Eie stories

Jackie Rudman van Stellenbosch, skryf:

Francois, die Here het spesiaal aan my gedink toe Hy jou uitgesonder het onder die manlike spesie. Dankie dat jy tyd maak om in jou tuin te werk, jou kar te was en te stofsuig, te gym, jou Bybel en die nuus op Yahoo te lees en jou aandeleformules uit te werk. Dankie dat jy so goed werk met jou geld en omgee waarheen elke sent gaan. Dankie dat jy ook eendag ’n huis wil koop en nie skuld wil hê nie. Dankie tog dat jy ook nie van eetkamertafels met glasblaaie of bont banke hou nie!

Dankie dat jy met my dans en jammer sê wanneer jy op my tone trap en nie kwaad word wanneer ek ’n draai vergeet nie (maar my vergewe as ek kwaad word omdat jy op mý tone trap). Ek merk op hoe jy my heeltyd dophou wanneer ons dans, al is daar soveel mooi meisies om ons. Ek sal nooit gewoond raak aan die feit dat jy regtig dink ek is die mooiste een tussen die klomp nie.

Ek weet jy bedoel dit werklik wanneer jy sê jy is lief vir my, want jy lag vir my grappies, jy kyk my altyd in die oë wanneer ek praat, jy weet hoe ek dit haat as my oor by my hare uitsteek en maak dit altyd vir my reg. Jy gee vir my soentjies om te vier dat ek die mooiste meisie op die strand is en stry met my wanneer ek sê dat ek selluliet het.

Jy hou jou hand uit na myne wanneer jy vooruit stap, en ek kan sien jy is trots wanneer jy my aan ander mense voorstel. Jy glimlag selfs wanneer jy kwaad is, haat dit om te baklei met enigiemand en sal vir my jammer sê al weet ons albei jy was reg. Jy luister na my raad en vra my hulp. En jy erken wanneer jy verkeerd is.

Ek weet jy moet regtig lief wees vir my, want jy gaan sit my koppie ook in die wasbak nadat ons koffie gedrink het. Jy SMS my uit die bloute en sê jy kan nie wag om my te sien nie. Jy onthou steeds om vir my ’n paar tydskrifte te gee om te lees wanneer ek by jou kuier en jy gou gaan stort, net sodat ek nie verveeld moet wees nie. Jy kyk na foto’s van my wanneer ek nie by jou is nie en los vir my notatjies in my handsak om te sê hoe lekker die naweek was.

Ek het jou lief omdat jy jouself is, jy bereid is om te verander omdat jy lief is vir my en omdat jy jouself ook liefhet. Wat meer kan enigiemand vra? (behalwe dalk vir nog ’n soentjie, want een is nooit genoeg nie …)