en lag gesinne, vriende, paartjies en ons voel sommer tuis (net die aksent val nou en dan sterk op die oor).

Ongelukkig moet ons eers die vervelige, frustrerende maar nodige administrasie afhandel: selfone, internet, bankrekeninge is kommoditeite waarsonder mens nie kan nie. Met hierdie lastige take uiteindelik agter die blad val ons 2 dae na ons aankoms in Perth in die pad na Margaret River.
My man, die fotograaf, is in vervoering. Sonder waarskuwing stop hy skielik sommer langs die hoofweg om ʼn klomp koeie af te neem. Ek reken hul lyk maar dieselfde maak nie saak waar hulle wei nie, maar tog is dit anders. Die grasgroen weivelde is ʼn lafenis vir moeë oë. En kangeroes! Sommer so wild in die veld. Snaakse goedjies, ek kan nie wag om een van naby te beskou nie.

Met al die fotonemery kom ons na donker eers in Margaret River aan, en ek is dadelik in vervoering met die klein dorpie. Romanties verligte bome versier die hoofstraat, en die enigste vulstasie is lankal toe vir die dag. So hou die fotonemery aan, ons spartel omtrent om daardie perfekte foto reg te kry. Toe ons besef hoe honger ons eintlik is, is dit al na 9nm… en lank nadat die laaste kombuis toegemaak het. Nee, geen 24h kombuis in die dorp nie (mense kyk ons effens snaaks aan). In desperate ongeloof kyk ons mekaar aan – en bars hardop uit van die lag (ek huil so klein bietjie van die honger). Dit sal ons leer om beter te beplan in die vervolg!

Dou voor dag die volgende oggend skree ons mae ons omtrent wakker. Na ʼn lekker (en lekker duur!) ontbyt is ons reg om die dag se verkenning af te skop. Ons het Margaret River besoek die wynplase te sien, maar ek het geen idée gehad dit gaan so ʼn ervaring wees nie!

Die winterreënstreek oorval ons sintuie met kleure en geure. Die kronkelpaadjie lei ons langs groen weivelde waar spekvet skape rustig wei, en skielik is alles weer oorgroei en wilde varkore pronk spierwit in hul massas. Ons stop by ʼn kusdorpie genaamd Prevelly, nog kleiner as Margaret River.

Dis nou regtig ʼn branderplankryer se paradys. Ek reken dis hier waar Tyd vakansie hou, waar hy hom verwyl deur na die onversteurde strand te kyk terwyl die branders luidrugtig breek en die gety hom herinner waar hy is, of behoort te wees. Hier is nie roomysverkopers, strandsambrele of lewensredders nie. Al teken van ontwikkeling is die houtpaadjie wat na die strand lei van die parkering af, verder is die strand gelos soos wat dit geskape is – natuurlik en perfek.

En ek manlief is albei tjoepstil in die kar, asof ons alles wil inneem. Soos ons verder ry lei die paadjie ons deur ʼn woud – ʼn Karri woud, om presies te wees. Karri bome is inheems in Wes Australië, en van die hoogste hardehout bome in die wêreld; ʼn boom kan tot 80m hoog groei. Soos ons deur die woud ry kry ek amper die gevoel dat iemand vir my kyk, en daar is ʼn geheimsinnige stilte in die asemrowende toneel. ʼn Stilte wat mens gerus laat voel, wat jou herinner aan iets wat jy nie ken nie.

Uiteindelik kom ons by ons bestemming aan: Die Juweelgrotte. Een van die grootste kalksteengrotte wat tans oop is vir die publiek. Ek het teruggedink aan die dag toe ons die Congo grotte besoek het – ek was klein, dit was my verjaardag. Die vae herinnering kon my nie voorberei op die ervaring nie: oor honderde duisende – selfs miljoene – jare het tyd, water en minerale saamgewerk om ʼn wonderwerk te skep meer as 40m onder die grond. Die stil verbasing gaan lê soos ʼn kombers oor ons soos ons van een na die ander ‘kamer’ stap. Orrelpype, korale, selfs ‘n klein Karri woud – dit alles is perfek gevorm in klip nie veel harder as jou vingernael nie. ‘n Besoek aan die grotte laat mens met ‘n nuutgevonde respek en waardering vir ons ontsagwekkende Moeder Natuur wat in ‘n oogwink of ‘n miljoen jaar kan skep of verbrysel.

Teen laatmiddag het die lekkerste het nog voorgelê: wynproe! En ʼn sjokolade fabriek… Margaret River het voorwaar ons sintuie bederf!

Toe ons daardie aand moeg in die bed val (na aandete die keer!) het ons goed geslaap en geweet: die lewe is goed.