Eie stories

‘Ons het mekaar nooit op die naam genoem nie’ – SARIE-leser se aangrypende brief

KALMTE
Deur Isabella du Toit van Pretoria

Ons sit by die eetkamertafel, die een uit sy Ma se brekfiskamer op De Aar. Dennehoutblad en geelhoutkante, twee nuttige laaie en pote. Dennehout was toe ’n gesogte item uit die buiteland.

“Ek dink ek het longkanker,” sê hy. Sommerso. Nes ’n man.

Hy was nog altyd pure man.

Ek wil gryp na iets. Die wêreld tol, word bleek, dalk soos dit flits op Hiroshima. Dit lyk anders. Nothing will ever be the same again. Hoe moeg is ek vir daardie ou cliché.

Ek kyk na hom—my pure man. Slim, geniaal, begaafd, beskaafd en ordentlik.

(Hy het natuurlik gerook van hy sewe was, agter die kraalmuur.)

Selfsugtig ook. ’n Klip-in-die-bos-mens. Stook doelbewus moeilikheid en sit dan agteroor en kry groen skrefiesoë en vreeslik lekker. Hy is objektief, ’n bestudeerder van mense. Verbasend oplettend oor proporsies, byvoorbeeld.

“Hendrik het sulke kort armpies” of “Willem se oortjies is besonder klein.”

Maar nooit gemeen nie.

Toe ons eenkeer ’n sake-ete vir sy werknemers moes gee, wou ek weet hoe om name met manne te verbind.

“Van Zyl is mank. Regterbeen. Venter is kruppel. Linkerbeen. Celliers is soetskeel …” Ons kon nie verder nie.

Longkanker.

Hoe kan ’n man dit so plathand sê? Magtag. Hoe?

Wanneer?

Hoe kan dit waar wees dat mens weet jou asem gaan opraak?

Jare terug het dr. S. bo in die straat tog gesê, toe ek met die honde verbyloop: “Jou man se bors is nie verniet so mooi breed nie. Hy het emfiseem.”

Van een gewone oomblik, ná vyftig jaar saam, is ons in ’n ander dimensie. Die wêreld, en ons, het anders geword. Die lewe gaan nie meer net vanselfsprekend aan nie.

Ek weet wat ek moet doen. Net een ding is belangrik. Ek moet kalm bly. Vir hom en vir my en vir almal. My kinders en vriende en familie.

Ek moet blomme plant by die voorhek. Bakke jakopregops en madeliefies.

Ons praat nie veel nie. Ons het nog nooit veel gepraat nie. Ons verstaan mekaar. Hy is nie praterig en ook nie klaerig nie.

My pa, ’n Hollander, het ’n gesegde gehad. Ons het Engels gepraat omdat my Ma gesê het sy Afrikaans is te erg. “Well, my girl, then we’ll just have to get on with it.”

Dis moeilik om met longkanker aan te gaan. Dis onsigbaar. Onheilspellend. Dis ’n gemene besoedeling. ’n “Kodling-mot” van ’n siekte. Wat gebeur? Word die longsakkies dag vir dag verswak, verswelg, vernietig, verteer?

Verdrink?

Opgevreet?

Hoe voel dit?

“Hoe lank?” vra hy die onkoloog.

“Twee maande … twee jaar …”

Ek gryp na kalmte. Dalk is ons gelukkig? Wat sou geluk behels?

Hy onderwerp hom aan chemoterapie. Ses maande lank, met tussenposes.

“Hmmm,” sê dr. B, terwyl hy hand-op-die-ken peins oor die onheilspellende plate, vasgeklem op ’n ligskerm. Daar is vae vlakke van verteerde weefsel – die kruipende vyand. “Ek het gehoop op ’n beter resultaat. Ons sal maar ’n ander cocktail moet probeer.”

“Man, julle kan mos sien dit help nie,” sê my man met gebruiklike rustigheid.

“Dan is bestraling die ander opsie,” sê dr. B.

Bestraling klink vir my somehow na ’n vriendeliker behandeling.

“Kry tog spesiale room vir sy blaaie,” waarsku Des, ons wonderlike apteker.

Maar my pure man glo nie aan roompies nie.

’n Man wat bestraal word, kan drie meter ver kots.

’n Man met longkanker moet onvermydelik ’n suurstofmasjien gebruik. ’n Vrolike, maer vroutjie lewer dit af en jy word geleer hoe om dit in te stel, om die filter gereeld skoon te maak en nie ’n oop vlam, nie eers ’n romantiese kersie, naby aan te steek nie.

Jy raak gewoond aan die dreuning, dag en nag. Dis amper strelend.

Altyd daar.

Eentonig. Lewegewend. ’n Onvermydellike, gerustellende dreuning.

Eendag is hy onverwags opgeruimd en toegeneë.

“Hoekom is jy so f—-n vriendelik?” wil ek weet. Ons was nog altyd skertsend.

“Seker omdat ek nie meer kan f-k nie.”

***

Ná amper agtien maande merk hy op: “Pop. Dit gaan nou vinnig agteruit.” Ons noem mekaar nooit op die naam nie. Het nog nooit nie. Vreemd.

Hy versoek dat hy in ’n Joodse kis begrawe word. Eenvoudige geel dennehout met tou-handvatsels.

Ons hou hande vas in die nag. Sy hande verskraal, die vleis krimp weg. Word fyn, soos adellike meisiehande.

Dan word hy rusteloos en sien drogbeelde. Daar is dekkers op ons grasdak en hy sê hy kan vir Johannes deur die gras sien klim. Maar hy merk op: “Om te dink ek kan uit hierdie lieflike kamer na die Ewige Lewe vertrek.”

Dit tref my dat daar net twee dinge is wat hy moet hê. Altyd ’n glas water byderhand en ’n emmer vir die nood daarna.

Alles word moeite. Selfs tandeborsel. Selfs pille drink (daar is sestien soorte). Skoon en geskeer bly. Vars.

Voor hy Hospice toe gaan vir die laaste twee nagte wag ons vir die ambulans. Ek knip stilweg die verbasende sterk naels aan die fyn meisiehande.
Ons praat nie.

Ons het tot hier kalm gebly.

Sy hond, Jannie, klim saam in die ambulans.

Op sy grafsteen staan die eerste reël van sy oom Totius se laaste gedig, in potlood in ’n Psalmboek geskryf. Getiteld: “Op my Sterwensuur.” God sê ek het die kruis nou ver genoeg gedra. Albei is dieselde nag – jare uitmekaar – op 30 Junie oorlede.

In die hoek, onder, is sy laaste woord aan my, geprewel deur ongeskeerde lippe.

“Liefding.”

Ons het mekaar nooit op die naam genoem nie.