Eie stories

Isabella se Blog: Soos ‘n vis in die water

Dat ‘n klein, onskuldige blikkie vis van R9,10 my wraggies na die werklikheid toe terugroep, my inspireer en my net weer laat dink … dít is die druppels olie in die weduwee se kruik wat lig gee. Ek giggel by die besef: Oor jóú kleine blikkie vis wil ek skryf! Ek wil stories oor jou vertel …

Sjoe, ek’s weer hier. Dankie, sardientjies, en dan is jou blikkie nog ougat daarby.

Vroegoggend sluip ek stilletjies af strand toe – ek en die bondel swart honde in my kop wat nou al maande lank aan my siel knaag. Die swart honde wat my enkels hap, wat my laat opstaan in vrees en my nag na nag met angs in my hart laat slaap. Saam is ons klomp strand toe. Ek het stil op die laaste trappie gaan sit en mooi gevra: Go … please just go away. Hulle het natuurlik hul tyd gevat, maar stadig maar seker het een na die ander die branders in geduik en verbete weggeswem. Ek haal diep asem en kyk vir oulaas. Was dit ‘n dolfyn wat nou daar gespring het?

Met die omdraaislag kyk ek vir die eerste keer in ‘n lang tyd met liefdevolle oë na my grys sementhuis. Skielik besef ek: Die donker spenskantoortjie waar ek al tien jaar sit en werk, moet nou ‘n koskas word. Dit is tóg waarvoor die ekstra gaatjie gebou is. Ek moet boontoe skuif, daar waar die lig is. ‘n Room with a view en baie son en deure wat oopskuif sodat ek die reën kan ruik, die wind kan voel en die musiek van die golwe kan hoor. Waar ou meubels nuwe lewe kan kry. Waar al die vierbeen-kinders uitgestrek kan lê. En dáár waar ek kan asemhaal!

Dis tussen al die opgewondenheid deur dat die stainless steel-yskas se deur oopgemaak word en ek met ‘n skok besef: Die inhoud in dié kas van my is maar baie beperk. Ek kook elke dag van my lewe en Vrydae kook ek soos ‘n maniak, en tog is daar niks om te eet nie.

Ek kyk na die halfdosyn lang blikkies met hul ougat rondings, die halwe bottel capers en klein stukkie gruyère-kaas. Daar is darem swart olywe en ‘n hele vol botteltjie ansjovis-filette ook, en ek besluit: Sardientjies, vanaand word jy en jou pêllies in die yskas die heel beste pastasous!

Hier sit ek in my splinternuwe kantoor: my middelste slaapkamer, met die mooiste, mooiste uitsig. Die lelike ou houtstoele is uit die motorhuis gegrawe en is almal loodgrys geverf. Die kussings is sommer met lang stukke melkdoek toegebind. Die wanorde skree nog kliphard, maar die saligheid in die vertrek skree harder.

Behalwe vir die blikkie vis se aanmoediging, kom eet ‘n baie elegante vrou met aarbeiblonde hare oesters by die mark. Sy gooi die Tabasco en maal die peper sonder om op te kyk. Skielik vra sy: “Why don’t you write anymore?” Sjoe! Uit die veld geslaan, komende uit ‘n Engelse mond. En voor daar een of ander gebrabbel uitpeul, lees sy my gedagtes met ‘n: “I do read Afrikaans. And have followed your blog since day one. Thanks, the oysters were great.” Ek wil nog verduidelik van die swart honde, maar weg is sy op haar pikante hoë hakke, netjiese jassie en beeldskone handsak.

En hier is ek baie maande later. Maande wat met kinkels en kabels, mooigoed en beeldskone oomblikke, donker wolke en bliksemstrale gevul was. Nogal ‘n perfekte opsomming van 2013, reken ek!

Ek het my beste, beste pêl en skaduwee van die afgelope 16 jaar verloor. My pragtige spanjoelhond Emma hardloop nou uitbundig saam met vlinders in die hondehemel rond. Sy’t nie meer seer nie en sy’s nie meer moeg nie. Sjoe, haar plekkie is leeg. Bak ek Vrydagaande, was dit Emma wat al onder my voete rond was, reg om als wat val te stofsuig! Uit respek (en seker ook uit vrees) het die ander honde hul afstand gehou – nou is dit natuurlik ‘n first-come-first-serve-situasie. Ek struikel met kokende plate vol soutterte oor die skaaphond. Mobe, Taro se reuse-Alsation/rottie lê onder die oond en elke keer wat die yskas – of oonddeur – oopgaan, is daar drie enorme honde wat swaaistert staan en wag vir iets om op die vloer te val.

