Eie stories

Johan du Preez, ’n wewenaar van Virginia, skryf:

My liefste Saartjie,

Hoe wens ek nie ons was beeste op Pa se plaas nie. Jy sou die mooiste koei en ek die blyste bulletjie gewees het. Maar die belangrikste ding is, ons sou bymekaar gewees het. Jy en ek op Pa se plaas in die bo-kamp!

Maar ons was nie beeste nie en nou is dit net Pa en ek hier op die plaas tussen die beeste. Alleen. Pa is alleen en ek is alleen, en vandat jy weg is, is ons nog meer alleen. Ons praat nie eens meer met mekaar nie, want Pa het moed opgegee, omdat ek, nadat jy weg is, nie met hom wou praat nie.

Ek wou nie met hom of enigiemand anders praat nie. Ek was te kwaad omdat jy weg is. Kwaad vir Pa omdat hy jou nie hier kon hou nie. Kwaad vir myself omdat ek jou nie kon help nie. Ek was kwaad vir almal en vir alles. Is nou nog kwaad.

Saartjie, as ons maar net beeste was! Beeste hier op Pa se plaas! Dan sou Pa jou hier kon gehou het, want Pa weet alles van beeste af. Nadat Ma weg is toe ek nog ’n baba was, was dit maar altyd net Pa en ek en die beeste. Ons het maar al die jare so alleen reggekom en het nie veel erg aan iets anders as die plaas en die beeste gehad nie.

Jy’t agter op Pa se bakkie my lewe binnegery. Saartjie, die fotograaf wat deur die land gereis het om foto’s te neem, se karretjie het op die grondpad, naby ons plaas, vierwiel in die sand gaan vassteek. Pa, wat van die dorp afgekom het, het jou opgelaai en jou binne in my lewe in gery. Onthou jy nog, Saartjie?

Jy’t op die plaas gebly terwyl oom Ampie van die motorhawe gewag het vir motoronderdele uit die stad uit, sodat hy jou motor kon herstel.

Jou vrolike teenwoordigheid in die huis en op die plaas het die rustige voortbestaan van my en pa omvergewerp. Pa het gedurig gefrons en dikwels het ek hom betrap dat hy saggies met homself gepraat het. Toe ek hom daaroor uitvra het hy ongeduldig gemompel dat ek moet onthou “vrougoed is nie beesgoed nie”.

Maar Saartjie, ek het my nie te veel verknies oor Pa se vreemde gedrag nie, want jou teenwoordigheid het my sonsteek gegee en met die ontsteking in my harsingvliese het ek begrip van tyd en normale optrede verloor.

Ons troue, sommer voor die landdros, het nie Pa se seën weggedra nie, maar hy’t darem daarmee vrede gemaak. Wie kon in elk geval in onvrede met jou saam bly? Saartjie, jy’t Pa begogel, hom uit jou hand laat eet. Ek was soms jaloers oor jou en Pa se vrolike verhouding.

Saartjie, Pa wou hê ons moes op die dorp gaan bly toe jy hoog swanger was. Hy was bekommerd oor die slegte pad dorp toe. En met die reëntyd wat voorgelê het, was hy bang dat ons nie betyds by die hospitaal sou kom nie. Jy wou nie op die dorp gaan bly nie en het belowe om ons betyds te waarsku wanneer jou tyd sou aanbreek.

Ek en Pa het nie veel geweet van vroue en eerste swangerskappe nie … en ek was oortuig dat as iets verkeerd gaan, Pa jou sou kon help. Hy het honderde koeie met moeilike bevallings deurgehelp!

Die storm het ons middernag oorval en soveel reën het nog nooit op ons plaas geval nie. Ek en Pa het in die kombuis gesit en praat oor die beeste se veiligheid toe jy benoud uit die kamer roep.

Ons was net ’n paar treë by die plaashek uit, toe ons die eerste keer in die modder vasval. Met die tweede vasval skaars ’n kilometer verder het ek Pa gesmeek dat ons moes omdraai huis toe. Hy kon jou daar in die lig en warmte help, het ek gesoebat. Pa wou nie, het net aanmekaar gesê “vrougoed is nie beesgoed nie”.

My dapper Saartjie! Jy’t snakkend na asem my probeer kalmeer. Ons was amper op die dorp toe die trok sonder ligte teen ons vasry. Ek sal die vreeslike slag en jou gegil, voordat die donkerte my oorval het, nooit vergeet nie! Nooit nie!

Hier waar ek alleen by jou graf sit, wens ek dat ons beeste was. Jy sou die mooiste koei en ek die blyste bulletjie gewees het. Ons sou die gelukkigste beeste op Pa se plaas gewees het, en hy sou jou kon help met ons kalfie …

Maar ons was nie, Saartjie! Ons was nie beeste nie en nou is jy weg. En Pa en ek is meer alleen as ooit vantevore!

Osman