Eie stories

Jo-lyndi van Zyl van Ermelo, skryf:

My liefste Bekkie,

Ek het so lanklaas ’n brief geskryf, my pen voel skoon dom. Ons het altyd vir mekaar briewe geskryf, maar mettertyd het dit vervaag. Dis maklik om sulke goedjies te vergeet as mens mekaar elke dag sien en daai ek-mis-jou-gevoel op die krop van jou maag wegraak.

Jy het my eendag gevra hoekom briewe skryf vir my so belangrik is. Ek het vir jou gesê dat dit geen inspanning is om blomme of sjokolade te koop nie, maar om ’n brief te skryf is ’n geskenk van jou tyd. Vir die tyd wat dit jou geneem het om die brief te skryf, het jy net aan my gedink. So, daardie stukkie papier is ’n stukkie toegedraaide tyd, net vir my!

Gewoonlik is my briewe kort en kragtig. Ek sê wat ek wil sê en klaar, maar vandag s’n gaan langer wees. Vandag se brief is ’n onthou-brief. Ons het nooit ’n kamera gehad om die oomblikke in ons lewe te verewig nie, maar die beelde rolprent-rol nog deur my gedagtes asof dit gister gebeur het.

Kom ek herinner jou …

Vir vier jaar lê ons voetspore nou al sy aan sy op ’n pad. Hier en daar ’n afdraai gekry, partykeer wankelrig, maar altyd weer teruggekeer om hak-toon, hak-toon saam te loop.

Die eerste paar maande, soos die liefde nou maar is, het ons hand-om-die-lyf gehuppel met skoenlappers wat kapperjolle in ons mae maak. Ons kon nie ver of vinnig genoeg stap nie. Ons was onoorwinbaar, Simson-sterk in ons verliefdheid. Geglo niks en niemand kan ons skei nie. Die wêreld was ’n rooskleurige wonder, die gras tapyt-weelderig en lemmetjiegroen onder ons voete.

Soos die horlosie se arm tik-tok aanstap, het daar ewe skielik hier en daar duwweltjies opgeduik. Dorings brandend in die sagte sole van ons voete, trane warm en sout op ons wange.

Nou begin die werk. Ons moes koeltebome soek waar ons kon rus terwyl die een die ander se seer, vernielde voete in sagte hande kon neem, die duwweltjies uittrek en balsem van liefde kan aansmeer.

Dit wou voorkom of met elke koelteboom meer duwwels (duiwels?) op ons pad gestrooi word. Grond, sementhard en woestynkaal onder ons voete. Tone en sole nerf-af en bloeiend. Nêrens ’n koelteboom se lafenis. En toe die afdraai-pad.

’n Enkel ry spore op die ongenaakbare grond …

Maar ons pad word weer een. Die afdraai was toe al die tyd ’n na-my-toe-draai. ’n Tyd om te groei en onsself te leer ken. Te leer dat een ry voetspore nie vir ons bedoel is nie. Jy val hak-toon, hak-toon langs my in en ons lag terug oor ons skouers vir die bakkende son.

Ons pad lei ons na plekke waar ons nooit gedink het ons sou wees nie. Van seesand tussen ons tone tot die moddergrond van die Hoëveld. Altyddeur word ons tree sterker, meer in pas met mekaar.

Nou staan ons op die heuwelkruin. Oor ’n paar maande staan ons voor ons Vader en maak ons harte, siele en pad vir altyd een.

Ons sal belowe om huppelend saam deur tapyt-gras en hobbelend deur duwwels te loop. Belowe om koelte te soek wanneer ons voete moeg raak en liefdesbalsem aan te smeer. Mekaar se pad so gemaklik moontlik te maak, rotse weg te rol, geselskap te wees, mekaar te dra as die ander nie meer kan nie. Maar bowenal, om altyd twee rye spore in gelid te wees …

Ek kyk af na my voete, hier en daar nog ’n letsel of twee, maar ryk van geskiedenis, vol belofte vir vorentoe. Ek kan nie wag om die res van my lewenspad langs jou te loop nie.

Hak-toon, hak-toon vorentoe …

Lief jou altyd.

Jou Jo’tjie