Eie stories

Joanita Botha van Hartenbos, skryf:

My Liefste,

Hartstog het my pen opgetel en vir jou ’n mooi liefdesbrief geskilder. Nooit genoeg ink en nooit genoeg papier kan my liefde aan jou verklaar. Die voorraad in my hart het my te hulp gesnel en die brandende verlange het my pen aangehelp. Jou afwesigheid laat my net meer aan jou dink, want jy behoort aan my hart.

Dit voel nog soos gister toe ons op die lughawe gegroet het, ons lippe wat stilletjies ontmoet het en my hand wat joune nie wou los. Soos twee stoute tieners het ons bly omkyk en uitkyk vir mekaar totdat ons nie meer daar was nie. Swaar het my voete gevoel met die wegstap, maar met die wete in my hart dat daardie ystervoël jou veilig sou wegneem en terugbring, het ek nie meer nodig gehad om terug te kyk nie. 

Liefde verstaan liefde. Geen woorde is nodig nie, want die woorde van my hart lees jy nie op my lippe nie, maar in my oë. Ja, niks kan weggesteek word nie, die liefde ontdek alles. Ook is die liefde geduldig en het geen kortpad nie. Soos C.J. Langenhoven gesê het …”As die kortpad die beste was, sou die hoofpad daar geloop het.”

Hierdie tyd sonder jou is soos ’n berg voor my, maar geen afdraand het sonder ’n opdraand gekom nie. Met die liefde as ons anker het ons al baie deurstaan. Snaaks is die liefde, dit laat jou vergeet van tyd, maar sodra jy weg is, is dit al waaraan ek kan dink. Wyl jou oë deur elke sinnetjie draf, onthou … ek is lief vir jou.

Alles in my en om my verlang na jou. Tot die weer mis jou. Die son het jou gaan soek en net die wolke agtergelaat. Juis die soort weer wat my altyd honger maak. Maar dis nie maklik om alleen kos te maak as jy gewoond is aan twee liefdevolle  hande om jou middellyf en ’n sagte stem wat kort-kort in jou oor liefdeswoorde fluister nie. Die saamproe om ’n lepel en jou oë wat wys hoe lekker die sous smaak. Ja, liefde laat jou pampoen anders proe. Ons verstaan mekaar so goed. Elke kyk en elke gebaar het geen tolk nodig, want wie kan tog die liefde vertolk behalwe die liefde homself?

Wanneer ek aan jou dink, draai jy my om en neem jy my terug na ’n bankie langs die strand op Fransmanshoek, met die wind wat saggies aan my wang vee. Ja, so sag is jou soene altyd vir my.

Skielik dink ek aan jou eerste vis. Jy wat verstrengel geraak het en ek wat wou help en hoe daardie vishoek in my vinger die trane uit my oë getrek het. Dit was jou warm, omgee-soene op my duim wat dadelik die hartseer uit my hart laat verdwyn het. Jou woorde sal ek nooit vergeet: “My eerste vis is toe jy!”

Die reën teen die ruit en die mistigheid neem my gedagtes terug na die ou Engelse dorpie, Hampshire, waar ons twee om die kolossale klippilare van Stonehenge gestap het. Ek onthou nog die kamera wat ek vergeet het en jy my speels wou pakgee, maar my nie kon vang nie. Met ratse treë en vinnige draaie het ek gedink ek het weggekom, totdat jy my gevang het. Pak slae sou nog kon doen, maar jy het my gekielie tot ek byna nie meer kon asem kry. Hoe lekker was dit nie, ek en jy in ’n vreemde land, met geluk en vreugde aan ons kant. Saamdoen is die antwoord, sedert die dag toe ons besluit het om een te wees.

Hoe bly is ek die liefdeswinde van die lewe het my in jou arms gewaai, want daardie liefde binne-in jou is vir my ’n wonderwerk, net soos die Skepper s’n. Dis vir my ’n voorreg om saam met jou oud te word.

Terwyl ek dan aan Vader Tyd se wysers hang om dit vinniger te laat draai, weet ek dis nog net ’n klein rukkie voordat die liefde jou weer by my voordeur gaan inwaai.

Jou vrou