sr1207cover_07f
Eie stories

Janie blog: ‘Inspirasie is iets wat jy elke dag moet soek’

Ná ons eerste paar programme van “Wat mense sê”  is ek oorweldig deur die reaksie van kykers wat geskryf het en kommentaar gelewer het op die verhale wat op die program vertel word en hoe inspirerend dit vir hulle is. En dit ís.

‘n Ateljee is ‘n baie eerlike plek. Jy kan nie baie dinge wegsteek as jy alleen op daai rooi stoel sit en jou gas in die oë kyk nie. Daar’s ‘n eienaardige privaatheid wat ‘n mens op dié openbare plek het. Die intimitiet van die situasie skop af met daai stilte in die oomblikke voor die onderhoud begin.
Ek word net soos die kyker ontroer en geïnspireer deur die stories wat in die stoel oorkant my vertel word.

Larry Joe se verhaal was een hiervan en dit het my die afgelope twee weke heeltemal anders laat kyk na die haweloses wat in die wintermaande op straat lê. Meer as ooit weet ek dat onder elke plastieksak ‘n mens met ‘n verhaal lê. ’n Mens wat kan opstaan en met sy storie dalk duisende kan inspireer en ander lewens kan verander.

Dis gewoonlik ‘n gewone mens, nie ‘n bekende of ‘n suksesvolle mens nie, wat ons inspireer. Dis mense wat ten spyte van die mees ongewone situasies in staat is om hulself geestelik daardeur te verryk en in die proses te wen.

Inspirasie is iets wat ek elke dag soek. Dis soos ‘n verslawing wat ek het…elke dag soek ek my ‘fix’. Partykeer sit ek voor my rekenaar en voel hoe my kop begin stadig dink en hoe ek sukkel om dinge gedoen te kry. Dis dan wanneer ek my ‘fix’ die nodigste het. Dis nie altyd ‘n mens of ‘n ding wat my inspireer nie. Vir my is dit meer dikwels ‘n plek. My top-bestemming vir inspirasie is in ‘n koffiekroeg tussen baie mense. Daar is ‘n koffiekroeg langs die see in Kaapstad, en dís my beste plek. Dis ‘n plek wat baie raas maar heerlik ruik. Deur die reuse-vensters wat op die see kyk sien jy die seisoene deurentyd op die water weerkaats. Daar is baie mense wat ontbyt eet, vergadering hou, alleen sit en koerant lees of op hul rekenaar werk. Dis die plek wat my die vinnigste weer aan die gang kry en wat my help om my sinne te voltooi, my argumente vir vergaderings beter te formuleer en my met ander oë laat kyk na die wêreld om my.  

Ek het ‘n vriendin wat al op haar rug in haar bad ‘n boek geskryf het. Dís haar plek.

  • Caro

    Janie jy het vroeer jare pragtig gelyk met jou kort hare – dis hoe ek jou onthou en het gedink jy is die pragtigste vrou wat ek al oot gesien het!! Jy is nog steeds pragtig!!

  • hettie Hanekom

    So mooi en so eerlik!Janie is ‘n inspirasie vir elke vrou wat die seer van kanker, die seer van ‘n mislukte huwelik en die seer van enkel ouer oorkom het.Sy is my model vrou.Tydens haar program op tv kan jy die eerlikheid in haar lyftaal sien en dis beslis nie iets wat iemand kan fotoshop nie.Dankie Janie vir wie en wat jy is.