My getroue grys trollie is vir ‘n wit roomys-vantjie ingeruil – of soos iemand by die mark gesê het: “Jou ice cream-karretjie kort net ‘n klokkie!” Sy’s klaar ingelyf met vragte vol goed mark toe, lang en stowwerige paaie en die ambulans op die veearts-roete.

Winter aan die Weskus is ‘n prentjiemooi tyd! Die groene is ekstra groen en kyk jy van links na regs, lê die plate blomme soos ‘n handgemaakte lappieskombers – elke blok sorgvuldig gekies. Dís nou waar jy klein lammetjies sien bokspring en pasgebore kalfies op wankelende been sien drink. ‘n Kaalgestroopte boom se wese verander as hy skielik in ‘n bedding met wit blomme staan. Prentjies! Prentjies nét waar jy kyk.

Ek help met die Trommel-fees op Simondium. Dit is beeldskoon – dit voel kompleet asof jy tussen die blaaie van die tydksrif wegraak. Die adrenalien pomp behoorlik!

Sondagaand ry jy doodmoeg op genade en herinneringe terug Duin toe. Terug na ‘n veilige plek. ‘n Plek met ‘n non-existing tuin, dog met die diepste dongas! Wriemelende lywe, luide hallo-blawwe en sterte en pote wat net wil liefde gee, laat jou maar ewe gedwee oor die gate struikel. Ek is tuis!

Ek is gaande oor parfuum. En daar is so ‘n mooi storie van my ma: Sy het ‘n parfuum, TABU, gebruik. Dit het in so ‘n piepklein botteltjie gekom. Ek onthou van kleintyd hoe sy altyd met spesiale geleenthede ‘n druppel onder my neus gesit het. Een keer ‘n jaar het sy só ‘n botteltjie vir ‘n bederf gekry. Dit was so kosbaar. My druppels onder die neus was min, maar só spesiaal. Maak ek vandag my oë toe, ruik ek nog TABU en ma Issie. Tot vandag is dit iets wat ek elke dag van my lewe doen: Ek dra my gunsteling-parfuum met oorgawe – ‘n spuit op my vinger en onder die neus!

“A woman’s perfume tells more of the woman than her handwriting,” het Coco Chanel gesê. Dít maak vir my perfek sin …

Parfuumkoop is vir my soos oorsee gaan. Dit word op die kredietkaart gekoop sodat jy daaraan kan afbetaal, en as jy klaar betaal het, koop jy dadelik ‘n nuwe en dra dit elke liewe dag.

Net gou: Daar is mos g’n TV in die huis nie. Ek lees en lees. En dan lees ek nog! Só lees ek dié advertensie raak:

Vrijheid ruikt naar zomer, of winter. Vrijheid klinkt naar avontuur, naar de wêreld intrekken, je losmaken van het geijkte, nieuwe oorden ontdekken en vrienden worden met vreemde mensen. Verlang je ook naar vrijheid? Je hoeft er niet per se voor op vakantie, hoor. Je kunt het ook heel dichtbij vinden, zelfs thuis.

Was daar ‘n knoppie, het ek sommer aanhoudend LIKE gedruk!

Ek loop deur die huis en kyk hoe die laaste stuiptrekkings van die groot oranje son skielik na pienk verander. Als is in ‘n sagte lig gedompel – sag genoeg om al die “odd” meubels, die langhaar-flokati-mat (wat lankal sy fleur verloor het), die antieke Persiese tapyt met sy uitgerafelde rante en die groot houtvis wat van die voordeur nou op die dek plek gekry het, in die mooiste prentjie te omskep. Hiér is ek vrý! Hier kan ek jubel, stilword en selfs wegkruip.

Die Duin se drama-seisoen is nou verby en ek sien uit na die volgende volgepakte maande van 2013 wat voorlê, waarin ek vir julle alles gaan vertel!

Sit solank perfuum onder die neus. Tot ‘n volgende gesels.

Bella