Eie stories

“Jy kan enigiets hanteer wat met jou gebeur”

Leef voluit
“Albei my kinders was altyd positief en dít het my lewe draagliker gemaak. Ek het besef dís my pakkie, ek moet die beste daarvan maak. Ek moes intens leef saam met hulle, want ek het nie geweet hoeveel tyd ons saam het nie. Ek het báie gebid. Jy leer leef met die vrees dat jou kinders kan sterf.
“Ek is so dankbaar dat Melanie in Desember 2010 getroud is met Quintin le Roux. Sy werk op Klerksdorp, oefen gereeld en is gelukkig. Trevor het twee jaar ná sy hartoorplanting voluit geleef en was in sy skool se atletiekspan, sy hartswens. Op 18 Februarie 2010 het sy liggaam sy hart skielik verwerp. Hy is hierna aan ’n Berlynhart [’n meganiese hart wat jou kunsmatig aan die lewe hou] gekoppel . . . Drie maande later is hy dood omdat hulle nie betyds ’n skenkerhart kon kry nie.”

Die pad na lig
“Die drie maande voor Trevor se dood het ek ure met hom gesels. Hospitaalpersoneel het my in liefde toegedraai. Boeke deur Viktor Frankl het my laat besef die lewe kan álles van jou wegneem, maar jý kan kies hoe jy op dinge reageer.
“Ek ondersteun graag ander hartpasiënte en ouers wie se kinders met terminale en lewensbedreigende siektes gediagnoseer is. Sielkundiges verwys hulle dikwels na my omdat ek hul pyn verstaan, en dis vir ons almal terapeuties om daaroor te praat.
“Omdat mense so goed was vir my in die swaar tye wil ek nou weer uitreik na ander. Dié woorde inspireer my: To have suffered much in life is like knowing many languages – it gives you access to many people.