sr1101myselfhoofsbos29
Eie stories

KAMERSvol-stigter vertel: “Hier ontdek ek my kreatiwiteit”

‘Die groep maak iets in jou wakker,’ Amelia van Zyl van Stellenbosch het drie jaar gelede ’n e-pos uitgestuur na “mense wat interessant lyk” om saam met  haar deur Julia Cameron se The Artist’s Way te werk, ’n boek wat jou help om jou kreatiwiteit te ontgin.

Twee jaar later was Cameron se The Vein of Gold aan die beurt. Dié kring, bestaande uit agt vroue en een man,het uiteenlopende beroepe, maar hulle het een ding gemeen: die behoefte om meer bewustelik en kreatief te leef.

DIE BEGIN

Amelia: “Jy begin maar groen. Ek onthou ek het gewonder wat het my besiel om al dié mense te nooi … Veral nadat ek in die boek gelees het hoe party lesers se vrae mettertyd verander het – van: ‘Kan ek ooit ’n play skryf?’ tot: ‘Wie gaan die Emmy nominasiepartytjie hou?’ Vandag ís ons daar: Elkeen het ’n spesiale ding. Maar uiteindelik gaan dit oor die proses en nie die produk nie.”

DIE GEMENE DELER

Amelia: “Almal aanvaar verantwoordelikheid vir hul eie groei.”

Ina-Marie Kilian: “Die woord kreatief is misleidend. Dis nie noodwendig pottebakkery en verf nie. Ons herskep onsself heeltyd. Ons is nie groupies nie. Ons het versigtig een toontjie uitgesteek, en uiteindelik diep inmekaar gegroei.”

Winnie Nel: “Daar is ’n likemindedness. Ons neem nie ons eie sienings te ernstig op nie, die lewe het verskillende antwoorde.”

HOE DIT WERK

Amelia: “Jy werk aan die hand van die boek en kreatiewe tuis-oefeninge. Soos om ’n tydlyn op te stel oor ’n sekere tyd van jou lewe. Of om jou drome op 5 te vergelyk met huidige drome. Jy hou joernaal en gaan gereeld op ’n inspirerende afspraak met jouself.”

Ina-Marie: “In die sirkel kry elkeen ’n beurt om haar (of sy) ‘storie’ te vertel. Of dit nou jou oefeninge is of ’n hoofstuk wat jy opgesom het. Niemand lewer kommentaar nie. Daar is net stilte.”

Winnie: “Die huiswerk verg baie van jou. Ek het applous gekry as ek myne gedoen het! Die oefeninge is ’n sleutel wat jou slot oopsluit. Daar is ook tyd vir gesels, lekker eet, baie lag, interessanthede soos musiekterapie of kooksessies.”

DIE UITDAGINGS

Amelia: “Omdat dit ’n luistergroep is, moet jy jouself nogal dissiplineer, want jy wíl dalk iets sê. Stilbly skep vertroue. Die groep is nie krities nie, daar is nie reg of verkeerd nie. Die uitdaging kom as die reël oortree word.”

Ina-Marie: “Ek was eintlik opgewonde toe konflik ontstaan. Ek het besef as die groep eg is, sal ons hierdeur werk. Dit het maande en baie kopskuiwe geneem, maar ons het dit reggekry.”

HOOGTEPUNTE

Amelia: “Die eerlike stories en die energie van die groep staan uit. My man, Jan, was so geïnspireer deur wat die proses aan my gedoen het dat hy met ’n mansgroep begin het.”

Ina-Marie: “Julia maak iets wakker in jou. Maar dit verg harde werk en dissipline. Elkeen se proses is anders –nie almal lees die boeke ewe intens nie. Nog ’n hoogtepunt is die verhoudinge in die groep: Jy kry nie eerliker nie.”

Winnie: “Ek het nuut op Stellenbosch beland en effens rondgetas na my identiteit: Moes ek weer swot? En wat? Toe beland ek in dié groep en dit verander my lewe. Hulle waardeer my ligter kant. Ek weet dit wat ek nou doen, is reg – ek het my nering gevind in poppe, storievertelling en kinderdrama.”

WAT ONS GELEER HET

Groei gebeur as jy dinge doen, nie as jy net daaroor filosofeer nie.

Jy kan jouself altyd vernuwe, ongeag jou omstandighede.

Ons is almal in wese kreatief.

Die kern van wie jy is, verander nooit.

Ander se stories gee joune konteks.

Om kreatiwiteit te ontwikkel het jy ook ánder mense en tyd nodig.