Eie stories

Karen de Beer van Welgemoed, skryf:

My liefman

Ek wonder of jy weet hoeveel ek na jou verlang as jy kantoor toe gaan? Ek loop studeerkamer toe vir ’n vinnige vryf aan jou nek of loer net deur die glas om te kyk of jy nog asemhaal. En dan wag net jou stoel en rekenaar tot later se volsit. Party dae is ek so lief vir jou, en ander dae is dit beter as jy die hele dag by die kantoor is! Wie het gesê ’n vrou moet verstaan word? Maar verlang sal ek verlang.

Dit is vir my lekker om terug te dink aan ons ontmoeting 21 jaar gelede. Dit was regtig liefde met die eerste oogopslag. En met ons eerste soen het ek jou bril toegestoom. Ons het nog gelag daaroor. “When you’re hot, you’re hot.” Maar soos die lewe is, is dit nie altyd maanskyn en rose nie. Partykeer voel dit net donkerte en stink. Dog het die maanskyn en rose die herinnering van gloei en reuk wat aan mens se hart vassit. Dit help om die moeilike tye bietjie makliker te maak.

Ek dink so baie aan jou en wens dat jy eendag sal besef hoeveel ek, ons kleine wonderwerk en soveel ander mense jou waardeer en liefhet. Dat jy sal besef die lewe deel nie net dwarsklappe uit nie, maar ook “abundance” van soveel wonderlike oomblikke en seëninge. En vir elke dwarsklap was ons tog daar vir mekaar om die seer weg te vryf. Al was ons sommer kwaad vir mekaar omdat ons nie regtig vir iemand anders die kwaad kon wys nie. Ons het nog steeds mekaar se seer gevryf.

Daar is soveel goed in jou. ’n Goedheid wat jy partykeer nogal wegsteek. Ek weet nie of dit ’n man-ding en of dit net ’n jy-ding is nie. Bang vir oopmaak en eerder agter skanse van sinies bly.Jy het soveel talent en het soveel om te offer. Jy maak ’n daaglikse verskil in hierdie wêreld, in my lewe, in die lewe van ons kind, en in die lewens van jou studente wat jou sien as ’n mentor. Jy is nie net besig om my eggenoot, wonderlike pappa en “grumpy” professor te wees nie, jy help jong mense met hul toekomsdrome.

My manlief, kyk om jou. Kyk op. John Lennon het gesê: “Life is what happens while you are making other plans”. Ek waardeer dat jy oor die hede, toekoms en verlede stres, maar vir nou is ons hier. En vir nou is ek dankbaar dat ek jou as ’n man, eggenoot, vriend en lewensmaat in my lewe het. Jy laat my nog steeds lag, van frustrasie in trane uitbars, gelukkig voel en desperaat asemhaal. Jy hou my op my tone, maar laat my toe om ook slap te lê.

Ek verlang partykeer na ons 21 jaar terug. Of ek dit weer sou wou oorhê – heeltemal van voor af? Dinge anders doen? Eintlik nie – waar ons is nou is, is reg. Want ek is lief vir jou.  En die lewe is goed.

Jy is my held.

Soos altyd

Jou vrou