Eie stories

Jolene Visser van Century City (Kaapstad), skryf:

My eerste liefde:

Ek word steeds snags wakker met nagmerries en trane. Jy spook by my asof ek steeds in die eerste maand van opbreek-ellende is en tog is dit al twee jaar sedert … sedert daardie dag. Wat liefde was, is nou sooibrand op Valentynsdag.

Ek verlang na jou. Toe jy maande ná die tyd terugkom om versoening te vra, het ek helder gedink en geweet jy het my hart te seer gemaak. My hart was so seer dat ek nie meer op sy oordeel kon staatmaak nie. My hart wou nie met my praat nie, maar my kop wou. En ek het geluister.

Ek verlang na jou. Ek het stappie vir stappie aanbeweeg. Ek het nie geweet of dit stappies vorentoe of stappies terug dieper in hartseer in was nie, maar ek het beweeg. Verder van jou af. My hart het mettertyd geheel, my kop het gedink dis ’n gedane saak. Maar my hart het weer begin praat, op sy tyd, op sy manier, op sy voorwaardes. En wat hy vir my gesê het, moet ek mee saamleef. Maar ek moet dit met jou deel …

Ek verlang na jou. Ek het dit reggekry om iemand anders (ook) lief te hê. Maar moes ek eers van jou afstand doen om die ruimte vir ’n ander te maak? Ek sien jou saam met ’n jong blondine, julle lyk so gelukkig. Op Facebook word dit in my keel afgedwing, of dwing ek dit op myself af? Maar die nuwe liefde in my lewe lei my deur hierdie emosies. Ironies genoeg is hy ook ’n blondekop – dalk het ek en jy meer in gemeen as wat ons in vier jaar se tyd kon agterkom.

Ek verlang na jou. Ek verlang om te weet of jy gelukkig is, of jy darem nog soms aan my dink. Ek wonder of ek ooit weer in jou, in julle, gaan vasloop. Ek verlang om weer saam met jou te kan lag, al is daar twee nuwelinge in die prentjie. Ek wonder of jy ooit in my, in ons, gaan vasloop.

Ek verlang na jou. En ek is dankbaar vir alles wat jy my geleer het oor liefde, sonder jou medewete.

My nuwe liefde:

Ek dra hierdie liefdesbrief ook aan jou op. Jy is die heerlike melk wat my ma aanraai ek drink vir sooibrand. Jy is ook baie meer as dit …

Jy maak my gelukkig. Dankie dat jy die pleister was wat my hart geheel het. Jy het my hart gesond gemaak, al het hy soms goed gesê wat jy nie wou hoor nie. Jy en my kop het gelukkig nog altyd dieselfde taal gepraat.

Jy maak my gelukkig. My hart praat ook nou jou taal en ek sien weer die pienk, die rooi en oranje van liefde. Ons geniet die lewe saam, die eenvoudige unieke sonsopkoms wat elke nuwe dagbreek aankondig. Die maanlig val op ons albei soos die einde van elke dag afgekondig word. En dan sien ek weer uit na die volgende oranje gloei van nog ’n dag saam met jou.

Jy maak my gelukkig. Jy het my onverdeelde liefde verdien met die onverwagse blom, die onverwagse piekniek, die breedste glimlag wanneer ek dit die minste verwag en met jou hande van omgee wat my trane sagkens afvee … en dan glimlag ons saam.

Jy maak my gelukkig. Omdat jy die legkaartstukkies inmekaar laat val en diskreet die verlore stukkies byvoeg. Dis ’n mooi prentjie op die legkaart en ek sou dit nooit kon sien sonder jou nie. Nou sien ons dit saam. My hart gloei, my kop slaap sag en my lippe fluister “Gelukkige Valentynsdag, jy maak my gelukkig, ek is lief vir jou”.